u2018Ek skuld vir God my leweu2019
u2018Ek skuld vir God my leweu2019

‘Ek skuld vir God my lewe’

Denver Kisting
Denver Kisting – “Mammie, die Here het vir my só baie gedoen; ek skuld Hom my lewe.”

So het ’n 26-jarige jong ma, me. Zane-Lea Drotsky, vir haar ma, Sharon, gesê voor sy verlede Saterdag in die vroegoggendure weens Covid-19-verwante oorsake oorlede is.

’n Gebroke maar moedige Sharon het gister aan Republikein gesê: “Dis sulke diep woorde vir so ’n jong kind. Sy was sprankelend, lewenslustig en intelligent.”

Volgens Sharon wou sy by God weet hoe sy haar kind aan Hom kan opoffer, maar het uiteindelik berusting gevind. “Hoe gee ’n ouer daai kind so aan die Here af? Maar ek het vir Hom gesê: ‘Here, daar’s my kind.’”

Sharon sê Zane-Lea, haar middelste dogter van drie, is omstreeks 00:30 op 5 September in ’n private hospitaal in Windhoek oorlede.

Sy is op Vrydag 21 Augustus in dié hospitaal opgeneem nadat sy vir die virus getoets is omdat sy “al die simptome” van die siekte getoon het, vertel haar ma telefonies uit Rehoboth.

Hoewel die babaseun, Zach, eers vandeesmaand gebore sou word, het die dokter die dag nadat Zane-Lea opgeneem is, op ’n keisersnit besluit toe dit bekend word sy het wel Covid-19 onder lede.

Vroeër daardie week, vertel haar ma gistermiddag, het sy van die werk af laat weet sy voel nie lekker nie. “Mammie, ek voel glad nie lekker nie,” het sy vir haar ma gesê.

Sharon sê sy het toe gereël dat Zane-Lea huis toe gestuur word waar sy haar met ’n tuisgemaakte griepmengsel van onder meer gemmer behandel het. “Omdat sy swanger was, wou ek nie hê sy moes lank siek wees nie. Ek het die wêreld se vertroue gehad dat sy sou beter word.”

Hoewel Zane-Lea die volgende dag effens beter gevoel het, het haar toestand die daaropvolgende dag sodanig verswak dat hulle haar op doktersadvies van Rehoboth af Windhoek toe gebring het.

Sy is dieselfde dag opgeneem.

Nadat Zach gebore is, “was dit asof sy beter geraak het,” sê Sharon.

Hy is twee dae ná sy geboorte ontslaan, sê Sharon. “Baba is heel fine.”

Ondanks die vroeëre beterskap het Zane-Lea se toestand egter weer begin agteruitgaan – sodanig dat sy aan ’n ventilator gekoppel moes word, sê Sharon.

Die aand voor haar dood het dit gevoel asof sy afskeid neem, sê haar ma. “Sy het my indirek gegroet as ek kyk na die SMS’e. Sy het gesê die dokter sê sy moet rustig word en sy gaan nou op haar gesondheid fokus. Sy het gesê: ‘Mammie, pas vir julle op.”

Sharon sê haar dogter het toe foto’s gestuur van hoe ’n mens jou immuunstelsel kan versterk en gesê: “Hierdie siekte is nie ’n maklike saak nie.”

Sharon sê hulle het 28 Julie Zane-Lea se 26ste verjaardag gevier en het uitgesien na die baba se koms. “Sy het hierdie baba beplan en het darem bietjie van moederskap geproe. Daar sal ’n groot leemte wees in my lewe.”

Naas haar ma en babaseun, wat môre drie weke oud word, word Zane-Lea oorleef deur haar lewensmaat, mnr. Zachary Rickerts, twee susters, Elgean (29) en Debbie (18), familie en vriende.

Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer