Eerste indrukke bly
Eerste indrukke bly

Eerste indrukke bly

Henriette Lamprecht
In ‘n ekonomie wat deur ’n depressie gewurg word, bly toerisme die een onveranderlike wat geld met reëlmaat in staatskoffers laat invloei. Van 2016 tot 2017 het toerisme met 2,2% gegroei, met meer as 1,6 miljoen buitelandse toeriste vir wie Namibië ’n vakansiebestemming van voorkeur was. Dié toeriste sluit inwoners van lande uit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) in, tot lande soos Brittanje, Frankryk, Amerika en Switserland.

Die vier groot passasierskepe wat onlangs in Walvisbaai se hawe vasgemeer het, het sowat 7 000 toeriste op Namibiese bodem voet aan wal laat sit. Sou elk van dié nuwe besoekers net ’n duisend Namibiese dollar op iets soos ’n rit op ’n vierwielmotorfiets woestynlangs, of ’n bootrit op soek na ’n dolfyn of ’n rob bestee het, was dit N$7 miljoen in plaaslike toeriste-operateurs se beursies.

Verskeie plaaslike inisiatiewe is veral oor die vakansieseisoen van stapel gestuur om besoekers, plaaslik of buitelands, te oortuig om hul geld juis hier te bestee en hul tyd te verwyl. En natuurlik te oortuig om met ’n volgende besoek weer dieselfde keuse te maak. Namibia Wildlife Resorts (NWR) is maar een voorbeeld en het kaarthouers oor die feesseisoen reuseafslag van tot 60% gebied.

Dit neem slegs sewe sekondes om ’n goeie eerste indruk te skep. Wat is die indruk wat by ’n Duitse besoeker bly wat vir die eerste keer deur die Noorde van die land toer en ’n rommelbestrooide Rundu binnery? Wat onthou ’n Fransman van die strand tussen Swakopmund en Walvisbaai? Die sonsondergang of die bondels bottels en plastiek wat saam met die branders uitspoel? Wat maak dat ek en jy en al die ander wat ons land se mooi as kuierplek kies, terugkom, keer op keer?

So sê ander: 20 Januarie 2019 - Rapport

Zim in ’n doodloopstraat

Die afgelope vyf dae was ’n wipwaentjierit vir Zimbabwiërs – sowel dié binne die land as in die diaspora.

Waaroor ’n mens bekommerd is, is nie net die wrede manier waarop die staat teen betogers opgetree het nie, maar ook die gesig van gewapende mans in gewone klere. Die bedoeling was om te protesteer om die landsburgers se frustrasies met ’n onbetrokke regering te toon. Inderdaad, die manier waarop die brandstofprysverhoging aangekondig is, die tydsberekening van die aankondiging, die president se optrede onmiddellik ná die aankondiging, asook die staat se groteske reaksie op die protes daarna, bevestig net hoe onbesorg en onverskillig hierdie regering is. Die frustrasies wat burgers in hul alledaagse lewe ervaar – brandstoftekorte, likiditeitskrisisse, kronkelende toue by vulstasies, werkloosheid – die lys is eindeloos – is elkeen ’n tydbom wat wag om te ontplof.

*Rapport

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer