'Ek is nie 'n held'
Die ma van twee wat haar lewe gewaag het om 'n baba langs 'n wrak te red, sê sy het die baba net vasgehou en liefde gegee 'soos enige ma sou'.
Tanja Bause
“Ek het my seun daar sien lê. Een van my eie, en net tot aksie oorgegaan,” het me. Tulonga Neputa, 'n ma van twee kinders, gesê, wat oornag 'n held geword het.
Neputa was in 'n minibus op pad kus toe, toe hulle op 'n ongeluk tussen 'n sedanvoertuig en 'n dubbelkajuitbakkie op die hoofpad tussen Windhoek en Okahandja afkom.
“Ek het die baba langs die wrak in die pad sien lê en rook uit die enjin sien trek toe ons verbygery het. Die ongeluk moes sopas gebeur het. Stof het nog in die lug gehang.
“Toe ons stilhou, het ek uitgespring en na die wrak gehardloop. Ek het nie gedink nie. My moederinstink het ingeskop en ek wou die baba net help. Ek is nie 'n held nie,” het sy gesê.
Volgens Neputa het die agt maande oue baba langs die bakkie gelê en huil.
“Hy het hulp nodig gehad. Ek het hom én die sak met sy melk en doeke, wat langs hom gelê het, opgetel en terug minibus toe geloop.”
Sy sê een van die sedanvoertuig se deure moes die baba net-net gemis het, aangesien dit langs hom gelê het.
Volgens Neputa het sy sowat 'n uur lank saam met die baba by die minibus vir die polisie en ambulans gewag.
“Ek het sy klere uitgetrek om te kyk of hy beserings het. Hy het by sy mond uit gebloei. Ek het die bloed afgevee en hom skoongemaak. Ek wou hom iets gee om te drink, maar hy was te ontsteld.
“Ek het hom net vasgehou en getroos tot die nooddienste opgedaag en hom versorg het. Ek het hom net liefde gegee en vasgehou soos enige ma sou doen.”
Neputa, wie se twee seuns onderskeidelik vier en vyf jaar oud is, en haar kollegas van die Padfondsadministrasie (RFA), was op pad kus toe om aan die Staatsondernemingspele (SOE Games) deel te neem toe hulle op die ongeluk afkom.
Die video-opname van Neputa wat die baba red, het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei en kitsroem aan haar besorg.
Die ongeluk het Donderdag omstreeks 14:30 sowat 25 km buite Okahandja op die hoofpad na Windhoek plaasgevind.
Volgens hoofinsp. Kauna Shikwambi, woordvoerder van die Namibiese polisie, het een van die sedanvoertuig se bande gebars en het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en teen die aankomende bakkie gebots.
“Ons glo ook die sedanvoertuig het teen 'n geweldige spoed gery,” het Shikwambi gesê.
Die vier passasiers in die sedanvoertuig en die bestuurder van die bakkie het op die toneel gesterf. Die enigste oorlewende in dié ongeluk is die baba wat gered is.
Baba Dex
Intussen het die baba se pa, mnr. Jürgen Geiger, uit die hospitaal laat weet dit gaan baie goed met baba Dex onder die omstandighede.
“Sy arm is gebreek en hy het skouerbeserings in die ongeluk opgedoen. Hy het ook kneusplekke oral oor sy lyfie en bloeding in sy linkeroor, waaroor ons bietjie bekommerd is,” het hy gesê.
Vrydag het hulle nog vir finale bevestiging gewag, maar tot dusver lyk dit nie of Dex skedelfrakture het nie. Net om versigtig te wees, het Jürgen en sy vrou, Nadja, nog 'n nag saam met hom in die hospitaal deurgebring.
Landbou verloor 'n leier
Die Namibië Landbou-unie (NLU) het met groot skok kennis geneem van mnr. Frank Heger se skielike afsterwe in 'n motorongeluk. Hy was lid van die NLU se Uitvoerende Raad (UR). Heger was glo van 'n UR-vergadering, waar hy betekenisvolle insette gelewer het, af op pad terug na sy plaas toe.
Hy het die trofeejag- en landboubedryf, asook die breë gemeenskap gedien. Hy het 'n passie gehad vir suksesvolle grondhervorming in Namibië en het die NLU ook op die ministerie van grondhervorming se raadgewende kommissie vir grondhervorming verteenwoordig.
Weens sy kundigheid en ervaring laat sy afsterwe 'n groot leemte in die landboubedryf.
Die NLU het sy meegevoel met Heger se vrou, Gudrun, sy drie kinders en sy familie uitgespreek.
Die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) het op Facebook gesê dit is met groot hartseer dat hulle van Heger se afsterwe verneem. Napha sê Heger het voortdurend insette in die nasionale jagbedryf gelewer en was instrumenteel om kundigheid na die jagprofessie in Namibië te bring.
“As Napha-president vanaf 1998 tot 2005, het hy die vereniging nasionaal en internasionaal nuwe hoogtes laat bereik. Sy kennis en edele insette sal in die hele bedryf met dankbaarheid onthou word,” het Napha geskryf.
Hulle het ook hul simpatie met sy familie uitgespreek.
SOE-toekenning
Die Staatsondernemingsforum (SOE-forum) het sy voorsitterstoekenning hernoem.
Dié toekenning gaan aan spanne of individue wat spangees en toewyding tydens die jaarlikse SOE-spele toon.
Dit is nou hernoem na die Tulonga Neputa-toekenning.
Sy is 'n senior interne ouditeur by die RFA en het 'n naweek se verblyf by die Namibia Wildlife Resorts (NWR) se Popa Falls-kamp gewen, gratis vlugte na Popa Falls en terug, asook kontant wat sy tydens haar naweek daar kan spandeer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie