Eerste tree gegee vir Shoprite-Steinhoff-troue in Afrika
In September het Christo Wiese gesê dit sal ''n “natuurlike ontwikkeling” wees as Steinhoff en Shoprite saamsmelt.
Niel Joubert - Christo Wiese het die eerste stap gegee om Shoprite en Steinhoff se bedrywighede in Afrika te laat saamsmelt. Shoprite en Steinhoff se aandeelpryse het Woensdag albei geval ná dié nuus. Die aankondiging behoort egter nie as 'n verrassing te kom nie en volgens Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Asset Management, word daar al geruime tyd in dié rigting gepraat. Wiese en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die twee grootste aandeelhouers in die twee maatskappye, het gesprekke begin oor die moontlike kombinasie van hul onderskeie kleinhandelafdelings in Afrika, het die maatskappye Woensdag aangekondig. Wiese se belange word gehou deur Titan Premier Investments, 'n maatskappy wat beheer word deur 'n familietrust van Wiese. Hy is ook die voorsitter van Steinhoff én Shoprite. In September het Wiese gesê dit sal 'n “natuurlike ontwikkeling” wees as Steinhoff en Shoprite saamsmelt. Steinhoff het einde 2014 met nog 'n groep waarin Wiese die grootste aandeelhouer is, Pepkor, saamgesmelt. Sedertdien het ontleders 'n paar keer gegis dat Wiese en Markus Jooste, uitvoerende hoof van Steinhoff, so 'n transaksie beoog. Whitey Basson, wat in Oktober sy uittrede as uitvoerende hoof van die Shoprite-groep aangekondig het, was blykbaar nie te vinde vir so 'n transaksie nie. Onsekerheid Shoprite se aandeelprys het Woensdag 7,2% laer op R178,97 gesluit en Steinhoff se aandeelprys was 7,1% laer op R70,58. “Onsekerheid oor die finale aandeleruilverhoudings het die aandeelprys van sowel Shoprite as Steinhoff laer gedruk,” sê Du Plessis. Beleggers is ook onseker of die transaksie werklik waarde sal ontsluit of toevoeg, sê hy. “Dit is 'n groot skuif,” het Wayne McCurrie, fondsbestuurder van Ashburton Investments, aan Reuters gesê. “Dit gaan beslis die kleinhandelomgewing in Suid-Afrika verander omdat hierdie twee groot groepe is wat bymekaarkom.” Die doelwit is om 'n gediversifiseerde Afrika-kleinhandelmaatskappy, wat hulle voorlopig Retail Africa noem, te stig met beduidende skaal en internasionale geografiese reikwydte en wat as die “kleinhandelkampioen van Afrika” beskou kan word, sê die maatskappye op die JSE se nuusdiens, Sens. Retail Africa “Die visie om Retail Africa te skep, wat 'n formidabele entiteit sal wees, en met sy wortels sterk gevestig in Afrika, word deur die OBK sowel as Titan gedeel. Dienooreenkomstig het albei aandeelhouers aangedui dat hulle die inisiatief ten volle ondersteun wat kan lei tot die totstandkoming van Retail Africa.” Retail Africa sal aandeelhouers 'n volhoubare onderneming bied en waar groeigeleenthede en verbetering in marges groter is as die huidige individuele ondernemings. Retail Africa sal die grootste kleinhandelaar in Afrika wees en met enige ander internasionale kleinhandelaar kan meeding, sê die maatskappye. Die saamgesmelte maatskappy sal sowat 186 000 mense in diens hê. Volgens die Sens-verklaring is die verwagting dat die transaksie nie sal lei tot werkverliese nie. Die nuwe maatskappy sou op 'n pro forma- gekombineerde basis inkomste van sowat R200 miljard gehad het in die jaar tot einde 30 Junie 2016, met 'n sterker balansstaat, sê die maatskappye. Ingevolge die voorgestelde transaksie sal Shoprite Steinhoff se kleinhandelbedrywighede in Afrika koop, onder meer bestaan uit Pepkor Africa, JD Group en Tekkie Town. Pepkor Africa besit onder meer Pep SA, Ackermans en Shoe City en JD Group onder meer Russells, Bradlows, Incredible Connection, en Hi-Fi Corporation. Shoprite sal nuwe gewone aandele aan Steinhoff uitreik vir die koopsom, ingevolge waarvan Steinhoff 'n beduidende belang in Shoprite sal hou. Volgens die maatskappye sal die waarde van Steinhoff se kleinhandelbedrywighede in Afrika onderhandel word en sal die beste belang van Steinhoff en Shoprite se aandeelhouers in ag geneem word. Transaksie Volgens die Sens-verklaring het Steinhoff 'n ooreenkoms aangegaan met die OBK en Titan om hul belange in Shoprite te koop as deel van die voorgestelde samesmelting in die vorm van 'n aandele-uitruiling, wat uiteindelik daartoe kan lei dat Steinhoff beheer van die nuwe maatskappy sal kry. Daar kan moontlik ook van Steinhoff vereis word om 'n aanbod aan ander Shoprite-aandeelhouers te doen gegrond op dieselfde ruilverhouding om hul gewone aandele in Shoprite te bekom. Indien dit die geval is, sal hierdie aanbod in die vorm wees van 'n aandele-uitruiling en dus sal dié beleggers Steinhoff-aandele in ruil vir hul Shoprite-aandele kry. Aandeelhouers in Shoprite sal egter ook kan kies om hul belang in die genoteerde Retail Africa regstreeks te behou eerder as om Steinhoff-aandele te aanvaar. Die direksie van sowel Shoprite as Steinhoff ondersteun dit dat Retail Africa 'n aparte notering op die JSE moet behou, lui die Sens-verklaring. – Netwerk24 Omsigtigheid word gevra Die onderhandelinge, indien suksesvol afgehandel, kan 'n wesenlike invloed op die aandeelprys van Shoprite en Steinhoff hê en aandeelhouers word aangeraai om die aandele met omsigtigheid te verhandel totdat verdere besonderhede bekend gemaak word.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie