Eerste plaaslik geteelde Wagyu-osse geslag
Die plaaslike Wagyu-bedryf is weliswaar nog in sy kinderskoene, maar die eerste osse is al Vrydag geslag.
Ronelle Rademeyer – 'n Nuwe hoofstuk is Vrydag vir die Namibiese beesvleisbedryf ingelui toe die eerste twee volbloed Wagyu-osse by Meatco geslag is.
Wagyu is die generiese naam van die Japannese beesrasse wat bekend is vir die goeie binnespierse vetneerlegging (marmering) wat dit bottersag en geurig maak.
Dit word allerweë as die kaviaar van beesvleis beskou. In Japan staan die vleis as “Kobe-bief” bekend.
Die vleis word vir nismarkte geproduseer en behaal heelwat hoër pryse as ander beesvleis.
Dié twee osse is plaaslik deur middel van internasionaal erkende en geregistreede genetika geteel, sê mnr. Sarel du Toit van LW Wagyu van Mimosa Farming by Dordabis. Hy sê hy het hulle met die semen van die bul, Bentson KI140018, geteel. Die osse weeg saam meer as 900 kg, sê hy.
“Die eerste genetiese materiaal is in Oktober 2017 ingevoer en talle kunsmatige inseminasieprogramme is gedoen vir die omskakeling van kommersiële kudde (Beefmaster-Sussex-kruisings) na Wagyu-genetika.”
Du Toit sê nog 'n eerste vir die Nambiese Wagyu-bedryf is die ingebruikneming van 'n internasionale graderingstelsel, Master Beef Scanning.
“Hierdie gradering word anders gedoen en is geskoei op die kwaliteit van die vleis,” sê hy.
Die vleisgradeerders van die Vleisraad van Namibië sal vandag en môre opleiding hierin ontvang.
Verder sal blokmanne by Meatco en Hartlief môre en Woensdag opgelei word in hoe Wagyu-karkasse benut moet word sodat niks verlore gaan nie.
“Die opleiding word gedoen volgens die internasionale versnitttingstandaarde en -metodiek,” sê Du Toit.
Die verwerking en die verspreiding van die geslagde karkasse sal onder leiding van Hartlief Namibia en Desert Wagyu plaasvind.
Die registrasie van die Namibië Wagyu-telersgenootskap by die Namibiese Stoettelersvereniging het geskied onder leiding van 'n telersgroep bestaande uit mnre. Johan Orffer, Andries Schutte, Hennie Kruger en John Rabie.
Ondersteuning en leiding is vanaf die Suid-Afrikaanse Wagyu-telersgenootskap ontvang en meer spesifiek van dr. Michael Bradfield, die stigter van Afrika se Breedplan, sê hy.
Namibië Wagyu word tans deur twee lede op die Wêreld- Wagyu-raad verteenwoordig.
“Dit gee vir die Namibiese Wagyu-bedryf en sy telers toegang tot wêreldklas-inligting, spesialiste in die nismark asook blootstelling tot die internasionale Wagyu-bedryf.”
Kwaliteit word gewaarborg deur die Farmer Assured Beef-handelsmerk wat deur die Namibiese Vleisraad en Gesertifiseerde Wagyu Beef (RSA) onderskryf word.
“Die twee entiteite is gebou op die kernwaardes van volhoubaarheid, egtheid, naspeurbaarheid en kwaliteit van die produk onder toesig van die Namibiese Wagyu-telersgenootskap. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie