Eerste Wêreld-erfenisgebied in Mpumalanga

Sowat 67% van die Barberton Makhonjwa-bergreeks val binne bewaarde gebiede en natuurreservate.
Elise Tempelhoff



Die Barberton Makhonjwa-bergreeks is die naweek op die 42ste vergadering van die Verenigde Nasies se ­Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organi­sasie (Unesco) as Suid-­Afrika se tiende Wêrelderfenisgebied aan­gewys.

Dit is Mpumalanga se eerste Wêreld­erfenisgebied.

Die rotsformasies in hierdie gebied, wat 113 137 ha beslaan, is 3,5 miljard jaar oud. Geoloë meen dit is van die oudste rotsformasies op aarde.

Volgens dokumente van Unesco beslaan die gebied 40% van die Barberton-groensteengordel, een van die oudste geologiese strukture op die planeet.

Sowat 67% van die Barberton Makhonjwa-bergreeks val binne bewaarde gebiede en natuurreservate. 'n Derde van die gebied lê buite ­bewaarde gebiede.

Unesco het die Suid-Afrikaanse ­regering versoek om 'n buffergebied rondom die Wêrelderfenisgebied te proklameer. Geen eenstemmigheid is na verneem word nog oor die grootte van die buffergebied gekry nie.

Luidens die dokumente is 380 geo­punte van uitstaande waarde in die gebied geïdentifiseer. Vier internasio­nale geowetenskaplikes het die geopunte as “noodsaaklik” en “belangrik” beskryf en daarom word dit as Wêreld­erfenisgebied geproklameer. Unesco het aanbeveel dat die Mpumalanga-toerisme-en parkagentskap (MTPA) die bestuur van die Wêreld­erfenisgebied behartig. Die MTPA sal veral baie versigtig te werk moet gaan met geo-toerisme wat nou in die gebied gaan toeneem, het Unesco ­gewaarsku.

Die departement van omgewingsake het onderneem om “vier of vyf” nuwe personeellede in diens te neem en het US$1,6 miljoen (sowat R22 miljoen) opsygesit vir hul opleiding.



Nog unieke kenmerke van dié gebied

• Dit bevat endemiese plante soos die wollerige broodboom (Encephalartos heenanii) wat as krities bedreig op die Internasionale Bewaringsunie (IUCN) se rooidata-lys verskyn.

• Mikrofossiele wat aanduidings is van die vroegste lewe op aarde.

Die Suid-Afrikaanse regering het ­onderneem, om:

• die gebied te beskerm ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet vir Bewaarde Gebiede; en

• geen mynregte binne die gebied toe te staan nie.



Bekommernis van die IUCN

Die versekering dat geologiese punte wat buite die geproklameerde gebied val, voldoende beskerming sal kry. Die Suid-Afrikaanse Erfenisstigting (Sahra) het glo 'n lys van die geo­punte saamgestel en is besig om beskerming daarvoor te verseker,

• Mynregte wat gegee is reg langs die noordelike gedeelte van die gebied. Unesco waarsku dat die groensteengordels geweldig mineraalryk is en dat mynhuise dit maklik kan teiken.

• Dat die Wêrelderfenisgebied nie toegerus sal word met 'n buffer­gebied nie.

• Dat daar nie behoorlik omgesien sal word na plaaslike gemeenskappe nie.

• Plantasies wat die gebied bedreig: 16,5 % van die gebied is onder plantasies.

• Boerdery en toerisme beslaan ook 16,5%.

Die stryd om die bewaring van die gebied het verlede jaar in die konstitusionele hof gedraai.

'n Appèlaansoek van Barberton Mines teen 'n vroeëre appèlhofuitspraak waarin hy verbied is om in die Barberton-natuurreservaat te prospekteer, is verlede jaar met koste van die hand gewys.

In Maart verlede jaar het vyf regters in die appèlhof beslis Barberton Mines mag nie na goud en silwer in dié natuurreservaat delf nie.

Barberton Mines, 'n filiaal van die Britse myngroep Pan African ­Resources (PAN), het reeds in 2013 met regsaksie teen die Mpumalanga-toerisme-en-parkagentskap (MPTA) begin toe amptenare geweier het dat prospekteerders die natuurreservaat binnegaan.

 – Netwerk24





Suid-Afrika se ­erfenisgebiede

• iSimangaliso-vleilandpark

• Die Wieg van die Mensdom

• Vredefortkoepel

• Robbeneiland

• Maloti-Drakensbergpark

• Mapungubwe- kulturele land­skap

• Kaapse fynbosstreek

• Richtersveld- kulturele en botaniese landstreek.

• Die !Khomani- kulturele land­skap is verlede jaar tot Wêreld­erfenisgebied verklaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!