Egiptenaar moet geld terugkry
Egiptenaar moet geld terugkry

Egiptenaar moet geld terugkry

Die staat het opdrag gekry om bykans N$650 000 aan 'n vrygespreekte beskuldigde te betaal.
Denver Kisting
Denver Kisting



'n Swakopmunder wat die afgelope maande baklei om N$650 000 terug te kry waarop die staat in 2013 beslag gelê het, het goeie nuus ontvang.

Regter Thomas Masuku het Woensdag uitspraak in die hoërhof in Windhoek gelewer en gelas die staat moet dadelik die geld teruggee.

Mnr. Ahmed Mohamed Rashed het aangevoer die minister van veiligheid en sekuriteit, gen.maj. (afgetree) Charles Namoloh, die inspekteur-generaal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, en me. Martha Imalwa, die aanklaer-generaal, minag die hof.

Dít kom nadat die regering hom sedert 28 Maart nie aan 'n streekshofbevel steur nie.

Naas Namoloh, Ndeitunga en Imalwa het Rashed ook die Bank of Namibia (BoN) gedagvaar waar die geld bewaar word.

Sowat 'n maand gelede het dit aan die lig gekom die aanklaer-generaal wil teen 'n streekshof­uitspraak appèl aanteken.

Rashed se prokureur, mnr. Appolos Shimakeleni, het by navraag gesê hulle verwelkom die hoër­hofuitspraak. Volgens hom was hulle uit die staanspoor oortuig die streekshofbevel was duidelik en die minagting daarvan ongegrond.

Ingevolge dié ­uitspraak van streekslanddros Ileni Velikoshi van 28 Maart moet die polisie N$642 580 terugbetaal waarop meer as vier jaar gelede beslag gelê is.

Imalwa het ­onsuksesvol aangevoer hul saak sal verongeluk word indien die geld aan Rashed terugbetaal word voordat die appèl gehoor word.



Agtergrond

Rashed sê hy is op 6 Desember 2013 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangekeer en aangekla ingevolge die Wet op die Voorkoming van ­Georganiseerde Misdaad (POCA) en regulasies wat met die beheer van buite­landse valuta verband hou.

Luidens hofstukke het Rashed die geld op hom gedra toe hy 'n vlug na Egipte via Suid-Afrika wou haal.

Nadat ­polisiebeamptes hom gevra het of hy geld in sy besit het, het hy erken hy het kontant in sy besit, is tydens sy verhoor getuig.

Hy het 'n week in aanhouding deurgebring voordat borgtog aan hom toegestaan is.

Streekslanddros Velikoshi het bevind die staat kon nie bewys Rashed het die geld uit onwettige bedrywighede gemaak nie.

Rashed het uit die staanspoor gesê hy verdien sy brood deur onder meer vloermatte, komberse, gordyne en eetgerei te verkoop.

Rashed sê hy het in 2008 na Namibië verhuis.

“Dit is 'n besluit waaroor ek nie spyt is nie. Namibië is 'n vredeliewende land en was tot dusver 'n goeie tuiste vir my en my gesin. Ek is al vir nege jaar ­gelukkig getroud met 'n ­Namibiër en ons was ­gelukkig om met twee pragtige kinders geseën te word.”

Rashed sê in ­hofstukke: “'n Voortdurende onwet­tigheid of minagting van die hof, meer spesifiek verontagsaming van 'n uitspraak, is volgens my regsadvies voldoende gronde vir dringendheid.”

Hiernaas sê hy in sy beë­digde verklaring, wat op 23 April in Swakopmund afgelê is, die gedrag van die regering sal waarskynlik die administrasie van geregtigheid in gedrang bring.

Rashed is naas Shimakeleni deur adv. Eliaser Nekwaya verteenwoordig terwyl me. Karin Klazen namens die BoN opgetree het. Imalwa, Ndeitunga en Namoloh is deur mnr. Ngatatue Kandovazu verteenwoordig.

Shimakeleni het Woensdagmiddag aan Republikein gesê hulle gaan die regering 'n redelike tydperk gun, wat volgens hom 'n dag of twee behoort te beslaan, om aan “hul interne prosedures te voldoen”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!