Ekonome: 'Die geld is nou u00f3p!'
Ekonome: 'Die geld is nou u00f3p!'

Ekonome: 'Die geld is nou óp!'

Luidens Statistieke Suid-Afrika se syfers het die land se ekonomie in die derde kwartaal met 0,6% ingekrimp.
Elvira Wood



Die jongste inligting deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) oor die verdere verswakkende ekonomiese groei in die derde kwartaal beklemtoon die feit dat die ekonomie in 'n baie kommerwekkende posisie verkeer en dat kanse vir 'n ekonomiese herstel vanjaar baie skraal is.

Luidens SSA se syfers wat Dinsdagoggend bekend gemaak is, het die land se ekonomie in die derde kwartaal met 0,6% ingekrimp. Dit is teenoor 'n hersiene groeisyfer van 3,2% in die tweede kwartaal, maar 'n inkrimping van 3,1% in die eerste kwartaal van die jaar.

Dit is teenoor 'n jaar tevore.

“Die feit dat die ekonomie in die eerste ses maande van die jaar met minder as 1% gegroei het en die jongste groeisyfers vir die derde kwartaal in die reële bruto binnelandse produk (BBP) van -0,6% aan die aanbodkant en -0,3% in die reële binnelandse uitgawes aan die vraagkant van die ekonomie, het die waarskynlikheid bevestig dat die ekonomie nie in 2019 sal groei nie,” sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, stem saam met Brink.

“Gegewe die syfers wat ons reeds het, beteken dit die ekonomie gaan in die laaste kwartaal van die jaar met minstens 1% móét groei net om 'n groeisyfer vir die jaar van 0% te haal,” het Roodt gesê.

Roodt sê die inkrimping van 0,6% is baie swakker as verwag.

“Ek het nie veel groei verwag nie, en selfs 'n klein inkrimping, maar nie soveel nie.”

Roodt sê die syfer is nie net baie slegte nuus wat betref werkloosheid en armoede nie. Dit is ook sleg vir die land se kredietgradering. “Siende dat die BBP gekrimp het, beteken dit dat sonder dat die land 'n sent meer geleen het, het die BBP-tot-skuld en ander marges nou skielik gestyg,” verduidelik Roodt.

Dit is juis marges soos dié waar­oor kredietgraderingsagentskappe soos Moody's Investor Service baie bekommerd is.

Roodt meen dit is na dese 'n gegewe dat Moody's die land se staatskuld ook tot onder beleggingsgraad – oftewel rommelstatus – gaan afgradeer.

Moody's is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nog nie staatskuld tot rommel afgegradeer het nie. Hy het wel die vooruitsig in Oktober van stabiel tot negatief verander.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê hy dink ook daar is 'n kans dat rommelstatus die land se voorland is.

“Daar is na dese 'n baie groot kans dat die ekonomie binnekort in 'n resessie kan val,” waarsku hy.

“ 'n Kleiner BBP beteken noodwendig die staat gaan 'n kleiner inkomste uit belasting verdien. Die land beweeg nou al hoe nader aan die fiskale afgrond,” sê hy.

“Die geld is nou letterlik op,” sê Rossouw.

“Die staat kan nie meer groot verhogings vir staatsamptenare en reddingsboeie vir staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bekostig nie.

“Die staat gaan móét besuinig,” sê hy.

Dr. Johan Willemse, ekonoom van Agrimarkconsultants, sê die gebrek aan enige beleidsverandering is een van die redes hoekom die ekonomie nie groei nie.

“Voordat ons as sakelui nie praktiese verbetering in basiese dienste van die staat sien nie, is daar geen rede om te investeer of mense aan te stel nie.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!