Eerste Moslemse burgemeester vir Britse hoofstad
Eerste Moslemse burgemeester vir Britse hoofstad

Eerste Moslemse burgemeester vir Britse hoofstad

Jacqueline Louw
Sadiq Khan, die seun van Pakistani-­immigrante, het Zac Goldsmith, die multi­miljoenêrkandidaat van die Konserwatiewe party, in die tweede ronde van die burgemeesterverkiesing­stryd met 57% of 1.3 miljoen stemme geklop, wat hom die grootste persoonlike mandaat van enige Britse politikus gee.
Khan het vooruit­gestoom na oorwinning ten spyte van herhaaldelike beskuldigings van sy opponente, insluitende eerste minister David Cameron, dat hy met Islamitiese ekstremiste simpatiseer – wat hy ontken.
“Hierdie verkiesing was nooit sonder omstredenheid nie en ek is so trots dat Londen vandag hoop bo angs en eenheid bo verdeeldheid gekies het,” het die 45-jarige Khan tydens sy aanvaardingstoespraak onder toejuiging van sy ondersteuners gesê.
“Ek hoop dat ons nooit weer voor so ’n skrille keuse sal staan nie. Vrees veroorsaak nie dat ons veiliger voel nie - dit maak ons swakker - en die politiek van angs is eenvoudig nie welkom in ons stad nie.”
Tydens sy toespraak het Paul Golding, die burgemeesterskandidaat van die verregse Britain First party, die rug op hom gekeer.
Die oorwinning het die Arbeidersparty laat moed skep ná terugslae Donder­dag in die streekverkiesings oor Brittanje, terwyl ’n skeuring oor anti-­Semitisme binne die party voortduur, wat groot skade aan leier Jeremy Corbyn berokken het.
“Geluk, Sadiq Khan. Ek kan nie wag om saam met jou te werk om ’n Londen te skep wat regverdig vir almal is nie!” het Corbyn getwiet.
Khan het die charismatiese Boris Johnson vervang en daardeur die Konserwatiewe party se agt jaar lange greep op die Londense burgemeesterskap verbreek, ’n posisie verantwoordelik vir vervoer, behuising, polisiëring en die bevordering van ekonomiese ontwikkeling.
Die New Yorkse burgemeester, Bill de Blasio, was van die eerstes wat sy gelukwensinge aan sy “mede- bekostigbare behuisingskampvegter @SadiqKhan” getwiet het. “Ek sien uit daarna om saam te werk!”
Paryse burgemeester Anne Hidalgo het op Twitter bygevoeg Khan se “humanitarisme en progressiwiteit sal Londenaars­ beguns­tig”.
Die oorwinning was ook verwelkom in Tooting, ’n multi-etniese gebied suid van Londen waar Khan woon en waar hy in ’n sosiale behuising­skema grootgeword het voordat hy ’n menseregte­prokureur en later ’n parlementslid geword het.
“Sadiq Khan sal ’n verenigende faktor in Brittanje wees omdat hy ’n Moslem, ’n immigrant en van die werkersklas is; hy verstaan dus werkersklasmense en kan met hulle identifiseer,” was die mening van Shahzad Saddiqui, ’n Londense sakeman.- News24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!