EHRA klim Brandberg uit

Die span het twee dae geneem om die hoogste punt Königstein – 2 573 meter bo seespieël – via die steil Ga'aseb-kloof te bereik.
Tanja Bause
Tanja Bause – 'n Span van Elephant Human Relations Aid (EHRA) het verlede naweek Brandberg uitgeklim om geld vir die organisasie in te samel.

Dit het die span van 12 lede twee dae geneem om die hoogste punt Königstein (2 573 meter bo seespieël) via die steil Ga'aseb-kloof te bereik. Hulle het in een dag weer na onder geklim.

EHRA het reeds in Maart met die beplanning begin en die span wou reeds in Mei of Junie die berg uitklim.

Hulle het egter baie uitdagings ervaar. Van die spanlede het op ver­skillende tye Covid-19 gehad en die tog moes uitgestel word aangesien die doelwit was om die berg as 'n span uit te klim.

Die nasionale hoktye wat beweging beperk het, het ook 'n rol gespeel en die span kon eers verlede naweek die geleentheid kry om die berg te klim.

Elke lid is deur 'n internasionale en nasionale ondersteuner geborg en só het EHRA N$500 000 ingesamel om hul werk te kan voortsit.

Volgens me. Rachel Harris, besturende direkteur van EHRA, is die organisasie erg deur Covid-19 geraak.

“Ons het 90% van ons finansiering deur vrywilligers en van toeriste gekry. Dit was suksesvol totdat die grense toegemaak is en ons buite die boks moes begin dink.

“Dit sluit nuwe vennootskappe met internasionale instellings in, nuwe handelsveldtogte en nou die uitdaging aan die span om tot by die hoogste punt van Brandberg te klim om geld in te samel.

“Dié geld sal ons help om ons operasionele uitgawes vir die volgende paar maande te dek,” het sy gesê.

Me. Anna Sheehama, assistent vir die bewaringsprogram, het gesê dit was fisiek uitdagend, maar spanwerk het dit moontlik gemaak vir almal om dit te kon voltooi.

“Ek het nuwe respek gekry vir die span en die werk wat ons doen. Ek dink dit is iets waarna ons sal terugkyk en besef hoeveel goed ons vir ons olifante kan doen as ons saamwerk en vasbeslote is,” het sy gesê.

Dié nieregeringsorganisasie (NGO) sal hul bewaringsverbintenis voortsit deur 'n holistiese benadering te volg om konflikte tussen mense en olifante te bekamp, die vermoë van landelike gemeenskappe te verhoog om vreedsaam saam met dié reuse te kan bestaan en om Namibië se wilde olifante vir toekomstige geslagte te bewaar.
[email protected]

FOTO’s verskaf
Die EHRA-span op pad na Königstein, die hoogste punt van die Brandberg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!