Eerste vleis is na Hongkong uitgevoer
Chinese mark gesluit weens knopvelsiekte in Nam
Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Nadat Meatco in Mei goedkeuring gekry het om na die Asiatiese markte uit te voer, is die eerste houervrag vleis wat vir Hongkong bestem is, op 22 September 2016 versend. Volgens Meatco, is Hongkong ’n alternatiewe mark vir Namibiese beesvleis.
Terselfdertyd het mnr. Goliath Tujendapi van die Vleisraad gister tydens die 53ste kongres deur die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) gesê vleisuitvoere na China is voorlopig vir twaalf maande opgeskort nadat knopvelsiekte plaaslik uitgebreek het.
“Ons het met die land in gesprek getree omdat die siekte gereeld in Namibië voorkom – selfs in die deel wat vry van bek-en-klou-seer is, maar nie enige gevaar vir mense inhou nie. Hulle hou egter vol dat geen uitvoere sal plaasvind solank die siekte nie onder beheer is nie.
“Hierdie ooreenkoms beteken tans niks vir Namibië nie.”
Hy het ’n beroep op die direktoraat veeartsenydienste (DVS) gedoen om weer oor hierdie ooreenkoms, veral met betrekking tot beperkinge as dit by knopvelsiekte kom, met China te praat.
“Daarteenoor is Hongkong ’n baie belowende mark wat vir Namibië geopen het omdat dit nie enige invoerheffings vra nie. Dit is waarskynlik die verkose uitvoermark vir Namibië en ons produkte kan tien teen een deur die land na China vloei.
“In die toekoms kan ons egter ernstige kompetisie van Japan, Amerika, Brasilië, Australië en Nieu-Seeland verwag, wat ook hierdie mark teiken,” het Tujendapi gesê.
Dr. Frank Chitate van DVS het tydens die kongres gesê knopvelsiekte is onlangs op vyf plekke naby Gobabis en Okakarara waargeneem, wat tot die voorlopige sluiting van China se deure as vleismark gelei het.
“Altesaam elf diere is met die siekte besmet en net een het gevrek. Produsente wat deur die siekte geraak word, is aangeraai om hul beeste daarteen in te ent,” het hy gesê.
Volgens Chitate is ’n toetssending ook reeds na Amerika gestuur en is inspeksie-gesondheidsertifikate vir beide Hongkong en Amerika afgehandel. “Uitvoere kan dus plaasvind soos produkte beskikbaar raak. Ons sal been-in vleis na Hongkong uitvoer, terwyl Amerika slegs in ontbeende vleis belangstel,” het hy gesê.
Volgens die jongste Meatco-nuusbrief produseer Namibië sowat 60 000 metrieke ton beesvleis per jaar waarvan sowat 20 000 metrieke ton na Suid-Afrika en die Europese Unie uitgevoer word. Nadat goedkeuring vir Hongkong sonder enige produkbeperkinge verkry is, kan Meatco ’n groot hoeveelheid vleis na die Asiatiese mark uitvoer. Die eerste besending bestaan uit verskeie snitte wat gesamentlik 23 719 kilogram weeg.
Die nuwe markte wat Meatco verken, word as ’n opsie vir die maatskappy en Namibiese produsente gesien om Meatco toe te laat om produkte in verskeie markte te plaas en die produkmengsel te balanseer. Die besending maak Namibië die eerste Afrikaland wat daarin slaag om beesvleis aan Hongkong te verkoop. Die uitvoerbepalings vereis dat alle beeste wat vir uitvoer oorweeg word, in bek-en-klou-seer-vrye sones gebore en grootgemaak moet word waar inentings nie gedoen word nie.
Hierdie diere moet ook ’n unieke identifikasiemerk hê en moet na die plaas van oorsprong teruggespoor kan word. Afval en beesvleisprodukte wat geseël en gevries is, asook been-in produkte kan ook uitgevoer word. Namibiese beesvleis kom op rakke oral in Europa en Noorweë voor, maar daar bestaan ’n behoefte om nuwe markte te ontgin en om Meatco se inkomste in terme van produkmengsel op verskillende tye van die jaar, te verhoog. Hierdie bykomende markte verseker vertroue in die Namibiese dieregesondheidstatus en die produsente moet weet dat hulle gehelp het om markte vir hul beeste te verseker.
Die belangrikheid van hierdie markte sal altyd daarin opgesluit lê dat hul pryse op ’n gereelde, volhoubare basis kan verbeter. Dit is een ding om nuwe markte te vind, maar ’n ander om nuwe markte te kry wat mededingende pryse op ’n volhoubare basis betaal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie