Eerste proewe lewer resultate

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die eerste ten volle geoutomatiseerde toetsstasie in Afrika wat opnames maak van die voerdoeltreffendheid onder beeste, is op 14 Julie amptelik op die plaas Okawatuta naby Hochveld geopen.
Terselfdertyd is die toets van die eerste 85 bulle by die GenTecSol netto-voerinname toetsstasie reeds op 23 Mei afgehandel, terwyl ‘n volgende groep bulle tans in die toetsfase is. Die eerste bulle het van mnre. Ebbi Fischer se Wokuma Brahmaan-stoet asook Mecki Schneider se Okabra Brahmaan-stoet gekom met FNB Namibia as borg.
Schneider het gesê die toetsstasie sal in die toekoms bulle van telers inneem om te toets en dit benodig ‘n minimum van vyf diere van twee vaars. Sodoende sal vergelykings ook tussen rasse getref kan word.
“Dit is egter opmerklik dat meer verskille binne ‘n enkele ras as tussen verskeie rasse bestaan,” het hy gesê.
Die groep van 55 bulle wat tans in die toetsfase is, het reeds vyf weke in die twee krale bestee en is tussen 12 en18 maande oud.
Volgens Rael Jacobs, wat die GenTecSol bestuur en ‘n praktiese demonstrasie tydens die openingsdag gelewer het, dui die resultate daarop dat groter bulle nie noodwendig die beter presteerders is nie.


Eerste resultate
Me. Alison Sunstrum, die uitvoerende hoof van GrowSafe in Canada, het tydens die amptelike opening gepraat oor die GrowSafe-stelsel wat gebruik word, asook oor die eerste afgehandelde proef waarvan die resultate met die stelsel ingesamel is.
“Die topdier in die eerste proewe op Okawatuta, naamlik 15-0072OKB, het 4,39 kg voer gevreet vir elke een kg wat hy opgetel het. Hy was in groep drie ingedeel en daar was altesaam vier groepe,” het Sunstrum gesê.
“Nog ‘n jong bulletjie in groep twee se voeromsetverhouding was 4,67:1,” het sy gesê.
Sy het getoon hoe twee diere wat fenotipies baie dieselde lyk, sy voeromsetverhoudings drasties verskil in die sin dat een se verhouding 4,22:1 is, terwyl die ander soortgelyke bees se omset 6,11:1 was.
Sunstrum het ook getoon hoe die onderskeie groepe diere wat aan die eerste proef deelgeneem het, se gemiddelde daaglikse gewigstoename gewissel het – alles funksies wat in die GrowSafe-stelsel ingebou is.
“Groep een het sowat 1,35 kg per dag toegeneem, maar groep twee het ‘n groot variasie gehad: Hoewel hul gemiddelde gewigstoename 1,4 kg per dag was, het sommiges net sowat 1,1 kg per dag toegeneem, terwyl ander tot 1,7 kg toegeneem het.
“Die diere lyk fenotipies almal baie dieselfde en dit is eers wanneer jy begin meet, wat jy die verskille begin agterkom.
“Ons is egter meer geinteresseerd in hul daaglikse voerinname. Onder die vier groepe wat ons vir die proef gebruik het, het sommige beeste 7 kg per dag gevreet, terwyl ander 8,25 kg per dag gevreet het.
“Die gemiddelde verhouding tussen voerinname en gewigstoename tydens die proef was 5,5 kg:1 kg in groep een asook in groep twee, terwyl groep drie en vier se verhouding onderskeidelik sowat 5,25 kg:1 kg was.”
Sunstrum het grafieke getoon waarin al die onderskeie beeste in kwadrante ingedeel is volgens hoeveel hulle vreet asook hoeveel gewig hulle aansit.
“Die grafiek identifiseer jou diere met ‘n lae residuele voerinname en ‘n hoë gewigstoename – die mees produktiewe diere. Dit onderskei dus dié diere van ander wat swak vreet en swak gewig aansit, asook die wat baie vreet, maar ‘n swak gewigstoename het.”


Die stelsel: Meet van voerinname
Sunstrum het verduidelik die GrowSafe-stelsel werk deur die beeste van elektroniese oorplaatjies te voorsien.
“n Antenna word in die rand van die voerbak ingebou en die stelsel meet dan elke sekonde hoeveel voer uit die bakke gevreet word of andersins verdwyn. Al die data word draadloos na ‘n rekenaar oorgedra, wat met die internet verbind is.
“Die rekenaar het ook sagteware wat alle data outomaties ontleed.
“Elk van die stelsels versamel daagliks sowat 2 000 inligtingspunte. Die versameling van só baie inligting help met akkuraatheid. Boonop meet ons die inligting in die ope lug waar wind, reën en sneeu in die voerbakke kan beland en data kan beïnvloed. Terselfdertyd kan ander diere soos voëls en rotte ook van die voer vreet.”
Sunstrum het ‘n foto gewys van een van die GrowSafe-stasies by die Universiteit van Missouri, waar hordes voëls op die voerkraal se heining sit en die voer vreet.
“Ons moet weet hoeveel voer hulle vreet en ook as mense byvoorbeeld verbyloop en ‘n handvol kos optel. By die Universiteit van Illinoishet verdwyn sowat 2% van die voer daagliks as gevolg van voëls wat dit vreet. Daarom is dit belangrik om per sekonde data in te samel.”
Sunstrum sê nog ‘n rede waarom die stelsel soveel data insamel, is om inligting van individele diere se gedrag in te win.
“Elke bees het ‘n digitale ‘vreethandtekening’ – wat insluit hoe vinnig en gereeld die dier vreet, watter tye van die dag dit vreet, hoe groot die happe kos is wat hy neem en hoeveel druk hy op die voerbak uitoefen.
“Dit verklap byvoorbeeld ‘n individuele bees se dominansie en agressie asook die hiërargie in ‘n groep,” het sy gesê.
Sy het ‘n voorbeeld gewys waar gemeet is hoe sekere beeste sowat 160 g voer per minuut ingeneem het, terwyl nog ‘n ander 250 g per minuut gevreet het en ‘n derde 320 g per minuut.
“Die stelsel hou rekord van hoeveel voer daagliks in die bakke geplaas word en ook hoeveel voer die bakke verlaat.
“Die sagteware op die rekenaar werk daagliks outomaties diere se individuele inname uit en vergelyk dit ook met die groep waarin die dier dit bevind. Dit dui ook vir jou aan as ‘n dier ‘n ruk lank nie gevreet het nie en moontlik siek kan wees.
“Ons kan sodoende tot vier dae voor ‘n dier begin simptome toon, agterkom dit word siek. So ook kan jy met die stelsel ‘n siek bees identifiseer, 24 uur voor dit begin koors kry,” het Sunstrum gesê.
Sy het ‘n voorbeeld gewys waartydens die stelsel agtergekom het dat ‘n bees nie soos normaal elke dag 12:00 kom vreet het nie. “Binne agt ure kon ons dus vasstel dat die bees opgeblaas is.”
“Al ons foutsporing op die stelsel is outomaties. Ons weet ons werk met plase oral in die wêreld wat nie noodwendig ‘n rekenaarspesialis in diens het nie.”
“Die internet stel ons in staat om op enige plek en enige tyd altyd beskikbaar te wees. Ons het reeds stasies in 26 Amerikaanse state asook in Kanada en Meksiko opgerig.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!