Eet gesonder by die skool en werk

Jacqueline Louw
Begin die jaar op die regte noot en sorg dat die kosblikke vir die werk- of die skoolpouse gesond én lekker is.
Hier is twee boeke wat jou sal help om vir jou en jou gesin gesonder kos in te pak.
Uitpakkos deur Hilda Lategan
Vergeet asseblief die kitskoswinkel! Pak die regte kos in!
Uitpakkos is geskryf om jou verbeelding te stimuleer met idees vir die maak van aantreklike, smaaklike en voedsame kospakkies vir ontbyt, skool en werk, vinnige aandetes, vir piekniek en selfs vir rugsakreisigers.
'n Gesonde ingepakte ete help om die daaglikse kilojoule-, vet- en koolhidraatinname beter te beheer en dra by tot die liggaam se daaglikse voedingsbehoeftes. Dit bevorder ook volgehoue energie en is voordelig vir beter konsentrasie en produktiwiteit gedurende die dag, wat op die beurt help met beter skool- en sportprestasies.
Swak eetgewoontes kan jou eindelik siek of sieklik maak. Oorweeg gerus gesonder voedselkeuses ter wille van die instandhouding van jou liggaam en goeie gesondheid.
Uitpakkos sal hopelik 'n uitkoms vir menige huishoudings bring. In baie gevalle beteken 'n besige lewe dat 'n mens net nóg beter moet beplan en organiseer. Die boek is daar om te help.
Uitpakkos (ISBN: 9780799370089) is deur Lapa Uitgewers vrygestel.


Lekker & Gesond 3:2 Gesonde kosblikke deur Martie Hofmeyr & Janet Wiegand
Ons is ál langer weg van die huis af weens ons gejaagde lewenstyl.
Die gevolg is ongesonde eetpatrone. Kitskos en energiedrankies word wyd en syd bemark as die antwoord op dié tameletjie. Helaas, dit dra juis by tot die ontwikkeling van leefstylsiektes weens die hoë inhoud van verfynde koolhidrate (suiker), sout en verwerkte vette, asook kunsmatige kleur-, geur- en preserveermiddels.
Gebalanseerde kosblikkos propvol kleur, geur, voedingswaarde, vesel en stadig vrystellende koolhidrate (lae GI) verskaf volhoubare energie – noodsaaklik vir konsentrasie by die werk, skool en sportveld of gim.
Dié boek is propvol kosblikidees vir elke geleentheid – van skool en werk tot daardie luilekker uitstappie of piekniek – met ’n paar alternatiewe vir dié met voedselallergieë of -onverdraagsaamhede.
’n Gebalanseerde kosblik bestaan uit:
·Noodsaaklike, gesonde vette (mono-onversadig soos olyf, kanola, makadamia, sesam en avokado)
·Hidrerende laekoolhidraat-vloeistowwe (water, ystee en verdunde vrugtesap)
·Vars groente en vrugte (’n verskeidenheid, verkieslik in seisoen)
·Onverfynde koolhidrate (bruinrys, hawermout, rog, styselgroente soos mielies, patats en jong aartappels met die skil)
·Proteïen (neute, sade, droëbone en -peule, soja, eier, melkprodukte, vis en laevet-vleisprodukte)
Lekker & Gesond 3:2 Gesonde kosblikke (ISBN: 9780799374193) is deur Lapa Uitgewers vrygestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!