'Ek hang jou naam aan die sekelmaan'
Boet Matthews - Toe word 'n voormalige bode/drywer (en later sportverslaggewertjie) van Republikein gevra om een van die grootste literêre reuse van die Afrikaans taal langs hierdie weg te groet.
Des Erasmus. Een van daai skrywers wat 'n mens net een maal in jou lewe ontmoet en die man wat die deur na joernalistiek vir my oopgemaak het. Des die Meester. Meester van sy taal, meester woordsmid, meester van harde nuusstories, meester van sketse skryf en meester van sportverslaggewing.
En Des, die pa wat ek nie gehad het nie.
As ek laat Desembermaande by Des se kuskantoor aangemeld het, het dit gevoel ek gaan huis toe. As leermeester was hy genadeloos.
“Boetieman, jy is nou in Swakopmund. Eet 'n woordeboek vir brêkvis. Hier skryf ons in Afrikaans en ons werk totdat ons elkeen vier stories in die boks het.
Sport, vasbyt, moervloek of erfveilings. . . Jy sal jou kwota volmaak, nes die vistermanne hul sardynkwota moet vol vang,” was sy woorde met die intrapslag vir my eerste “semester” onder Des se groot vlerk. Op 'n vaderlike trant het hy een aand met saktyd vir my gesê ek moet altyd honger bly sodat iets my druk na moontlike oplossings op al die vrae wat die lewe kan vra.
“In die niks. Dis waar die antwoorde skuil,” het hy gesê terwyl hy verduidelik het dat daar twee soorte joernaliste is.
“Fetchers en reporters,” het hy hulle genoem. En my duidelik laat verstaan dat ek nog nie naasteby een van die twee was nie.
Met Des se heengaan word 'n tydperk afgesluit.
Hy is waarskynlik die laaste van 'n heroïese generasie Afrikaanstalige skrywers.
Hy was 'n embleem en vergestalting van daardie groep wat die beklemmende, vorige hegemonie kaalpen aangepak het in sy Joernaal-koerantdae al. Dit was die ou Suidwes-Afrika se eerste koerant vir anderskleuriges en agtergeblewenes en Des het toe al 'n moerse verskil gemaak (meer so as enige papbroek politikus).
Ek sal hom onthou as vrygewig en gewillig met sy tyd en sy raad en sy kennis. Des het nie maklik ander mense gekritiseer nie, maar hy het 'n ding gehad oor korrupsie, domheid, onverdraagsaamheid, 'n gebrek aan etiese verbeelding, vraatsug en onbekwaamheid. En werketiek.
Ek wil nie sê dis te laat nie. Maar ek sou graag vir hom wou kon sê dat ek hom die laaste vyf jaar gemis het as makker en medepligtige.
Menige maal het ek met 'n oop bek na die reuse-intellek geluister en nuwe respek gekry vir daai enorme brein wat nooit iets wat hy gelees het, vergeet het nie. Hy het 'n ongelooflike werkywer gehad, soos blyk uit die 100-bladsy plus vakansiebylaes van hom en Anneli en die talle boeke wat hy bo hoogwater en onder laagwater (en soms met springgety!) geskryf het.
En vir die wat nie weet nie: Des het kwalik twee vingers gebruik as hy sy “skryfmasjien” in hoogste rat gegooi het!
Met die nuus van Des se laaste vaarwel het 'n hele stuk versweë menslike geskiedenis voor my geestesoog begin afspeel. Tye gedeel met dié Des wat die kuskantoor as my lêplek vir die nag ingeruim het, wat in een namiddag sewe stories uitgespoeg en voorsien het van die beste opskrifte denkbaar en die maat wat my altyd herinner het aan die dae “van regte joernaliste” wat op tikmasjiene aangrypende inleidings geskryf het.
Ons almal sal jou môreoggend help graf toe dra Meester, maar ek weet binne-in daai kis is die wonderbaarlikste bondel elektro-magnetiese energie wat ooit oor my lewe gespoel het. Sulke energie kan nie sterf nie. . .
Langenhoven het dit beter gestel as wat ek ooit sou kon:
Ek hang jou naam aan die sekelmaan
Vir my sal jy tot in ewigheid bestaan
* Boet Matthews is Republikein se voormalige sportredakteur.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie