Ekonomie toe nie só kruppel

Namibië se BBP verlede jaar was meer as N$109,7 miljard, bykans N$1,2 miljard meer as dié van 2015.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy



Die sowat N$879 miljoen méér as verwag wat verlede jaar in Namibië gevloei het, het die land se hersiende ekonomiese groeisyfer vir 2016 van 0,2% tot 1,1% opgestoot.

Die finale nasionale rekeninge wat gister deur die Namibië Stati­stieke-agentskap (NSA) uitgereik is, toon die land se bruto binnelandse produk (BBP) – gemeet aan die konstante pryse van 2010 - was bykans N$109,75 miljard in 2016. Die NSA se voorlopige syfers van vroeër vanjaar het 'n BBP van sowat N$108,87 miljard aangedui.

Die finale BBP-syfer vir 2016 is N$1,175 miljard hoër as dié van die vorige jaar.

Ondanks effe beter vertonings toon die primêre en sekondêre sektore steeds negatiewe groei. Danksy hoër syfers van veeboerdery en metaalerts het die primêre sektor verlede jaar met net 2% ingekrimp, vergeleke met die voorlopige -2,4%. Veeboerdery het met 2,3% gegroei en metaalerts met 0,2%. Voorlopige syfers hiervoor was 0,2% en -1,2% onderskeidelik.

Die sekondêre sektor het verlede jaar met -7,8% gegroei teenoor die voorlopige syfer van -10,4%. ­Vervaardiging en konstruksie was onder meer vir dié hupstoot verantwoordelik. Waar groei van 1,2% aanvanklik vir vervaardiging aangedui is, staan die finale syfer op 3,4%. Konstruksie se voorlopige groei was -29,5%, terwyl die finale syfer -26,5% is.

Geldgewys beteken dit vervaardiging en konstruksie saam het verlede jaar sowat N$537 miljoen meer in die ekonomie ingepomp as wat aanvank­lik gedink is: N$357 miljoen deur vervaardiging en N$180 miljoen deur konstruksie. Gemeet teen die konstante pryse van 2010 was vervaardiging se finale bydrae tot 2016 se BBP sowat N$10,4 miljard, terwyl konstruksie s'n bykans N$5,54 miljard was.

Die tersiêre sektor se finale groeisyfer is 3,9% teenoor die voorlopige 3,4%. Hier het veral die staatsdiens en toerisme 'n rol gespeel. Aanvanklik is 'n groeisyfer van 1,4% vir hotelle en restaurante bereken, maar dit is nou tot 5,1% verhoog. Dié subsektor se finale bydrae tot die BBP het met N$120 miljoen tot sowat N$2,25 miljard gestyg.

Reuse- begrotingsbesnoeiing het groei in die staatsdiens- en verdedigingsubsektor lamgelê. Die finale syfer van 3,3% is egter 'n verbetering op die aanvanklike 2%. Geldgewys was die finale bydrae van die subsektor sowat N$12,08 miljard, ongeveer N$150 miljoen meer as die voorlopige berekening.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer