Ekonomie ontdooi bietjie vir bietjie
Jo-Maré Duddy – Namibië mag tegnies uit ‘n resessie wees, maar die ekonomie is steeds bykans N$5 miljard armer as sy piek in 2015.
Data wat gister deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, toon die ekonomie het in die derde kwartaal met 2,4% gegroei. In die vorige een was hersiende groei 3,0%. Twee opeenvolgende kwartale van positiewe groei beteken Namibië het tegnies uit die kloue van die resessie ontsnap.
Die laaste keer toe Namibië aan die akademiese vereistes vir resessievry voldoen het, was toe dit in die eerste drie kwartale van 2018 positief gegroei het. Jaarlikse ekonomiese is egter sedert 2016 in die rooi met ‘n gemiddelde koers van -1,9%.
Namibië se reële bruto binnelandse produk (BBP) die afgelope kwartaal was bykans N$32,5 miljard. Hoewel dit N$765 miljoen méér is dié van die derde kwartaal in 2020 is, is die jongste BBP-syfers nietemin van die swakste die afgelope 23 kwartale.
Die reële BBP het sedert die begin van die resessiesiklus in 2016 in nog net vier kwartale minder as N$33 miljard beloop. Vóór dit het die reële BBP in die derde kwartaal in 2015 op N$37,4 miljard gepiek. Die gemiddelde BBP sedert die begin van 2016 is sowat N$35,3 miljard per kwartaal.
SEKTORE
Visserye, toerisme, asook vervoer en berging het nou minstens twee opeenvolgende kwartale van positiewe groei agter die rug.
Hotelle en restaurante, ‘n maatstaaf vir toerisme, het die afgelope kwartaal jaar-op-jaar (j/j) met 19,5% gegroei. Die sektor het in reële terme N$617 miljoen tot die BBP bygedra, N$101 miljoen méér as dieselfde tydperk in 2020. Dit skiet egter ver tekort vergeleke die N$968 miljoen in die derde kwartaal van 2018.
Mynbou het met 41,9% gebult en sowat N$3,3 miljard in die ekonomie ingepomp – ‘n styging van N$984 miljoen j/j. Dit is egter steeds minder as die piek van N$3,7 miljard in die derde kwartaal van 2018.
Visserye het vir ‘n BBP-vangs van sowat N$1,1 miljard gesorg, N$21 miljoen of 1,9% meer j/j. In dieselfde kwartaal in 2019 was dié sektor se bydrae bykans N$1,3 miljard.
STUKKEND
Konstruksie het met -43,7% j/j gegroei, die grootste inkrimping sedert die laaste kwartaal van 2016. Dié sektor het die afgelope kwartaal N$417 miljoen in die ekonomie gestort, N$324 miljoen minder as die ooreenstemmende kwartaal in 2020 en ‘n fraksie van die N$1,1 miljard in 2016.
Groot- en kleinhandel, tradisioneel ‘n ekonomiese swaargewig, lê steeds in ‘n sloot. Vuisvoos verbruikers beteken dié sektor kon die afgelope kwartaal net sowat N$2,7 miljard tot die BBP bydra, N$18 miljoen of 0,7% minder j/j.
Vóór die resessie het die sektor in die derde kwartaal in 2015 meer as N$4,3 miljard in die ekonomie ingepomp. Groot- en kleinhandel kon sedert 2016 nog net vier kwartale positief groei, drie daarvan in dié jaar.
Vervaardiging bly gedemp. Sy BBP-bydrae van sowat N$3,4 miljard het j/j met N$990 miljoen of 2,6% ingekrimp en kom nie naby die N$4,6 miljard van die derde kwartaal in 2018 nie.
Die sektor vir finansiële dienste is opnuut ‘n slag toegedien. Met ‘n reële BBP-bydrae van N$2,3 miljard het dié sektor j/j met sowat N$282 miljoen of 10,9% ingekrimp. In die derde kwartaal van 2019 het dit meer as N$3 miljard geïn.
Belasting op produkte, wat belasting op toegevoegde waarde (BTW) insluit, het die afgelope kwartaal vir sowat N$1,6 miljard in die ekonomie gesorg, N$128 miljoen or 7,3% minder j/j. Vergeleke met die derde kwartaal in 2015, het dié sektor se bydrae tot die BBP met bykans 47% getuimel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie