Egipte onttroon SA - maak dit regtig saak?

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler

Suid-Afrika is dalk ’n “derderangse” Afrikastaat, maar grootte gemeet aan bruto binnelandse produk (BBP) is nie al wat saakmaak nie.
Wat swaar weeg, is faktore soos beleggingsgroei, mededingendheid, BBP per capita, infrastruktuur en tegnologiese gereedheid – terreine waarop Suid-Afrika lande wat hom na die Afrika-kroon steek, meesal voor is.
Dít is die reaksie nadat Woensdag berig is die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) reken Egipte het Suid-Afrika verbygesteek vir die posisie as Afrika se tweede grootste ekonomie.
Nigerië is die grootste ekonomie op die vasteland. Suid-Afrika het in 2014 van die eerste plek geval toe Nigerië die manier waarop hy sy BBP bereken, vir die eerste keer in 20 jaar aangepas het. Nigerië se BBP was in 2015 US$490 miljard, Egipte s’n US$331 miljard en Suid-Afrika s’n US$313 miljard.
Thabi Leoka, ekonomiese strateeg van Argon Asset Management, sê oorsese beleggers kyk nie net na BBP nie, maar ook na hoe gediversifiseerd ’n ekonomie is en hoe maklik dit is om daar te belê of sake te doen.
Dan kyk hulle uiteraard ook na die groei wat hulle op hul belegging sal kan verdien – en dít is waar Suid-Afrika ernstig te kort skiet vergeleke met sy groter boeties.
Lullu Krugel, KPMG se hoofekonoom, sê Suid-Afrika is volgens bevolking betreklik klein en dit is eintlik te verwagte dat lande met groter bevolkings uiteindelik groter BBP’s sal hê.
Leoka beaam dit is logies dat meer mense meer kos sal eet en meer goedere sal verbruik.
“BBP is nie die enigste aanwyser van hoe sterk ’n ekonomie is nie. Beleggers is intelligent genoeg om hulle nie blind te staar daaraan nie,” sê ­Krugel.
Suid-Afrika het in 2015 opgeskuif op die Wêreldbank se indeks van mededingendheid, wat onder meer die gemak van sake doen meet.
Die land is tweede in Afrika ná Mauritius. Nigerië en Egipte is nie eens op die top-10 van Afrika nie.
Wat BBP per capita betref, vaar Suid-Afrika steeds aansienlik beter. Suid-Afrika se bevolking is sowat 54 miljoen vergeleke met Egipte se 89 miljoen en Nigerië se 174 miljoen.
Suid-Afrika se BBP per capita was volgens die Wêreldbank in 2014 (sy jongste beskikbare syfers) US$6 484, terwyl Egipte s’n US$3 365 was en Nigerië s’n US$3 203.
Nigerië het enorme likiditeitsprobleme omdat die land se sentrale bank ’n perk plaas op hoeveel buitelandse valuta die land mag verlaat.
Dit het meegebring dat beleggers “vasgekeer” is in dié land, insluitend Suid-Afrikaanse maat­skappye soos Shoprite en MTN.

Infrastruktuur
Krugel sê ons het van die beste infrastruktuur op die vasteland, al voel dit vir Suid-Afrikaners nie so nie weens die beurtkrag. In Nigerië is krag­onder­brekings letterlik aan die orde van die dag.
“Suid-Afrika se finansiëledienstesektor, ouditstandaarde en ons Reserwebank is wêreldklas.”
Krugel sê boonop is daar baie vertroue in Suid-Afrika se instellings, soos die howe.
Iemand wat ingedoen voel, het die versekering dat hulle billik behandel sal word.
Egipte se nuwe posisie as die tweede grootste ekonomie in Afrika kom nadat dié land tussen 2012 en 2015 met gemiddeld 7,5% per jaar gegroei het, volgens Christie Viljoen van KPMG, terwyl Suid-Afrika se ekonomie met ’n slakkegang gegroei het.
Viljoen sê Suid-Afrika bly die vasteland se mees ontwikkelde ekonomie en is beter gediversifiseer as Egipte s’n.
“Sy val van eerste en nou van tweede plek onder die vasteland se reuse, is egter baie kommerwekkend, veral aangesien dié ontwikkeling grootliks toegeskryf word aan rand-swakheid, wat op sy beurt grootliks die gevolg was van plaaslike vraagstukke.”
Die Egiptiese pond het nie naastenby soveel waarde teenoor die Amerikaanse dollar verloor as die rand nie omdat die Sentrale Bank van Egipte die waarde daarvan streng reguleer. 
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!