Ekonomie bloei lu00e1nkal
Ekonomie bloei lu00e1nkal

Ekonomie bloei lánkal

Hoewel die privaat sektor reeds in 2015 teen tanende ekonomiese groei begin waarsku het, was Namibië amptelik salig onbewus van flikkerende gevaarligte.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Ekonomiese groei het reeds in 2015 skerp begin tuimel sonder dat dit deur amptelike syfers weerspieël is, toon nuwe data wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is.

Die NSA se jongste syfers is op die bestendige pryse van 2015 gebaseer. Hiervolgens het die ekonomie in dié jaar met 4,5% gegroei – aansienlik laer as die 6,1% wat tot dusver deur NSA-statistiek aangedui is en wat op bestendige pryse van 2010 geskoei was.

In oorleg met die aanbevelings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) herbaseer die NSA die land se nasionale rekeninge elke vyf jaar, het die statistikus-generaal, mnr. Alex Shimuafeni, gister gesê. “Dit is goeie internasionale praktyk dat die skattings van nasionale rekeninge elke vyf jaar, indien nie elke jaar nie, herbaseer word,” het hy gesê.

Volgens die nuwe syfers was Namibië reeds in 2016 in ‘n resessie. Die ekonomie het toe met -0,3% gegroei en nie met 1,1% soos voorheen bereken nie. In 2017 het die bruto binnelandse produk (BBP) met -0,1% gegroei en beter gevaar as die -0,9% soos vorige NSA-syfers.

Luidens die NSA se jongste somme was Namibië níé verlede jaar in ‘n resessie nie. Anders as die -0,07% wat tot nou toe aanvaar is, het die ekonomie met 0,34% gegroei.

Dit is hoofsaaklik te danke aan ‘n beter as verwagte vertoning van sekondêre nywerhede soos vervaardiging. Geskoei op 2010-pryse het die sekondêre sektor in 2018 met -3,37% gegroei. Volgens 2015-pryse was dit 0,12%.

KWARTALE

Namibië is tans egter opnuut in ‘n resessie, toon die NSA se jongste kwartaalsyfers.

Hiervolgens het die ekonomie in die derde kwartaal met -0,8% op ‘n jaargrondslag gegroei, heelwat beter as die harde bene wat in die eerste ses maande van vanjaar gekou is.

Herbaseerde syfers toon groei van -3,6% en -2,9% in die eerste en tweede kwartale onderskeidelik. Volgens die ou data was dit -2,9% en -2,6% onderskeidelik.

Klein- en groothandel, een van die swaargewigte van die ekonomie, het die afgelope kwartaal met -5,4% gegroei. Dit is die sektor se elfde opeenvolgende kwartaal in die rooi.

Die enigste ander sektore wat in die derde kwartaal in resessie was, was mynbou, vervoer en berging, asook onderwys en gesondheid.

RESESSIEVRY

Volgens die NSA kon konstruksie die afgelope kwartaal uit resessie loswikkel en het dit met 20% gegroei. Syfers geskoei op 2010-pryse het ononderbroke negatiewe groei sedert die eerste kwartaal van 2016 getoon. Die nuwe berekeninge wys positiewe groei vir die laaste kwartaal van 2017, asook die eerste twee kwartale van 2018.

Landbou en bosbou is ook nie meer in ‘n resessie nie, luidens die jongste syfers. Dié sektor het in die derde kwartaal met 1,5% gegroei nadat dit in die eerste twee kwartale vanjaar met onderskeidelik 8,3% en 29,3% ingekrimp het.

Staatsadministrasie het ook vir die eerste keer in ‘n jaar positief vertoon met groei van 0,8%.

Jaar-op-jaar groei vir die ander sektore die afgelope kwartaal was: Visserye (1,4%), vervaardiging (0,3%), hotelle en restaurante (2,9%), inligting en kommunikasie (5,2%), finansiële intermediasie (1,5%), asook eiendom en professionele dienste (7,5%).

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!