Eerste reëns sorg vir sopnat suidweste

Die suidweste van die land juig ná dié gebied goeie reëns sedert Sondag ontvang het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Weervoorspellers sê die laedrukstelsel wat dié seisoen se welkome eerste reëns gebring het, is besig om op te klaar.

Hoewel dit beteken die kanse vir reën in beide Namibië en Botswana verswak, blyk dit die reënweer het groot dele van die land bereik.

Volgens die Namibiese weerkantoor se amptelike reënsyfers het Rehobtoh die meeste reën (31,6 mm) teen gisteroggend ontvang, gevolg deur Mariental (30 mm) en Nkurenkuru, wat 26 mm ontvang het.

Amptelike reënsyfers dui aan Rundu het 4 mm reën ontvang en Okongo 6,8 mm.

Die weerkantoor het 10,4 mm by Windhoek se hoofkantoor en 6,8 mm by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gemeet. Gobabis het 3 mm ontvang en Keetmanshoop 2,8 mm.

Intussen is groot reënbuie en selfs hael suidwes van Windhoek aangemeld en is pragfoto’s op sosiale media gedeel. ‘n Leser het laat weet Helmeringhausen se reënmeters het gisteroggend op 100 mm gestaan.

Mnr. Wicus Meyer het op die Facebook-blad “Reën In Namibia” geskryf die plaas Namibfontein, wat suidwes van Usakos geleë is, het 57 mm reën teen Maandagmiddag ontvang, terwyl mnr. Izak Van Lill gistermiddag laat weet het dit het 46 mm op Solitaire gereën.

Mnr. Peter Dirks het gisteroggend laat weet hy het 25 mm op Karibib gemeet en me. Trysie Kannemeyer het 52 mm op die plaas Dassiesfontein naby Mariental gemeet – terwyl dit steeds onophoudelik gereën het.

Mnr. Christo Swarts het gisteroggend gesê hulle het heerlike sagte reën deur die nag op Mariental ontvang en dit reën steeds lekker.

“Tans staan ons op 30 mm. Nog 26 mm, dan is dit net soveel soos laas jaar se hele seisoen!”

Me. Hellene Schnabel het gisteroggend gesê sy het 30 mm op hul plaas 140 km suidoos van Windhoek gemeet.

Ander Facebook-gebruikers het gesê dit reën reg rondom Maltahöhe, terwyl video’s van onder meer die Hudup-, Schlip-, Tsauchab-, Tsondab- en Swakoprivier in vloed opgelaai is. Die Kalkrandpan het ook reeds baie water gehad.

VOORUITSIG

Weervoorspellers is in ooreenstemming dat kanse op reën nou verminder– dienooreenkomstig met voorspellings vroëer vandeesweek.

Die Namibiese weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Richard Nashikaku, het gesê teen môre kan geïsoleerde donderstorms in die Noordweste verwag word, met die moontlikheid van enkele reënbuie in die Khomasstreek.

“Vrydag kan enkele reënbuie in die noordweste van die land voorkom. Geen reën word egter vir die komende naweek verwag nie,” het Nashikaku gesê.

Volgens die weervoorspelling wat Weather Today se mnr. Mike Berridge op Facebook gedeel het, is die groot antisikloon wat tans oos van die suidpunt van die Afrikavasteland lê en gehelp het om reënweer na Namibië te bring, besig om te verswak.

Tans beweeg dit egter baie stadig na die Indiese Oseaan en bring dit ‘n droë, sterk suidewind oor groot dele van Suid-Afrika.

“‘n Sterk noordooswind in die westelike binneland dryf tans vog na die kus, wat beteken donderweer kan na verwagting in Lüderitz en suid van Walvisbaai voorkom,” het hy gesê.

Hy het gesê ‘n front van koel lug oor die ooste van Namibië is steeds aktief, wat tot bewolkte toestande en ligte reën langs die Namibië-Botswana grens kan lei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!