Ekonome minder somber as verwag ná afgradering
Die onlangse afwaartse aanpassing van Suid-Afrika se kredietgradering van skuld in buitelandse geldeenhede gaan waarskynlik daartoe lei dat Suid-Afrika vanjaar weer nie ’n ekonomiese groeikoers van 1% gaan haal nie.
Dis die konsensus onder die 31 ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem nadat hulle die vorige maand nog groei van 1,27% in die vooruitsig gestel het.
Die deelnemende ekonome word elke maand gevra om voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes te doen, waarna die voorspellings deur prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Nagraadse Bestuurskool van die Universiteit Stellenbosch, in ’n konsensus verwerk word.
Verlede maand se voorspellings was die eerste geleentheid wat die ekonome gekry het om hul voorspellings aan te pas by die veranderende ekonomiese omstandighede wat ’n swakker kredietgradering noodwendig meebring.
So ’n gradering word gewoonlik gevolg deur ’n swakker wisselkoers, wat uitloop op hoër inflasie en hoër rentekoerse wat uiteindelik ’n demper op ekonomiese groei plaas.
Die ekonome voorspel reeds ’n swakker rand, hoër inflasie, hoër kapitaalmark- en uitleenkoerse en laer ekonomiese groei. Die ekonome se aanpassings is egter nie so dramaties soos wat ’n mense in die emosionele nadraai van die afgraderings verwag het nie.
13 van die 31 ekonome dink die ekonomie gaan met minder as 1% groei. Die voorspellings wissel tussen groei van 0,5% tot 1,5%, die voorspelling van verlede jaar se wenner, Rian le Roux van Old Mutual.
Roelof Botha van PricewaterhouseCoopers, gewoonlik die mees optimistiese ekonoom, het sy groeivoorspelling met ’n volle persentasiepunt afwaarts aangepas van 2,1% tot 1,1%.
Daar is vandeesmaand groter verskille tussen die voorspellings oor sekere veranderlikes wat op groter onsekerheid dui. Die ekonome verskil veral oor die waarde van die rand, waar die voorspellings tussen ’n gemiddelde wisselkoers in die laaste kwartaal van R12,75 vir ’n dollar tot R14,80 vir ’n dollar verskil. Die konsensusraming is ’n wisselkoers van R13,64 vir ’n dollar teenoor verlede maand se raming van R13,38. 14 van die 31 ekonome dink die rand sal in die laaste kwartaal tot meer as R14 vir ’n dollar verswak, maar die res is baie meer optimisties.
Trouens, 12 van hulle dink die rand sal min of meer op huidige vlakke bly of selfs verder sal verstewig tot ’n gemiddelde wisselkoers van minder as R13 vir ’n dollar.
Dawie Klopper van PSG Konsult voorsien ’n wisselkoers van R12,75 vir ’n dollar; Fanie Joubert van Unisa verwag R12,80 en Emile du Plessis van Finometrica en Annabel Bishop van Investec ’n wisselkoers van R12,90 vir ’n dollar. Verskeie ander verwag ’n wisselkoers van R13 vir ’n dollar – beter as die huidige vlak van sowat R13,30.
Daar word nou voorspel dat ’n euro vanjaar gemiddeld R14,58 sal kos teenoor die vorige maand se raming van R14,22. Toekomstige bewegings in die waarde van die rand sal waarskynlik afhang van wat met die plooibare politieke situasie in Suid-Afrika gebeur.
Daar is groter eenstemmigheid dat inflasie gaan styg en die konsensusvoorspelling is nou ’n gemiddelde inflasiekoers van 5,83% vir vanjaar, teenoor die vorige maand se raming van 5,75% Voorspellings wissel tussen 5,5% en 6,1%. Ondanks hoër inflasieverwagtinge lyk dit nie of die ekonome dink dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank sy primakoers dramaties gaan verhoog nie. Die ekonome verwag nou dat die primakoers in die laaste kwartaal 10,44% gaan wees teenoor die vorige maand se raming van 10,31%.
Die realiteit is dat die primakoers waarskynlik vir eers op die huidige vlak van 10,5% gaan bly omdat die Reserwebank eers wil sien wat met die rand gebeur en watter invloed dit op inflasie gaan hê.
Die groot risiko van ’n kredietafgradering is dat buitelandse beleggers Suid-Afrikaanse effekte kan verkoop, wat opbrengskoerse sal verhoog en dit moeilik sal maak vir die regering om sy verpligtinge te finansier. Dit lyk egter nie of die ekonome nou al ’n grootskaalse uitvloei van kapitaal verwag nie, want hulle voorsien nou ’n kleiner tekort op die lopende rekening as in die vorige maand. Die jongste voorspelling is ’n tekort van R159,7 miljard teenoor die vorige maand se R161,21 miljard.
Suid-Afrikaanse staatseffekte in rand se kredietgradering is nog nie afwaarts aangepas nie en die groot uitvloei sal waarskynlik eers begin as dié effekte se kredietgradering ook rommelstatuts kry, wat nie in die nabye toekoms verwag word nie. Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie