Eindelike verligting vir Hardapboere
Ná 'n onderbreking van bykans ses weke wat deur onder meer 'n tekort aan water en toe weer reënskade veroorsaak is, kan besproeiing op die Hardapskema nou hervat word.
Elvira Hattingh - Besproeiingsboere op die Hardapskema kon sedert Maandag 07:00 vir die eerste keer in bykans ses weke weer hul gewasse natlei – dié keer sonder waterbeperkings.
Dit volg ná herstelwerk aan die besproeiingskanaal Vrydagaand eindelik voltooi is, waarná die kanaal Saterdag om 06:00 gelei is en met die leidam uitgebalanseer is.
Teen Sondagaand is seker gemaak alle lugleegtes is ook uit die stelsel verwyder.
“Almal het teen gisteroggend (Maandag) weer volle watertoevoer gehad,” het mnr. Dawie de Klerk, ondervoorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV) en 'n besproeiingsboer op die Hardapskema Maandag aan Republikein gesê.
Hy sê egter die onderbreking in die beskikbaarheid van besproeiingswater het kwaai skade veroorsaak.
“'n Klomp lusern het in die slag gebly, wat ons nie kon red nie. Ons kan nou net fokus op dit wat oorgebly het,” het De Klerk gesê.
Dit volg ná NamWater op 6 Maart met herstelwerk aan die Hardapskema se besproeiingskanaal begin het. Tóé het boere aangedui hul lusern begin swaarkry en sou hoogstens nog 'n week sonder water kon oorleef.
Dit volg ná die kanaal strukturele skade gely het toe die Dabibrivier sy walle op 19 Februarie oorstroom het, die water die leë besproeiingskanaal sywaarts bereik het en 40 m se panele ineengestort het.
Watertoevoer van die Hardapdam na besproeiingsboere is op 27 Januarie noodgedwonge gestaak omdat die dam toe net 6,5% water oorgehad het – wat vir Mariental self gehou moes word. Dit was die eerste keer in die geskiedenis wat die dam só leeg was.
Danksy goeie reëns sedert 17 Februarie het dié dam weer water ontvang. Volgens NamWater se damverslag het die dam op 23 Maart presies 45% water bevat.
De Klerk het voorheen aan Republikein gesê sowat 1 000 arbeiderhuisgesinne is van die dam se besproeiingsprojekte afhanklik, wat die besproeiingsboere self en seisoenale werkers uitsluit.
Sowat 2 200 ha se gewasse is deur die Hardap se besproeiingswater gevoed – tot 80% hiervan lusern.
'n Tekort aan water op die Hardap-skema kan verreikende gevolge vir die landbousektor inhou, omdat dié skema homself die afgelope jare as die voer- en ruvoer-voedselmandjie in die land gevestig het en talle vee-, wild- en voerkraalboere daarop staatmaak.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie