Ek sal niu00e9 bedank, su00ea ECN-baas
Ek sal niu00e9 bedank, su00ea ECN-baas

Ek sal nié bedank, sê ECN-baas

Die manier waarop die kieskommissie die verdwyning van stemtoestelle hanteer, ondermyn demokrasie, meen opposisiepartye.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die voorsitter van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), adv. Notemba Tjipueja, sê sy sal nie haar pos ontruim nie.

Dít kom nadat die president van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, gister aangedring het Tjipueja moet binne 24 uur bedank.

Boonop eis die amptelike opposisie – saam met hul koalisievennoot, United People’s Movement (UPM) – dat Tjipueja in die openbaar om verskoning vra vir die gemors oor die verdwene elektroniese stemtoestelle (EVM’s).

Toe Republikein die ECN-voorsitter gister oor die PDM se versoek inlig, het sy gesê: “En? Ek het geen kommentaar daarop nie.”

Sy sê “daar is niemand wat kan eis ek moet bedank nie”.

Op ’n nuuskonferensie gister in die hoofstad het Venaani gesê: “Dit reën nie by die ECN nie; dit stort.”

Volgens hom het die nasionale kiesliggaam Namibiërs oor ’n aantal EVM’s belieg wat twee jaar gelede in Swapo se besit verdwyn het.

“As hulle vir ons oor ’n polisieondersoek kan lieg, sal hulle drie keer meer oor verkiesings lieg. Vir ons is dit onaanvaarbaar. Kiesers in dié land word om die bos gelei.”

Hy het verwys na die ECN se weergawe dat ’n polisieondersoek na die verdwyning van stapel gestuur is.

Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, die nasionale polisiehoof, het gisteroggend opnuut tydens ’n onderhoud met die geselsradiostasie Eagle FM gesê ’n saak is nooit aanhangig gemaak nie.

Tjipueja het wel die afgelope week in ’n volbladadvertensie in die gedrukte media gebieg ’n klag is nooit ingedien nie.

Volgens haar was die voormalige hoofkiesbeampte, prof. Paul Isaak, net in gesprek met wetstoepassers hieroor.

“Die polisie ondersoek nie gesprekke nie,” sê Venaani.

Isaak het gister weer nie sy foon geantwoord of op boodskappe gereageer nie.

Venaani sê die ECN kan nie onder Tjipueja se leiding met die verkiesings vertrou word nie.

Boonop wil hy by die voorsitter weet hoekom die ECN sensitiewe stemtoestelle aan buitepartye leen.

Oor die ECN en die minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, se verduideliking dat die EVM’s van ’n wa getuimel het, sê Venaani: “Hulle het glo soos bokke van ’n sleepwa afgeval.”

Shanghala het in Julie 2017 namens Swapo verantwoordelikheid vir die geleende toerusting aanvaar.

In dié stadium onttrek die PDM en UPM nog nie aan die verkiesings nie, het Venaani gesê.

Hy het hul besluit verdedig om die afgelope week nie die 1992-gedragskode vir politieke partye te onderteken nie, deur te sê die koalisie se naam is nog nie op stembriewe aangebring soos versoek is nie.

Buitendien het die ECN ook nog nie aan hul versoek voldoen om skriftelike magtiging te verleen dat hulle die finale stemtellery ná 27 November kan meemaak nie.

’n Mondelinge onderneming deur die ECN skiet tekort, meen hy.

Republikein wou by Venaani weet watter daadwerklike stappe hulle gaan doen sou daar nie aan hul eise voldoen word nie.

“Ons sal verskeie strategieë gebruik om die ECN te ondermyn soos ons ondermyn word,” het hy gesê.

Die opposieleier sê van hul veldtogmateriaal is reeds van lamppale afgepluk.

Die gedragskode, wat net deur Swapo en die National Democratic Party onderteken is, probeer onder meer vandalisme van bemarkingsplakkate verhoed.

Die onafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula, beplan vir môre ’n betoging in Windhoek om die ECN te dwing om van papierstembriewe gebruik te maak.

Mnr. Henk Mudge se Republican Party (RP) het gister sy nuuskonferensie in dié verband uitgestel.

Swapo het ’n nuuskonferensie vir vandag belê.

Hul uitnodiging aan die media verswyg dié vergadering se agenda.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!