Einde van die pad vir 500ppm diesel
Einde van die pad vir 500ppm diesel

Einde van die pad vir 500ppm diesel

'n Veldtog word binnekort begin om diesel met 'n hoë swaelinhoud af te skaf.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die uitfasering van 500ppm diesel begin op 23 November.

Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, sal op dié dag 'n veldtog in die verband op Oshikango in die Ohangwenastreekvan van stapel stuur.

Die veldtog sal bewustheid bevorder van die voordele van 50ppm diesel, wat baie minder swael bevat. Volgens die ministerie se permanente sekretaris, mnr. Simeon Negumbo, is die uitfasering van 500ppm diesel met sy hoë swaelinhoud in pas met die regering se strewe om die omgewing te beskerm.

“Die skuif sal geen negatiewe effek op verbruikers hê nie omdat voertuie en alle ander masjiene op die diesel met die lae swaelinhoud kan loop,” sê hy.

Mnr. Harald Schmidt, bedryfshoof van die vereniging van olienywerhede se sekretariaat, sê die nuutste verwikkeling is deel van Namibië se beweging na die gebruik van skoner brandstof.

Van die gebruik van 3000ppm diesel af het die land stelselmaties verander en nou word selfs 500ppm diesel uitgeskakel, sê hy. Volgens Schmidt volg Namibië 'n wêreldwye tendens, veral van toepassing op lande wat die Kyoto-protokol onderteken het. Dit sluit Namibië en Suid Afrika in.

Alhoewel Namibië brandstof direk van die internasionale mark invoer, verskaf Suid-Afrikaanse olieraffinaderye steeds in van Namibië se behoeftes, sê hy.

Schmidt sê Namibië se aanvraag is relatief klein. Derhalwe is dit beter om aankope te konsolideer deur groter bestellings vir 50ppm diesel te plaas, as om die bestellings in 50ppm en 500ppm te verdeel. Boonop is die beskikbaarheid van 500ppm soms 'n probleem, sê hy.

“Die mark beweeg in 'n spesifieke rigting; nie net Namibië nie.” Schmidt beskryf die huidige tydperk as 'n ‘skoner brandstof-dekade’.

Onkostes vir onder meer die skoonmaak van ondergrondse stoortenks, nuwe uitlêggings van vulstasies, nuwe spuitstukke en ander aanpassings sal bereken moet word, sê hy.

Volgens hom was die plan om vir die laaste drie maande van 2018 'n klein aanpassing aan die invoer van diesel te doen om dié nodige veranderinge te kan dek.

“31 Desember is die laaste dag. Daarna kan geen 500ppm diesel meer ingevoer word nie,” sê hy.

Dit gee die ministerie tyd vir sy bewustheidsveldtog, terwyl die diesel verkoop en vervang kan word wat nog in tenke landswyd gestoor word.

Aan die begin van 2019 sal diesel 10ppm amptelik in Namibië goedgekeur wees. Dié diesel word in die nuutste luukse motors gebruik. Eienaars sal dan hul brandstof self kan aankoop deur ooreenkomste met die motoragente of spesifieke oliemaatskappye aan te gaan. Hulle sal ook die koste daarvan moet betaal, sê Schmidt.

Gedurende sy besoek aan Oshikango sal minister Alweendo ook aandag skenk aan brandstofsmokkelary oor die Angolese grens.

Volgens Negumbo is die ministerie bekommerd oor dié onwettige praktyk wat daar opgemerk is.

“Groot hoeveelhede onwettige brandstof word die land ingesmokkel en verkoop. Volgens wet mag net gelisensieerde groothandelaars brandstof na Namibië invoer en net gelisensieerde kleinhandelaars dit verkoop,” sê die permanente sekretaris.

“Die brandstof wat van ander lande ingesmokkel word, voldoen nie aan die spesifikasies uiteengesit vir alle voertuie op Namibiese paaie nie. Dié onwettige brandstof weerhou nie net noodsaaklike inkomste van Namibiërs nie, maar beskadig die omgewing, asook die voertuie van oningeligte verbruikers.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer