Eerste lesbiërfees in Windhoek
Die Women's Leadership Centre (WLC) wil deur kuns, musiek, gedigte en 'n foto-uitstalling 'n stem aan lesbiese vroue gee.
Tanja Bause
“Ek is twee jaar gelede verkrag deur iemand wat ek vertrou het. Net oor my seksuele voorkeur. Ek is verkrag omdat ek lesbies is,” vertel me. Laina Nairenge van Otjiwarongo.
Nairenge is deel van 'n groep vroue wat tans in Windhoek is om haar storie by die eerste fees vir lesbiërs te deel.
Volgens haar wou sy twee jaar gelede van 'n dansplek af huis toe stap. 'n Goeie vriend het aangebied om vir haar veiligheid saam met haar te stap. Hy het haar toe in die bosse verkrag.
“Ek het nie eers die saak by die polisie aangemeld nie. Daar word teen ons gediskrimineer en die eerste opmerking sal wees: 'Hoe kan 'n man 'n man verkrag? Jy is mos 'n man.',” vertel Nairenge.
Sy het later uitgevind sy is swanger en haar eerste gedagte was om 'n aborsie te hê. “Ek het geboorte aan 'n dogtertjie geskenk. Toe ek haar die eerste keer vashou en die warmte van haar lyfie gevoel het, het ek besef ek het haar ontsettend lief.”
Volgens me. Boy Dons van Walvisbaai wil lesbiese vroue dieselfde as ander behandel word, omdat hulle “ook net mense is”.
“Wanneer ons by 'n kliniek, hospitaal of polisiekantoor instap, behandel ons net soos ander mense. Behandel ons met respek en ons sal julle respekteer,” sê Dons.
Die Women's Leadership Centre (WLC) het die fees gereël om lesbiese vroue deur kuns, musiek, gedigte en 'n foto-uitstalling 'n stem te gee.
“Ons hou die president aanspreeklik vir sy belofte vir 'n 'inklusiewe Namibiese huis waarin niemand uitgesluit voel nie'. Ons daag diegene uit wat steeds 'oorspronklike Afrika-kultuur en godsdienstige oortuigings' wil gebruik om ons regte en waardigheid te betwis,” sê me. Florence /Khaxas van WLC.
“As Namibiërs moet ons ophou om teen mekaar te diskrimineer en begin om mekaar te respekteer. Ons is immers almal Namibiërs, ongeag ons seksuele voorkeure.
“As ek vir 'n werksonderhoud gaan, word ek altyd gevra of ek 'n man of 'n vrou is. Daar word vir my gesê: 'Ons gee jou 'n tweede kans. Kom môre terug en trek soos 'n vrou aan.' Dis diskriminasie op grond van hoe ek aantrek. My klere doen tog nie die werk nie,” beaam Dons.
“Ek is wie ek is en ek hou van vroue. Jy kan my slaan en verkrag, dit gaan dit nie verander nie. Respekteer my net en hou op om my te probeer verander,” beklemtoon Nairenge.
Volgens me. Ronatjie Tjivera van Khorixas werk WLC sedert 2008 saam met lesbiërs in die land om aan hulle 'n stem te gee.
Volgens me. Wise Serogwe Hermengildis van Gobabis word daar teen haar en ander lesbiërs gediskrimineer, net omdat sy 'n broek kerk toe wil aantrek.
“Ons word aangesê om uit te gaan en terug te kom wanneer ons rokke aanhet,” vertel Hermengildis.
“Ons nooi almal wat lesbies is, hul vriende en ook hul families om die fees saam met ons te kom geniet,” sê /Khaxas.
Vandag om 19:00 vind onder meer verskeie musiekuitvoerings deur lesbiese vroue by die Warehouse-teater plaas. Saterdag word die fees by Paaltjies in Brakwater afgesluit met 'n pretdag vir familie en vriende. Die verrigtinge begin om 09:00. Toegang tot vandag en Saterdag se verrigtinge is gratis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie