Ekonomie: Hou sand uit wiele

Die ekonoom Dawie Roodt en ander kenners het beraadslaag oor maniere waarop die land uit sy ekonomiese krisis gelig kan word.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Dubbele belasting, soos belasting op dividende en belasting op kapitaalwins is immoreel en gaan nié die ekonomie laat groei nie.

'n Ekonomie is die somtotaal van die transaksies in 'n land en hoe meer struikelblokke in die weg van transaksies tussen mense geplaas word, hoe minder rykdom word geskep.

“Trouens, om meer belastings in te stel, gooi sand in die wiele van die ekonomie.”

Dít was gister die bekende en kleurryke Suid-Afrikaanse ekonoom, mnr. Dawie Roodt, se raad oor wat gedoen moet word om uit die verlammende effek van die resessie in Namibië te ontsnap.

Hy is deur die Namibië Instituut vir Professionele Rekenmeesters (Nipa) genooi om bekommerde sakelui oor die vooruitsigte vir Namibië toe te spreek. Volgens dié instituut is sy lede tans die ooggetuies van hoe groei in Namibië afneem en besighede gedwing word om hul deure te sluit.

Roodt, die hoofekonoom by die ­Efficient Group, sê om die ekonomie te laat groei, moet die regering dit vir mense makliker maak om transaksies aan te gaan.

“Hoe meer die transaksies, hoe groter die welvaart wat geskep word.”

Verder moet die koste van tran­saksies verminder word sodat dit vir mense makliker is om sake te doen, sê hy.

Hy het verwys na die situasie in Suid-Afrika en gesê die afgelope dekade was die mees verwoestende tyd ooit vir dié land se ekonomie.

“Die impak van staatskaping op die ekonomie was verwoestend. Só ook die uitwerking van swak bestuur. Eskom is net 'n skaduwee van wat dit voorheen was.”

Roodt sê dié elektrisiteitsvoorsiener se dreinerende las het die Suid-­Afrikaanse ekonomie met 10% verklein.

Hy het gewaarsku dat Namibië hieruit moet leer en nie dieselfde pad stap nie.

Op 'n vraag uit die gehoor het hy gesê die regering het die ekonomie in 'n bloeitydperk geoorstimuleer en noudat die land in 'n resessie verkeer, is hy “sonder ammunisie”.

Hy meen ook voor sakevertroue nie verbeter nie, gaan Namibië nie van die pap ekonomie ontsnap nie.

Mnr. Brian Black, voorsitter van die Vervaardigersvereniging van Namibië, wat later saam met Roodt en ander paneellede vrae beantwoord het, meen die antwoord lê in 'n kleiner openbare sektor. Verder meen hy baantjies vir boeties moet end kry en die regering moet ophou om in infrastruktuur te belê wat nie onmiddellike ekonomiese voordele inhou nie.



BELEGGINGSWET

Mnr. Steve Galloway, sakekonsultant en voormalige voorsitter van Business Namibia, was ook aan die woord en het verduidelik watter stappe die afgelope twee jaar deur bekommerde sakelui gedoen is om te verhoed dat die wysigingswetsontwerp op beleggingsbevordering in Namibië (Nipa) soos dit op 31 Augustus 2016 deur die parlement aanvaar is, op die wetboeke geplaas word.

Business Namibia het as belangegroep 'n komitee aangestel om met die regering oor dié wetsontwerp, asook oor die voorstelle in die Nuwe Gelyke Ekonomiese Bemagtingsraamwerk (NEEEF) te onderhandel.

Galloway sê dié omstrede wetsontwerp was drakonies en die doelwitte nie duidelik en deursigtig nie.

“Ons het voorstelle gemaak vir hoe dit aangepas moet word om buitelandse beleggers (FDI) te lok en besigheidsgroei in Namibië te bevorder.”

Die kabinet het die veranderde wetsontwerp vandeesweek in beginsel goedgekeur en dit na die kabinetskomitee vir wetgewing verwys.

Dié komitee sal dit met aanbevelings na die kabinet terugverwys voordat dit in die parlement ter tafel gelê word.

Me. Yvonne Dausab, voorsitter van die Kommissie vir Wetshervorming en Ontwikkeling, het as paneellid benadruk NEEEF is 'n uitgemaakte saak en gaan beslis die lig sien.

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer