Eerste nag in selle vir Boulter
Eerste nag in selle vir Boulter

Eerste nag in selle vir Boulter

Ester Kamati
Ester Kamati op Outjo – Die invloedryke Britse miljardêr mnr. Harvey Eric Boulter (51) se aansoek om borgtog is gister in die landdroshof op Outjo van die hand gewys en hy moes sy eerste nag sedert die vermeende moord op sy plaasbestuurder, mnr. Gerhard van Wyk, in polisie-aanhouding deurbring.

Landdros Immanuel Udjombala het bevind dit is nie in belang van geregtigheid om hom op borgtog vry te laat nie.

Boulter is in hegtenis geneem ná 'n skietvoorval om 'n braaivleisvuur op sy plaas Kaross naby Kamanjab op 27 Februarie vanjaar. Hy is self tydens die voorval in die hand getref, en was tot nou in die hospitaal.

Udjombala het gesê die getuienis voor die hof toon die staat het 'n sterk saak teen Boulter.

Die landdros het bygevoeg die staat sal waarskynlik sy saak teen hom moet bewys.

Die be­skuldigde het nie aangedui hoe hy tydens sy verhoor op die moord- en ander klagte teen hom gaan pleit nie. Dit sluit in die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie en regsverydeling, alternatiewelik poging tot regsver­ydeling.

Me. Marina de Jager het verlede week namens wyle Van Wyk se familie getuig hulle is nie daarteen gekant dat hy borgtog kry nie. Udjombala het egter gesê dit beteken nie die staat moet dieselfde doen nie.

Hy het benadruk moord is 'n misdryf teen die staat en die staat, as geraakte party, se belange geniet voorrang.

Hy het verder gesê Boulter moes as eienaar/voorsitter van die maatskappy SX Arms and Ammunition van beter geweet het as om 'n vuurwapen wat net vir demonstrasie gebruik mag word, by 'n familiebraai op hom te dra.

Udjombala het ook daarop gewys dat Boulter na die Van Wyks as “familie” verwys het.

Die nadoodse ondersoek toon Van Wyk se dood is deur 'n skietwond in die abdomen veroorsaak.

Hy het verder in sy uitspraak gesê volgens die verklaring van wyle Van Wyk se vrou, Alta, het Boulter die opset gehad om sy vuurwapen uit die holster te trek. Verder het die hof gehoor Boulter was die aggressiewe een en het Van Wyk se seun, Gerhard junior, aangerand. Dié optrede het sy pa genoop om tussenbeide te tree.

Verder het die hof ook gehoor vir die vuurwapen om te kon afgaan, moes dit gespan word en die sneller moes getrek word.

Udjombala het ook daarna verwys dat Boulter hom op sy swygreg beroep het toe hy oor die meriete van die saak kruisondervra is.

Hy het gesê die hof lei af uit die sielkundige verslag wat voorgelê is, dat die behandeling wat hy kry nog lank kan voortduur en dat sy aanhouding nie die behandeling of sy gesondheid sal benadeel nie.

Boulter het getuig hy bring 85 persent van sy tyd in Namibië deur en dat hy nie met die getuies, van wie sommige op sy plaas woon, sal inmeng nie. Hy het aangedui hy sal in Windhoek tuisgaan en hom daagliks by die polisie aanmeld.

Hy het vantevore etlike jare in Hongkong, Amerika en die Verenigde Arabiese Emirate deurgebring. Boulter se drie kinders woon in Amerika.

[email protected]


FOTO
Mnr. Harvey Eric Boulter (51, links) gister in die landdroshof op Outjo waar borgtog hom geweier is. By hom is sy prokureur, mnr. Evert Gous. Foto Ester Kamati

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!