Efundja: Raaisel van miljoene visse opgelos
Wetenskaplikes kon eindelik die oorsprong vasstel van die oorvloedige vislewe in die iishana – 'n onderwerp waaroor lank reeds gedebatteer word.
Elvira Hattingh
Die oorvloedige vislewe in die iishana tydens die efundja kom van onder meerpoele in die Cuvelairivier asook omatale-veedamme, verskeie Olushandja-kanale en vanaf die Kunenerivier se sytakke.
Wetenskaplikes kon uiteindelik vasstel wat die oorsprong van die oorvloedige vislewe in die iishana is – 'n onderwerp waaroor lank reeds gedebatteer word.
“Alhoewel die iishana in die delta-stelsel in die noorde van Namibië en suide van Angola gewoonlik droog is, word miljoene visse skielik tydens die efundja hier gevind. Dan dek die vloedwater sowat 100 000 km2. Dit gebeur sowat een maal in drie jaar.
“Skielik wemel die gewoonlik kurkdroë kanale van visse, wat almal stadig, saam met die stadig vloeiende water, suidwaarts beweeg. Dit dien as 'n welkome visbron vir inwoners van die gebied, wat klein jong barbers vang.”
Só het die navorsers dr. Cornelis van der Waal, dr. Martin Hipondoka van die Universiteit van Namibië en die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se mariene bioloog Ndeenda Ekandjo vroeër vanjaar geskryf in 'n studie wat in die Namibian Journal of Environment (NJE) gepubliseer is. Die titel is “Towards understanding the presence of abundant fish in running iishana.”
Iishana is die meervoudvorm van die Oshiwambo-woord oshana, wat verwys na 'n vlak, seisoenale en grasagtige waterkanaal. Efundja is ook 'n Oshiwambo-woord wat “vloed” beteken.
“Daar kon nou vasgestel word die visse het hul oorsprong van onder meer permanente poele, bó Evale, in die Cuvelairivier in die suide van Angola, asook in suidelike Angola en Namibië se omatale (semipermanente, diep waterdamme vir vee), die Olushandja-Oshakati-kanaal asook die kanaal van Olushandja na die Oshana Etaka.
“Verder het van die visse ook hul oorsprong in die skeidingsgebied waar die Kunenerivier se sytakke ontstaan naby die bopunt van die iishana. Tydens vloede en goeie reën migreer die Kunenerivier se visse stroomop na die sytakke om te broei. Dis dan wanneer jong uitgebroeide vissies die iishana kan bereik en stroomaf migreer.”
KUNENE-SYTAKKE
Die wetenskaplikes het visse tydens die groot efundja van 2017 en toe weer tydens die matige een van 2020 in die iishana gevang.
Hulle sê tydens matige efundjas kom die vis waarskynlik van kleiner standhoudende poele, waar dit in die tussentyd oorleef en broei.
Van die 46 visspesies wat in die Cuvelai, iishana en kanale versamel is, word gereken dat 17 van die Kunenerivier deur die kanaal migreer. Die wetenskaplikes sê die Cuvelaistelsel beskik nie oor unieke of endemiese visspesies nie.
“Voorheen is aannames gemaak dat al die visse wat skielik tydens vloede in die iishana verskyn, van semipermanente poele hoër op in die Cuvelairivier kom en dat ander riviere soos die Mui en Chimporo in suidelike Angola ook bydraes maak.
“Dit maak dit egter moeilik om te verstaan hoe die iishana so vinnig vol visse raak.
“Daar is ook aangeneem die meer as 100 diep omatele-damme – wat in die 1960's gebou is – dien as reservoirs vir broeivisse. Tog het oorvloedige vislewe reeds vóór die bou van dié damme tydens efundjas voorgekom. Daar is ook te veel visse om net van die relatiewe klein poele en damme te kon kom.”
Die wetenskaplikes sê in 2017 het hulle tot die nuwe ontdekking gekom dat massas visse stroomop na die klein sytakke van die Kunenerivier migreer – daar waar die skeidingsgebied tussen die Kunenerivier en die westelike iishana is.
Alhoewel water nie van die Kunene na die Cuvelai of die iishana vloei nie, skep swaar reën en vloede kitsverbintenisse op die oppervlak, wat die klein vissies toelaat om van die Kunene se sytakke na die westelike iishana oor te beweeg.
Die sytakke van die Kunene droog egter baie vinnig op en sodra die visse dus die gebied oorgesteek het, kan hulle nie na die Kunenestelsel terugkeer nie.
SUIDWAARTS
Die wetenskaplikes sê sodra die iishana deur reënwater gevul is, loop dit oor in dreineringslyne en begin oor die algemeen suidwaarts vloei. Die vloeibeweging word deur vloedwater van die Cuvelai- en Muiriviere ondersteun.
Die wetenskaplikes sê tydens 'n sterk efundja sorg 'n oorvloedige hoeveelheid water dat die iishana met mekaar verbind word, wat beteken die visse kan oraloor die iishana-gebied versprei.
“Die waargenome stroomaf-migrasie is die teenoorgestelde van die algemene tendens van visse om stroomop te migreer,” het die wetenskaplikes opgemerk.
“Een van die dryfkragte hiervan kan wees omdat daar 'n oorvloed van kos in die nuut oorstroomde plekke gevind kan word.”
Die wetenskaplikes voeg by die Cuvelaistelsel word deur omgewingsagteruitgang in die iishana-gebied geraak, asook deur ontoepaslike padstrukture en dat hengelbedrywighede bestuur behoort te word.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie