Ek was my pa se enigste dogtertjie
Ek was my pa se enigste dogtertjie

Ek was my pa se enigste dogtertjie

Francoise Steynberg
Dit maak nie saak hoe oud ek is nie, ek was altyd my pa se enigste dogtertjie oor wie hy baie beskermend was.

Ons het ‘n besonderse, hegte band gehad, al is hy ver weg toe ek baie klein was.

My pa was baie kwaai, maar nooit kwaai met sy dogtertjie nie. Ek het net een pak slae ooit by hom gekry en was nooit weer 'n stout kind nie.

Hy was veral kwaai met die kêrels wat by sy dogter probeer vlerksleep het. Nee, hy het enige knaap wat by my wou kom kers opsit, se lewe louter hel gemaak. Niemand was ooit goed genoeg vir sy dogtertjie nie.

My pa het my ook van kleins af geleer dat ek alles so goed - nee, nóg beter - as 'n man moet doen. So het hy my alles geleer wat ‘n man kan doen: ‘n gloeilamp omruil, ‘n muurprop aansit, kar ry, ‘n wiel omruil, skiet, vuur maak, vleis braai - veral 'n skaaprib - en selfs trekker ry.

Ek moes, net soos my broer, vir my pa op die plaas werk. Saam met hom douvoordag koeie melk, hoenders vang en slagpale toe vat, al was ek al ‘n werkende vrou.

Hy het my baie ander goed geleer ook: nederigheid, lekker lag, lees, goeie musiek en weet wat in die wêreld aangaan. Op Lüderitz het hy my as 12-jarige leer dans.

Toe word hy siek. Veelvuldige sklerose. 'n Sterk boer met mooi, groot kuite verander in 'n klein, bedlêende man. Bedlêend vir baie jare, maar steeds met 'n vlymskerp brein. Luister radio, bly op die hoogte van nuus, kyk rugby en krieket en vra vir my strikvrae.

"Wat is 'n venue in Afrikaans?" Hy hou nie daarvan dat ek my taal meng nie. "Afrikaans is 'n mooi taal, praat dit mooi." Is teleurgesteld in my dat ek nie meer sing of klavier speel nie. Dit help nie as ek sê ek was die koningin van karaoke in Taiwan nie. "Jy begrawe jou talente onder die maatemmer."

Hy kon nooit verstaan dat ek by 'n koerant werk nie. "Waarvoor het jy so hard op universiteit geleer om so min te verdien?" Maar hy was trots op my as ek met die Chinese renosterstropers in die hof in hul eie taal kon praat. Hy was bekommerd oor hulle vir my in Mandaryns gesê het hulle weet waar ek bly. Hy sou nie trots daarop wees dat ek hulle toe in hul eie taal gevloek het nie, want hy het nie van vloek hou nie.

Sy agteruitgang was lank en uitmergelend, maar die ergste was toe sy spraak aangetas is. Ek kon nie eens meer met hom oor 'n telefoon praat nie. Ek was afhanklik van e-posse van 'n verpleegsuster in die ouetehuis oor my pa se welstand.

Toe ek in Oktober die laaste keer by my pa saam met my lang man was, het sy oë hom oral gevolg en ons kon uitmaak toe hy streng vra: "Hoe lank ken julle mekaar al?" Dit het gelyk of 26 jaar lank en "ek sal mooi na Oom se dogter kyk", hom tevrede gestel het. My pa was altyd bekommerd dat ek alleen gaan oudword.

Toe ek my pa groet, het ek geweet ek gaan hom nooit weer sien nie. Sy laaste opdrag aan my: "Jy moet 'n boek skryf."

Dit was die laaste keer wat ek vir hom in 'n tranerige, kleindogtertjiestem kon sê: "Ek is baie lief vir pa."

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!