Einde van regstryd tussen Cran, MTC in sig

MTC het 'n regsgeding teen Cran ingedien rakende 'n gewysigde artikel in die kommunikasiewet oor heffings vir lisensiehouers.
Sanet de Waal
Kristien Kruger



Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) en Mobile Tele­communications Limited (MTC) het Donderdag in die hoërhof in Windhoek hul finale mondelinge argumente gevoer.

Volgens hofstukke wat MTC se regsverteenwoordigers op 11 Oktober ingedien het, word die bekragtiging van artikel 23 van die Wet op Kommunikasie nr. 8 van 2009 bevraagteken, wat drie jaar gelede in die hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar is. Die artikel is gewysig en het op 11 Junie 2018 in werking getree.

Die oorspronklike artikel het Cran die vryheid gegee om self te bepaal watter persentasie heffings van lisensiehouers verhaal kan word.

Volgens die hooggeregshof se uitspraak moes 'n minimum en maksimum beperking aan die persentasie van heffings toegeken word en duidelike riglyne moes ingestel word.

MTC se regsverteenwoordiger, adv. Frank Pelser, het Donderdag in die hof aangevoer dié twee beginsels is nie nagekom nie. Cran se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het gesê Cran se regulasies is voldoende aangesien dit riglyne bevat en 'n maksimum beperking van 1,65% vir heffings stipuleer.

Pelser het gesê Cran kan nie hul eie beperking kies nie.

“As hulle (Cran) self die beperking op heffing kan kies, hoe gaan mens dan verhoed dat hulle dit in 'n latere stadium weer verander? Die parlement moet verantwoordelik vir die beperkinge wees.”

Pelser het ook Cran se regulasies onder die vergrootglas geplaas en gesê dis nie voldoende nie.



UITSTAANDE HEFFINGS

Die regsgeding volg ná die hof in Junie vanjaar Cran verbied het om sy besluit van 23 Maart 2021 uit te voer, wat bepaal dat MTC se aansoek om 'n spektrumlisensie nie oorweeg sou word voordat laasgenoemde nie die N$100 miljoen in uitstaande heffings betaal wat glo aan die reguleerder verskuldig is nie.

Cran voer aan die nietigverklaring van die heffings geplaas op die 56 telekommunikasieverskaffers, radiostasies en TV-instansies wat by die reguleerder geregistreer is, het eers op die dag van die uitspraak (11 Junie 2018) van krag geword.

As sodanig dring die reguleerder daarop aan dat Telecom en MTC onderskeidelik steeds N$67 miljoen en N$100 miljoen verskuldig is, wat glo uitstaande was op die datum waarop die heffings nietig verklaar is. “Dis nie dat MTC nie gewillig is om die geld te betaal of die proses wil vertraag nie, maar hulle het die reg om die wettigheid daarvan te bevraagteken.

“Ons wil net vasstel of die wysiging van artikel 23 geïmplementeer is,” het Pelser gesê. Regter Harald Geier sal op 20 Julie 2022 uitspraak lewer. 

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!