Eerste swartpootwildekat kry nekband

Navorsing oor die kleinste kiets ter wêreld is nou volstoom aan die gang in die Suide.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Daar is geskiedenis gemaak toe Namibië se eerste swartpootwildekat vandeesweek met 'n nekband toegerus is.

"Om die klein katjies op te spoor, is een ding, maar om hulle te vang, is 'n ander. Ons vang hulle met nette, maar hulle is rats en vinnig," het prof. Morgan Hauptfleisch, stigter en hoof van die Biodiversiteit-navorsingsentrum van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), aan Republikein gesê.

Die eerste swartpootwildekat - 'n jong, volwasse wyfie van 'n skrale een kilogram - is Maandagaand in die omgewing van Grünau met 'n nekband toegerus om vir navorsingsdoeleindes gemonitor te word. Sy is Prima gedoop.

Prima is terselfdertyd geweeg, gemeet en bloedmonsters is geneem.

"As ons vier katte met nekbande kan toerus, sal ons verheug wees. Dit is die begin van 'n langtermynprojek."

Hauptfleisch se passie oor die kietsie is aansteeklik: "My veld is breed ekologies, maar dié geheimsinnige mini-luiperdjies los 'n ewige indruk op enige iemand wat hulle sien."

Hy sê hy is geensins 'n katliefhebber nie, "maar hierdie katjie is betowerend".

Hauptfleisch, navorser Martina Küsters en dr. Alex Sliwa, kurator van die Keulen-dieretuin in Duitsland, het 'n jaar gelede n kein bevolking swartpootwildekatte naby Grünau en die Visrivier-canyon gekry.

"Daar is tot op hede geen ekologiese of fisiologiese inligting oor die katjies in Namibië beskikbaar nie," sê Hauptfleisch.

Hy sê Sliwa het 25 jaar gelede begin met 'n studie in die Kimberley-gebied en al die kennis oor die swartpootwildekatte kom van daardie projek.

"Ek het hom destyds as student bygestaan en ons praat nou al vyf jaar oor die moontlikheid om die grootpoot wildekatte in Namibië op te spoor en te bestudeer."

Hauptfleisch sê na verwagting sal die swartpootwildekatte in Namibië se prooi, bewegings, gedrag en lewensiklusse heelwat van die Suid-Afrikaanse bevolking s'n verskil.

"Dit blyk reeds of die katjies kleiner is en effe ander kleure as dié in Suid-Afrika het."

Volgens Hauptfleisch is die swartpootwildekat die kleinste kat ter wêreld en as weerloos geklassifiseer.

"Volwasse swartpootwildekatte weeg tussen 1,2 kg en 1,8 kg en daar is tussen twee en drie katjies in ’n werpsel.”

Die span van die Black-footed Cat Working Group wat vir 'n week in die Grünau-omgewing werk, is Sliwa, Hauptfleisch, Kuester, Beryl Wilson van die McGregor Museum in Kimberley, drs. Jason Herrick, 'n genetika–wetenskaplike van die Omaha-dieretuin in Nebraska, Nadine Lambersky, 'n spesialis-veearts, Axel Hartmann, veearts van die ministerie van die omgewing en toerisme, en navorser Ndele Shipala.

Nust se Biodiversiteit-navorsingsentrum het vir Shipala, ’n oudstudent, as navorser aangestel om die kietsies met hul nekbande te volg, te monitor en waar te neem.

Auas Motors het vir die navorsingspan 'n voertuig geskenk en ander koste word deur die Omaha-dieretuin geborg.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!