Ek gaan nie my tyd mors met Kim,' su00ea Trump
Ek gaan nie my tyd mors met Kim,' su00ea Trump

Ek gaan nie my tyd mors met Kim,' sê Trump

Die Amerikaanse president sê dit sal waarskynlik tyd neem om 'n ooreenkoms met Noord-Korea oor sy kernwapenprogram te bereik.
Enige ooreenkoms op volgende week se spitsberaad met Noord-Korea “sal op die ingewing van die oomblik wees”, het pres. Donald Trump van Amerika Saterdag in Kanada gesê.

“ ’n Mens weet nie. Dit is nog nooit voorheen op hierdie vlak gedoen het,” het hy aan verslaggewers gesê aan die einde van die G7-beraad wat in La Malbaie in Quebec, Kanada, gehou is.

Die belangrikste kwessie op die spitsberaad op 12 Junie in Singapoer is Amerika se eis dat Noord-Korera sy kernwapenprogram staak. Trump sê dit sal waarskynlik tyd neem om ’n ooreenkoms met Noord-Korea hieroor te bereik, maar hy glo die spitsberaad sal minstens ’n “verhouding” tussen die twee lande tot stand bring. Daar is geen diplomatieke bande tussen Amerika en Noord-Korea nie.

Amerika het 28 500 troepe in Suid-Korea, ’n nalatenskap van die Koreaanse oorlog. Trump noem die moontlikheid dat daar ’n ooreenkoms met Kim Jong-oen, die Noord-Koreaanse leier, gesluit sal kan word om die Koreaanse oorlog formeel te beëindig. Die oorlog, wat van 1950 tot 1953 gevoer is, is deur ’n skietstilstand beëindig. Daar is nooit ’n vredesverdrag gesluit nie.

Trump het Saterdag gesê hy sal binne ’n minuut weet of iets goeds uit die spitsberaad sal vloei. “En as ek dink dit gaan nie gebeur nie – ek gaan nie my tyd mors nie. Ek wil nie sy tyd mors nie.”

Intussen het hy ook gekla almal besteel Amerika se spaarvarkie.

“Ons is soos ’n spaarvarkie wat deur almal besteel word,” het pres. Donald Trump Saterdag gesê op die beraad van die G7-lande waar hy gekla het oor onbillike handelspraktyke teen Amerika.

Die groep van sewe lande het Saterdag ooreengekom om proteksionisme te beveg en om die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) te hervorm. Trump het die sitting van die G7 vroeg verlaat. Hy het ook laat by ’n ontbytsessie opgedaag.

Op ’n nuuskonferensie voordat hy weg is uit Quebec in Kanada waar die sewe lande – Kanada, die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Italië en Japan – vergader het, het Trump gesê die gestelery uit die Amerikaanse spaarvarkie gaan end kry of “ons gaan ophou handel dryf met hulle (ander lande)”.

Dr. Angela Merkel, kanselier van Duitsland, het erken daar is verskille tussen die VSA en die ander ses lidlande, maar het gesê ’n gesamentlike verklaring oor handel kan verwag word aan die einde van die tweedaagse beraad in La Malbaie, Quebec.

Duitsland en ander lede van die Europese Unie, sowel as Kanada en Mexiko, was verlede week ontstoke oor invoertariewe wat Trump ingestel op hul aluminium- en staalinvoer na die VSA.

Merkel het gesê daar is algemene instemming onder die G7-leiers dat tariewe en ander handelsbeperkinge verminder moet word. “Dit is gemeenskaplike beginsels, hoewel die slaggate in die detail is.

“Vir ons is dit belangrik dat ons ’n onderneming het vir ’n handelorde wat op vasgestelde bepalings funksioneer, dat ons voorgaan om te veg teen proteksionisme en dat ons die WHO hervorm,” het Merkel gesê.

Trump, wat herhaaldelik gesê het die tariewe is daar om die VSA se bedryf en werkers te beskerm van wat hy beskryf het as onbillike internasionale mededinging, het gesê hy het aan die ander G7-leiers voorgestel dat weggedoen word met alle handelsversperrings, waaronder tariewe en subsidies.

Hy het ontken dat daar onenigheid op die beraad was. Vroeër het ’n amptenaar van die G7 gesê daar was ’n lang relaas van beskuldigings, ietwat bitter verslae dat die VSA onregverdig behandel word, dat die handelstelsel heeltemal ongunstig vir die VSA, sy ekonomie, sy werkers en die middelklas is.

Volgens die amptenaar het pres. Emmanuel Macron van Frankryk “hoflik maar baie ferm” gereageer en die Europese kant gestel, met Sjinzo Abe, die Japanse eerste minister, wat ook sy saak gestel het.

Daar was ook ’n meningsverskil oor die G7 se standpunt oor klimaatsverandering en Trump het voorgestel dat Rusland weer tot die groep toegelaat word. Rusland is in 2014 uitgeskop weens die anneksasie van die Krim-skiereiland. Merkel het Saterdag gesê daar sal eers vordering met ’n vredesplan vir die Oekraïne moet wees voordat daar enigsins gepraat kan word om Rusland her toe te laat. - Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!