Eerste in hoofstad bekendgestel
Eerste in hoofstad bekendgestel

Eerste in hoofstad bekendgestel

Bruce Fordyce, die legende van padwedlope, se parkrun is nou ook op Windhoekers se voorstoep beskikbaar.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Drafgeesdriftiges kan môreoggend agtuur by die Windhoek Gholf- en Buiteklub aan die eerste sosiale byeenkoms van die Comrades-legende Bruce Fordyce se skepping, Southern African parkrun, deelneem.

Windhoek sal die derde dorp in die land ná Swakopmund en Walvisbaai wees wat die gewilde drafsessies op ’n Saterdagoggende aanbied. In April 2017 het Swakopmund die eerste dorp buite Suid-Afrika geword wat die toon aangegee het, waarna Walvisbaai in Februarie 2018 gevolg het.

Die beginsel is eenvoudig. Al die afstande is net 5 kilometer en al wat drafentoesiaste hoef te doen, is om met vasgeknoopte draf- of stapskoene op te daag en die 5 km kosteloos met ’n draffie of stappie aan te durf. Dit is nie ’n kompetisie nie. Die enigste kompetisie is tussen elke deelnemer en sy stophorlosie waar ieder en elk welkom is om in ’n veilige omgewing ’n gesonder leefstyl aan te knoop.

Voornemende deelnemers moet wel eenmalig vooraf by www.parkrun.co.za/register registreer en dan kan dié aspirant langasems op enige plek waar Fordyce se parkrun aangebied word in die pad val.

Fordyce sê: “ Almal is by die drawwery welkom en dit gaan oor mense se welsyn. Daar is geen wenners nie. Ons wil hê daar moet soveel mense as moontlik betrokke raak om deel van ’n regte gemeenskap te voel wat deur hierdie byeenkomste saamgesnoer word.”

Suid-Afrika het in November 2011 met 26 deelnemers sy eerste wankelrige treetjie in parkrun gegee, maar intussen het dit tot ’n gewilde tydverdryf ontwikkel. Die parkrun-konsep word deur ongeveer 50 000 mense by 221 venues oral in Suid-Afrika, eSwatini en nou ook Namibië op Saterdagoggende beoefen, waar vrywilligers as beamptes optree.

Die sport in Namibië val tans nog onder sy suidelike buurman se beheer, maar sodra die land genoeg byeenkomste oplewer, sal Namibië gewis sy eie identiteit kry. Drawwers wat môreoggend hul vellies of drafskoene vir die geleentheid by die Windhoek Buiteklub gaan vasknoop, word vriendelik versoek om ’n gedrukte kopie van hul registrasie saam te bring waarop ’n skandeerderkode verskyn. Met behulp van dié kode word persoonlike tye vir die toekoms vir elke deelnemer gestoor.

Volgens me. Michelle Wilson, parkrun-ambassadeur vir Namibië, word die byeenkomste in geheel deur vrywilligers georganiseer. Diegene wat belangstel om só betrokke te raak, kan [email protected] of Sammy Gorman by 081 438 1889 kontak.

Vir meer inligting kan www.parkrun.co.za/windhoek besoek word, of Wilson kan by 081 360 7007 gebel word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!