‘Ek is geen held’
Die voorlopige ongeluksverslag sal vandag aan die minister van werke en vervoer vir goedkeuring voorgelê word.
Francoise Steynberg
Ek is nie ’n held nie, want niemand het die ongeluk oorleef nie, sê mnr. Johannes Kambonde wat die vlieënier, mnr. Pierre Blaauw (40), Donderdag uit die brandende girokopterwrak gered het.
“Ek is verskriklik hartseer dat niemand oorleef het nie. Hulle kón oorleef het,” het Kambonde (45) aan Republikein gesê.
“Niemand het my gehelp om hulle te red nie. Almal het net foto’s en video’s geneem.”
Kambonde wat die afgelope twee jaar vir die voertuigverhuringsmaatskappy Hertz werk, het Donderdagmiddag op die ongelukstoneel afgekom toe hy vanaf die Internasionale Lughawe Hosea Kutako op pad huis toe was.
“Ek het uit die kar gespring toe ek die brandende wrak in die pad sien lê en die vlieënier uit die wrak uit probeer kom.
“Dit was nie maklik om hom uit te trek nie, want my hande het gebrand. Ek het my T-hemp uitgetrek en hom tot langs die pad gesleep, maar toe raak die droë gras aan die brand,” sê Kambonde gesê.
“Niemand het my gehelp om die brandende gras te blus nie. Ek wou nog teruggaan om die passasier ook uit die wrak te kry, maar toe moes ek eers die vlamme blus sodat die vlieënier nie brand nie,” vertel Kambonde ontsteld.
Hy sê hy het die hele tyd met Blaauw gesels terwyl hulle vir die nooddienste gewag het.
“Ek het hom gevra wat sy naam is en hy het Pierre geantwoord. Ek het gevra of hy getroud is, en hy het nee gesê.”
KOMMER OOR VRIEND
Kambonde sê Blaauw het deurentyd vir hom gevra hoe dit met sy vriend gaan.
“Ek het aan Blaauw gesê sy vriend is oukei. Later toe die nooddienste daar was, het ’n paramediese beampte aan hom gesê sy vriend is nie meer daar nie. Hy moes dit nie aan hom gesê het nie,” meen Kambonde.
Hy sê hy het nog geen traumabehandeling ná die voorval ontvang nie.
“Dit was ’n pynlike ervaring vir my om mense in die vlamme te sien.
“Ek werk die feestyd en gaan elke liewe dag by die ongelukstoneel verbyry en die merk in die pad gaan my altyd aan hierdie pynlike voorval herinner. Ek weet nie of daardie merk ooit uit die pad gaan verdwyn nie.”
Kambonde wat oorspronklik van Ondangwa is en sedert 1999 in Windhoek woon, is getroud en het nege kinders.
“Ek is ’n familieman en my hart gaan uit na die families van die slagoffers. Ek wil graag weet wanneer hulle begrafnisdienste is.”
Die passasier het in die ongeluk omgekom en Blaauw is in ’n kritieke toestand met erge brandwonde na die Lady Pohamba Private Hospitaal in die hoofstad gehaas, maar is vroeg Vrydagoggend dood.
NADOODSE ONDERSOEK
Komm. Nelius Becker, hoof van die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NPSFI), het Vrydag aan Republikein gesê Blaauw se nadoodse ondersoek behoort vandeesweek afgehandel te wees.
Die passasier wat die eerste slagoffer van die ongeluk was, is Vrydag amptelik as mnr. Danboldt Noa (26) geïdentifiseer.
Becker het gesê die amptelike identifisering is bepaal deur fisieke uitkenning, asook deur die oorblyfsels van sy klere en juwele. Foto’s en video's wat Noa met die ongeluk verbind, het volgens Becker ook die deurslag gegee.
Volgens die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, is Noa 'n seun van die direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommisie (ACC), mnr. Paulus Noa, wat positief deur sy familie geïdentifiseer is.
“Die oorledenes se naasbestaandes is ingelig,” het sy gesê.
Die polisieondersoek in samewerking met die direktoraat van vliegtuigondersoeke in die ministerie van werke en vervoer duur voort, sê Becker.
Die voorlopige ongeluksverslag sal volgens die direktoraat vandag aan die minister, mnr. John Mutorwa, vir goedkeuring voorgelê word.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie