'Ek is blind en ek het goud'
Atletiek se Dawid en Jonatan proe glorie in Rio
Henriette Lamprecht - Vroeg reeds moes hy geweldige struikelblokke oorkom en daarmee vrede maak dat hy op die ouderdom van sewe nou as blinde die wêreld sou moes aanpak.
Vandag spog die 30-jarige Ananias Shikongo met drie medaljes wat hy vanjaar by die Paralimpiese Spele in Rio verower het, een daarvan goud en boonop in ’n nuwe rekordtyd.
Sy nederige begin strek tot by Okankolo in die Oshikotostreek, ’n klein nedersetting naby Ondangwa waar hy saam met vyf susters en vier broers grootword.
Op die ouderdom van vier verloor hy die sig in sy linkeroog.
“Ek het agterop my broer se rug gesit wat voëls met ’n pyl en boog geskiet het. Die pyl het my in die oog getref toe dit terugval grond toe.”
Hy begin sy skoolloopbaan by die Gekombineerde Skool Etanga, maar in dieselfde tydperk tref ’n tweede tragedie hom waartydens hy ook die sig in sy ander oog verloor. Die sewejarige seun word deur ’n donkie in die gesig geskop, met onherstelbare skade wat aangerig word aan die een oog waarmee hy nog kon sien.
“Dit was baie sleg, mense het gedink ek gaan dit nie maak nie. Die wangbeen was heel ingeskop.” Volgens Ananias is hy van die een hospitaal na die ander oorgeplaas met die diagnose dat niks vir hom gedoen kan word nie. Uiteindelik beland hy in die staatshospitaal op Oshakati waar hy ’n operasie ondergaan, maar sy sig en oog kan egter nie gered word nie.
Hy erken dit was ’n “moeilike lewe”.
“My broers en susters kon almal sien en rondhardloop en speel. Ek kon nie, ek wou net sit.”
Sy broers en vriende wou egter niks hiervan weet nie en het hom oral saamgenooi. Wanneer hulle beeste of bokke moes gaan oppas, was sy vriende sy oë.
Ook sy ma het haar seun gou laat verstaan sy blindheid is nie ’n verskoning is om iets nié te wil doen nie.
“Sy het dit geken, want my ouma was ook blind en sy het normale dinge gedoen.”
Ananias se aanpassing by die Spesiale Skool Eluwa was moeilik, vertel hy. Nie net moes hy as blinde seun sy nuwe omgewing en omstandighede baasraak nie, maar hy sou nou ook in die koshuis moes bly.
“Ek het die eerste dag só gehuil, my ma wou my maar liewer terugvat huis toe. Die onderwysers het egter gesê sy moet my daar los, ek moet saam met die ander kinders by dieselfde omstandighede aanpas.”
Ook die braille wat hy nou as blinde moes aanleer, was ’n reuse-uitdaging.
“Ek het mos al geweet hoe lyk die letters in die alfabet en dit verskil heeltemal van braille. Die vorms is verskillend en punte is baie belangrik!”
In graad 11 val hy by die Hoër Tegniese Skool (HTS) in Windhoek in as leerling waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi. Weer is die aanpassing groot omdat hy nou as blinde persoon saam met leerlinge wat wél kan sien, klasse moes bywoon.
“Die ander leerlinge was nie gewoond daaraan om ’n blinde persoon saam met hulle te hê nie. Hulle sou teen my stamp of nie aangebied het om te wys waar die klasse was nie. Ek moes trappe op en af en het nie altyd geweet in watter rigting die klas was waarheen ek volgende moes gaan nie.”
Hoewel sy handboeke in braille was, was onderwysers nie opgelei of gewoond daaraan om onderrig aan te pas vir dié van ’n blinde persoon nie.
“Die onderwyser sou iets op die swartbord skryf en verduidelik, met die aanvaarding dat almal dit kan sien en verstaan. Vir my was dit egter ’n groot probleem.”
Hy het aan atletiek begin deelneem en gou in baannommers begin uitblink. In dié tyd het Ananias nie saam met ’n gids gehardloop wat hom op die baan kon lei nie.
“Mense het aan die einde van die 100 meter gestaan en blikkies met klippies in geskud. Ek het geweet ek moet na die geraas toe hardloop.”
Hy is gekies as deel van ’n span wat op Oshakati sou gaan deelneem en wel saam met atlete met sig.
“Hulle wou ons saam sit met atlete wat kan sien, die blindes was nie in ’n kompetisie nie.”
Hy verwerf sy Namibiese kleure ná deelname aan ’n byeenkoms waaraan atlete van onder meer die Skool vir Gesiggestremdes in Windhoek deelgeneem het.
Finansiële ondersteuning vir deelname in Suid-Afrika is soms gebrekkig, met Ananias wat in 2005 sonder ’n gids in die buurland aan ’n kompetisie moet deelneem.
“Die regering het nie genoeg geld gehad om die gids ook saam te stuur nie. Ons moes gidse in Suid-Afrika vra of hulle saam met ons sal deelneem. Dit is egter baie belangrik dat jy die regte gids moet hê, want jy is totaal van hom afhanklik.”
Met sy eerste Paralimpiese Spele in 2012 in Londen is Ananias se medaljedrome vroeg in die kompetisie weens ’n besering verydel.
“Ek het in die eerste wedloop waaraan ek deelgeneem het, ’n besering opgedoen.”
Hoewel hy teleurgesteld is, oefen hy steeds hard en kwalifiseer vir verskeie byeenkomste in die buiteland waaronder die Wêreldkampioenskappe in Frankryk waar hy ’n silwer- in die 200 m en ’n bronsmedalje in die 100 m verower.
Sy boesemvriend en mede-atleet wat hy in HTS ontmoet het, Johannes Nambala, is sy oefenmaat.
“Ons het in die Babilon-woonbuurt gebly en om 13:00 na die Katutura-kompleks begin stap waar ons geoefen het. Dan het ons darem ’n tydjie gehad om bietjie te rus voor ons om 16:00 begin oefen.”
Stap was die enigste keuse omdat hulle nie geld vir ’n taxi gehad het nie.
Soms het hul afrigter met taxigeld gehelp of die atlete halfpad onderweg na hul huis gaan aflaai.
Verlede jaar het die twee atlete met voorbereiding vir buiten vanjaar se Paralimpiese Spele ook vir die Afrika Spele begin. Op die Afrika Spele stap hy met drie goue medaljes weg, terwyl hy op die Wêreldkampioenskap ’n silwermedalje in die 200 m verower.
In Januarie vanjaar is die opdrag van hul afrigter vir die komende Paralimpiese Spele kort en kragtig – bring ’n medalje huis toe! Die twee vriende besluit om alles vir hul medaljedroom te gee en sit hul geld bymekaar om maandeliks N$500 se taxigeld te betaal om by die Katutura-kompleks te gaan oefen.
“Ons het toe egter nie geld vir kos nie en my broer het ons daarmee gehelp.”
Ananias ontmoet ’n man uit Duitsland wie se seun ook goed in sport is. Dié ontwikkel ’n webtuiste, www.ananiasshikongo.com wat die verhaal van Namibië se steratleet vertel. Danksy die webtuiste kry hy finansiële ondersteuning uit die buiteland wat help om vir kos en vervoer te betaal. In Junie woon hy en Johannes ’n oefenkamp op die vooraand van die Paralimpiese Spele by. Sy kop was reg vir wat voorlê, vertel Ananias. Hy was verseker van vier goed: Die kompetisie gaan straf wees, maar God, sy afrigter en sy gids was aan sy kant.
“Ek was ook baie fiks en het onder meer by die Universiteit van Namibië se mediese skool in die gimnasium en in die swembad geoefen. ’n Kubaanse afrigter het ook gehelp.”
Met sy eerste uitdun vir die 100 meter deel hy die baan met ’n Brasiliaanse atleet en ’n stadion vol lojale landgenote wat luidkeels hul atleet ondersteun wat ’n medalje in verspring verower het.
“Die mense het ’n vreeslike klomp geraas gemaak. Ek het dié betrokke atleet vroeër die jaar geklop, maar gelukkig was daar nie nog Brasiliaanse atlete in my uitdunne nie!”
Ananias verower bronsmedaljes in die 100 meter sowel as die 400 meter. In die aflosse vaar die Namibiërs egter glad nie goed nie, maar sy glorie het gewag in die finale van die 200 meter T11-item waarin hy reeds in die semifinale ’n nuwe Paralimpiese rekord van 22.48 sekondes opgestel het.
TRANE VLOEI
Met die finale rondte was hy vas oortuig ’n medalje is binne hul bereik.
“Ek het vir my gids, Even Tjiviju, gesê ons moet die kans aangryp om ’n medalje te wen, dit gaan nie weer gebeur nie.”
Twee Brasiliaanse atlete was deel van die epiese finaal en het reuse-ondersteuning van die tuisskare gekry. Toe hy hoor die goue medalje is hulle s’n en boonop is die Paralimpiese rekord gebreek, het die trane gevloei.
Sy nuwe rekord van 22.44 sekondes was net 0.03 sekondes buite die wêreldrekord.
“Ek het baie gehuil! Ek het met my spykerskoene gehardloop waarvan die een geskeur is, maar ek is mal oor my skoene.”
Natuurlik was hy oorstelp toe die Namibiese volkslied tydens die oorhandiging van die goue medaljes gespeel was.
“Ek het altyd wanneer dit iewers gespeel het, gedink ek gaan dit eendag by die Olimpiese spele sing. Ek het daardie dag uit volle bors gesing!”
nAMIBIESE HELD
Voorlopig is oefen ná maande se intensiewe oefen en voorbereiding eers op die agtergrond geskuif.
“Ek wil nou medaljes gebruik om te wys ’n blinde persoon kán ’n Namibiese held wees. Ek wil die speelveld gelyk maak. Die Namibiese regering bestee ’n klomp geld aan nie-gestremde atlete en hier is ek, blind, en ek wen goud!”
Waar Ananias gaan, daar gaan sy “broer”, huismaat en vriend, Johannes Nambala. Die band tussen hulle is duidelik en dis dikwels Johannes wat Ananias se oë in hul daaglikse omgang is. Die 25-jarige Johannes is self ’n wêreldklasatleet en het vanjaar Namibië se eerste medalje op die Paralimpiese Spele in Rio verower. Johannes het silwermedaljes in die mansafdeling van die T13 100 en 400 meter-kategorieë onderskeidelik gewen. Hy is sedert geboorte gesiggestremd, hardloop sonder ’n gids en spog ook met twee wêreldtitels en twee goue medaljes by die wêreldkampioenskap eers in Lyon, Frankryk, in 2013 (400 m) en verlede jaar in Doha (200 m). Dit vir ’n atleet wat eers in 2012 ernstig begin meeding het en die volgende jaar vir die eerste keer die Namibiese span gehaal het.
Johannes het naby Okahao in die noorde van die land grootgeword en is een in ’n gesin van vier broers en vyf susters. Ook hy was ’n leerling aan die Spesiale Skool Eluwa en dit is hier waar sy vriendskap met Ananias begin het. Johannes is gesiggestremd gebore en het lae visie wat beteken hy het minder as 60% sig in albei sy oë.
“Dit kom in ons familie voor, my pa het ook lae visie. Ek is gewoond daaraan, dit is hoe ek grootgeword het.”
Die saadjie vir atletiek het tydens sy skoolloopbaan by HTS in Windhoek begin waar sy suster, ook ’n atleet, ’n leerling was. Die gogga het gebyt en Johannes het aan byeenkomste begin deelneem. In 2010 kwalifiseer hy vir die Sone 6-spele in Swaziland en verower ’n silwer- en bronsmedalje in onderskeidelik die 400 en 200 meter. In 2012 word sy wêrelddrome vir ’n wyle verydel toe beamptes by ’n kompetisie in Suid-Afrika sê hy kan nie as ’n gesiggestremde deelneem nie.
“Die klassifikasie bepaal in watter groep jy deelneem; ek het dit met 1% gemis.”
Dit was vir hom ’n geweldige skok, vertel Johannes.
“Ek het so hard geoefen om te kan deelneem en nou moes ek hoor ek kwalifiseer nie hiervoor nie. Hul opdrag aan my was om die volgende jaar terug te kom.” Dit het hy gedoen en op die koop toe ’n wêreldtitel verower.
In sy aanloop tot vanjaar se Paralimpiese Spele het hy verlede jaar as deel van die Visie 2016-span vir vier maande in Pretoria gaan voorberei. Vir sy droom om ’n medalje by die spele te verower, het hy “bitter hard” geoefen. In die 100 m verower hy ’n silwermedalje, verbeter die Afrika-rekord en word die eerste atleet om in dié kategorie onder 10 sekondes te hardloop. Hy mis ’n goue medalje in die 400 m met millisekondes.
Dit was baie emosioneel, erken hy. “Dit was my eerste spele en alles het so goed gegaan. Frank Fredericks het my ook kom gelukwens.”
Die feit dat hy vir so lank goed voorberei het, het ook gehelp om sy vrees te temper.
Jy moet jou drome volg, maan Johannes, want alles is moontlik.
“Jy moet ’n visie hê van dit wat jy wil bereik. Jy kan nie net sit en verwag dit moet vanself gebeur nie, jy moet hard werk daarvoor. Gebruik dit wat jy het. Dit duur dikwels tot tien jaar om ’n Olimpiese kampioen te wees en met elke fout of terugslag, staan jy op en probeer weer.”
Die strawwe oefensessies is vir Ananias en Johannes vir eers op die lange baan geskuif. In die nabye toekoms lê ’n besoek aan hul families in die Noorde om te gaan wys en vertel wat hulle in Rio bereik het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie