Eis teen RK Kerk jare nu00e1 'misbruik'
Eis teen RK Kerk jare nu00e1 'misbruik'

Eis teen RK Kerk jare ná 'misbruik'

'n Skadevergoedingseis deur 'n man wat as kind na ­bewering deur 'n Rooms-Katolieke priester seksueel misbruik is, is verlede week by Windhoek se hoërhof ingedien.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - 'n Oudspioen, mnr. Romanus Frans Munango, wat as 11-jarige na bewering deur 'n Rooms-Katolieke priester seksueel gemolesteer is, het verlede Maandag 'n eis by Windhoek se hoërhof teen die Rooms-Katolieke Kerk en vader Bernard van Roosmalen ingedien.

Munango eis N$10 miljoen vir emosionele lyding, die feit dat hy nie sy studies kon voltooi nie, vir die vernedering en die verlies aan respek omdat hy as homoseksuele man in sy gemeenskap beskou is en omdat hy tot vandag toe nie die mishandeling kon verwerk nie.

In 'n brief aan die kerk, wat saam met die besonderhede van sy eis by die hof ingedien is, sê Munango, wat in die dorpie Kayengona in die Mavanze-distrik in die Kavango-area grootgeword het, dat hy op 11-jarige ouderdom na die Hoërskool St. Joseph Parish in Sambiu gestuur is omdat daar nie 'n hoërskool in Kayengona was nie.

Met sy aankoms by die skool het hy aan Van Roosmalen vertel sy ma, 'n enkelouer, kon nie bekostig dat hy in die koshuis bly nie. Munango sê die priester het toe 'n kamer naby sy eie huis aan hom gegee en hom aangesê om nie met die ander kinders te meng nie.

“Elke tweede aand het vader Bernard my kom haal, my na sy kamer geneem en pornografiese foto's aan my gewys,” sê Munango in sy brief aan die kerk. Volgens hom het die priester daarna omgang met hom gehad en het dit vir ses maande aangehou.

Volgens Munango het hy 'n ou Ovimbundu-man, wat as nutsman by die gemeente gewerk het, oor die beweerde mishandeling in sy vertroue geneem.

Die ou man het Munango na sy huis in die Utokota-dorpie geneem. Munango sê Van Roosmalen het glo oral na hom gesoek en hom op 'n dag in sy klaskamer gekry. Munango het glo aan die priester gesê hy kan die mishandeling nie meer verduur nie en het hom gedreig om die storie op die lappe te bring.

Munango sê Van Roosmalen het aan hom gesê hy sal bid dat hy moet doodgaan indien hy die storie aan mense sou vertel.

“Ná hierdie voorval was ek getraumatiseer. Ek het slapelose nagte gehad, ek kon nie studeer nie en ek het standerd 5 gedruip,” skryf Munango in die brief.

In 1981 het hy by die Suid-Afrikaanse polisie aangesluit en later by die intelligensiediens se tak in Genève in Switserland, wat ondergrondse operasies namens die Suid-Afrikaanse regering uitgevoer het.

Munango sê hy het tussen Zambië, Tanzanië, Botswana, Lesotho, Swaziland en die Filippyne gereis met ver­skillende paspoorte en vals name. Hy sê die nuwe Namibiese regering wou hom nie in diens neem nie as gevolg van sy spioenasiewerk vir die Suid-Afrikaanse regering.

Met 'n besoek aan Rundu in 1989 het Munango Van Roosmalen ontmoet en gekonfronteer met die gebeure uit sy kinderjare.

“Hy het my om vergifnis gevra en

R20 000 gegee en gesê hy is siek en oud,” skryf Munango. Van Roosmalen is intussen oorlede.

Munango het in die middel van 1989 die voorval glo aan aartsbiskop Bonifatius Hausiku in Windhoek gerapporteer, wat beloof het om die saak te ondersoek. In 'n opvolg aan aartsbiskop Liborius Nashenda in Julie 2016 is Munango na aartsbiskop Joseph Shikongo in die Kavangostreek verwys, wat nie op sy skrywe gereageer het nie.

Munango sluit sy brief af deur te sê hy móét die storie openbaar maak en dat hy nie langer kan stilbly nie.

In Augustus vanjaar het Munango 'n eisbrief aan biskop Shikongo gerig wat ook onbeantwoord gebly het. Hierna het hy die eis by die hoërhof in Windhoek ingedien.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer