'Ek sal nooit ophou slange vang'
'Ek sal nooit ophou slange vang'

'Ek sal nooit ophou slange vang'

Tussen Augustus 2015 en April vanjaar het Francois en sy span 183 slange in die Windhoek-omgewing gevang om mense te help maar ook om navorsing te doen.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Bietjie meer as 48 uur nadat bekende slangvanger Francois Theart verlede Dinsdag deur 'n swart mamba gepik is, het hy sy werk met dieselfde slang voortgesit en soos altyd die reptiel se mates geneem, voor hy hom weer vrygelaat het.

Net voor sy afspraak gister met Republikein, het hy gou eers 'n Angolese kobra gaan vang. Saterdag het hy 'n sebraslang uit iemand se motor gehaal en'n bruin huisslang in iemand se huis gevang.

“Ek sal nooit ophou slange vang nie. Ek is ongelooflik passievol oor wat ek doen. Eendag wil ek kan terugsit en sien dat ek tot navorsing oor reptiele, slange asook slangbyte in hierdie land bygedra het.”

Francois het selfs in die intensiewe-sorgeenheid van die Rooms-Katolieke hospitaal oproepe oor slange ontvang en sy mense uitgestuur om te gaan help. Dit, kort nadat hy 'n behoorlike byt van Afrika se giftigste slang ontvang het toe hy hom by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako wou vang.

“Nee, ek het nie gedink ek gaan doodgaan nie, ek het vertroue in die mense wat my gehelp het. Ek is al baie gebyt deur nie-giftige slange, maar dit is die eerste volle byt wat ek van 'n giftige slang gevat het,” sê Francois.

Al wat hy nou oor het, is 'n relatief klein kneusplek op sy regterheup.

“Ek wil nie hê hierdie mamba moet nou as 'boos' uitgebeeld word nie. Hy het my gebyt as gevolg van 'n fout wat ek gemaak het. Boonop is hy twee ure lank rondgejaag,” het Francois gesê.



GROOT KALMTE

'n Facebook-video wat wys hoe hy die swart mamba by die lughawe in 'n houer plaas en daarna kalm op die grond gaan sit en sy dokter

bel, het groot opslae op sosiale media gemaak.

“In die video het ek alreeds geweet ek is gebyt.”

Francois sê hulle het gesukkel om die mamba voor die terminaalgebou uit 'n boom te kry. Dit het naderhand self uitgeval en koers gekies terminaal toe, waar hordes mense hulle gestaan en dophou het.

“Ons het versperrings opgesit, maar die mense het dit geïgnoreer, wat alles baie moeilik gemaak het. Die slang het waarskynlik daarna toe probeer seil omdat dit die enigste skuilplek was.”

Francois sê hy het die slang agterna gesit en hom in 'n hoek vasgekeer.

“Ek het die slang met die verkeerde gryper probeer vang. Gevolglik het ek te veel ruimte gelaat dat hy kon terugdraai en my byt.

“Ek het net iets verby my sien flits, maar niks gevoel nie. Toe ek die slang onder beheer begin kry en in die houer plaas, het ek gevoel iets brand in my sy. Toe ek die twee gaatjies sien, het ek geweet daar is moeilikheid.

“Ek het toe net plat gaan sit en eerste my goeie vriend en mentor, dr. Christo Buys, gebel. Wat die behandeling van slangbyte betref, is daar niemand beter in hierdie land nie,” het hy gesê.

Dr. Buys het die nodige reëlings by die hospitaal getref. Francois sê Buys het al baie navorsing oor slangbyte gedoen en in die 42 jaar wat hy met pasiënte werk wat deur slange gebyt is, het hy nog nooit 'n pasiënt verloor nie.



SIMPTOME

“Ek het so tien tot vyftien minute ná die byt simptome begin ervaar. Dis toe dat ek besef hierdie is 'n ernstige byt.”

Francois sê hy het 'n tintelende gevoel op sy lippe en tong begin ervaar asook 'n naalde-en-spelde-gevoel oor sy hele lyf. Daarna het hy krampe in sy arms, lae rug en nek gevoel en toe begin opgooi. Sy mond het begin kwyl, sy ooglede het gehang en hy het sleeptong gepraat.

“Dit voel asof iemand op jou bors staan, want jy sukkel om asem te haal.

“Ek het self nog vir E-Med Rescue uit die kar gebel. Hul ambulans het ons halfpad gekry, my oorgelaai en op drup gesit. By die Rooms-Katolieke hospitaal het ek agt ampules teengif gekry. Dis so 80 ml.”

Francois sê sowat 'n uur het verloop vandat hy gebyt is totdat hy die teengif kon kry.

“Dit wissel geweldig van persoon tot persoon, maar jy kan binne 'n uur tot agt ure sterf nadat 'n swart mamba jou gebyt het. Ernstige simptome kan tussen 30 tot 40 minute ontwikkel.”

Francois sê as gesoute slangvanger het hy 'n sekere protokol wat hy volg as hy gebyt word. Hy is vir 48 uur in die hospitaal gehou, wat standaard is in geval jy vertraagde simptome toon.

“Daarna het ek reguit na die swart mamba gegaan. Hy was 1,92 m lank - nog 'n relatief jong slang.

“Ons doen navorsing op elke slang wat ons vang. Ons meet en weeg hulle, kyk watter impak die droogte op hulle het en dies meer.

“Daar bestaan soveel mites om dié slang. Dit is egter 'n baie skaam slang en hulle sal selde toelaat dat 'n mens nader as 40 m van hulle kom. Ek het al baie van hulle gevang en nog nooit het een my gejaag nie.

“Die slange is nie boos nie, hulle het 'n groter funksie in die omgewing en ek hoop dat mense kan besef dat hulle ook bewaar moet word.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!