Eis van miljoene ná miskraam
Die polisie word in die eissaak vir pyn en lyding gedagvaar nadat ‘n aangehoudene haar ongebore baba verloor het.
Ronelle Rademeyer - ‘n Vrou wat aanvoer sy het ‘n miskraam gehad nadat sy drie dae lank sonder kos en water in die polisieselle by die Windhoekse landdroshof in Katutura aangehou is, eis skadevergoeding van N$3,5 miljoen van die polisie.
Me. Marcelina Mercelisa Gaingos van Katutura eis dié bedrag in die hoërhof van die minister van veiligheid en sekuriteit en die inspekteur-generaal van die polisie, alternatiewelik van die nege polisiebeamptes wat vir haar onregmatige inhegtenisneming en aanhouding verantwoordelik was.
Sy eis ook N$1,5 miljoen van ‘n familielid, me. Renathe Hoases, wat aangevoer het sy het ‘n beskermingsbevel oortree en wat op haar inhegtenisneming aangedring het.
Dit blyk uit die hofstukke die vete tussen Gaingos en Hoases spuit uit ‘n geskil oor ‘n huis. Eersgenoemde voer aan dit behoort aan haar en haar pa, en Hoases sê sy het dit by haar ma geërf.
Gaingos is op Vrydag 8 Desember 2017 in hegtenis geneem nadat die polisie by haar huis in Katutura ingebars het terwyl sy geslaap het.
Volgens die besonderhede van haar eis het konst. Hans Rooinasie van die Katutura-polisiekantoor terwyl sy geslaap het, vir haar geskree: “Jy het na Renathe se huis toe gegaan. Staan op dat ons hof toe gaan!”
Sy is na die aanhoudingselle by die hof geneem waar sy glo toegesluit is sonder om voor die hof gebring te word. Sy is eers die Sondag uit die selle gehaal nadat sy na bewering twee nagte daar deurgebring het en geen kos en water ontvang het nie.
Die polisie het haar daarna na die selle by die polisiekantoor in Klein-Windhoek geneem, waar sy ook twee nagte deurgebring totdat sy op 12 Desember vrygelaat is. Dit was nadat ‘n staatsaanklaer bevind het daar is nie gronde om haar te vervolg nie.
Gaingos voer in hofstukke aan sy was vier maande swanger toe sy in hegtenis geneem en in die selle opgesluit is. Volgens haar moes die nege polisiebeamptes haar swangerskap in aanmerking geneem het en vir redelike sorg voorsiening gemaak het.
Sy sê verder sy het vir twee nagte nie geslaap nie, was baie honger en ontwater en het koud gekry. Verder het sy maag- en abdominale pyn gekry vanweë die gebrekkige higiëniese omstandighede en ablusiegeriewe.
Weens die skok en geestelike angs is haar ongebore baba dood, voer sy aan. Sy is ná haar vrylating hospitaal toe waar die fetus verwyder is, sê Gaingos in die hofstukke.
Die saak is verlede week tot 19 Junie vir voorverhoorverrigtinge uitgestel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie