Ekonoom: Rand loop deur, en ons betaal hoë prys
Volgens ’n onafhanklike kenner word die rand verder ondermyn deur ondeurdagte beleidsverklarings soos grondonteiening sonder vergoeding.
Ulrich Joubert - Die swakker rand raak ons almal, soos ons verlede week weer gesien het toe brandstofpryse weer eens gestyg het.
Elke liter wat ons nou koop, veroorsaak dat minder geld beskikbaar is vir ander behoeftes. Kan ons hoop dat dit dalk die laaste van die stygings is, of gaan die rand verder verswak terwyl die internasionale olieprys stabiel bly?
Fed verhoog korttermynkoerse
Die Federale Reserweraad (Fed), Amerika se sentrale bank, verhoog sy korttermynrentekoerse sedert Desember 2015. Volgens aanduidings gaan die koerse vanjaar nog twee keer styg en in 2019 dalk nog drie keer, telkens met 25 basispunte.
Dit is omdat Amerika tans volle indiensneming ervaar met ’n werkloosheidskoers van minder as 4% en ’n groeikoers wat vanjaar net minder as 3% kan wees. Die Fed beskou ’n werkloosheidskoers van 5% as “volle indiensneming”.
Die verwagting is dat groei ook in 2019 voortgesit sal word – moontlik in ’n stadiger tempo – en die Fed meen dus dat inflasie in die volgende maande bo sy mikpunt van 2% sal wees.
Om te voorkom dat die inflasiekoers, wat tans 2,2% is, skerp styg – wat skerper rentekoersverhogings noodsaak – maak die Fed monetêre beleid geleidelik strammer.
Hierteenoor is die aanduidings dat inflasie in die eurosone en in Japan nog lank kan sukkel om die 2%-mikpunt van hul onderskeie sentrale banke te oorskry.
Die jongste aanduidings is dat korttermynrentekoerse in die eurosone nie voor middel 2019 sal styg nie en dié in Japan nie voor 2020 nie.
Omdat die gaping tussen Amerikaanse en Europese asook Japanse korttermyn-rentekoerse al hoe groter word, was die verwagting dat die dollar sedert die einde van 2015 sou versterk.
Maar van 2015 tot 2017 het die dollar in die algemeen teenoor ander geldeenhede verswak. Dit was omdat daar meestal gefokus is op die groter wordende tekort op die staatsbegroting asook die voortgesette tekort op die lopende rekening van Amerika.
Die situasie bly onveranderd, maar skielik het sentimente vanjaar verander en versterk die dollar teenoor alle geldeenhede.
Hoekom?
Omdat daar nou gefokus word op die groter wordende gaping tussen Amerikaanse rentekoerse en dié van Europa en Japan.
Omdat die dollar versterk en Amerikaanse rentekoerse styg, word veral geldeenhede van ontluikende lande verkoop omdat verwag word dat dié lande dit moeiliker sal vind om hul buitelandse skuld te vereffen — veral indien dit in dollar betaal moet word.
Twee lande wat veral hierdeur geraak word, is Argentinië en Turkye.
Dreigende handelsoorlog
Intussen het die dreigende handelsoorlog tussen Amerika en die res van die wêreld, maar veral met sy groot handelsvennote, ook ’n al hoe groter impak op internasionale finansiële markte.
Die onsekerheid wat hierdeur geskep word, het veral twee gevolge: eerstens dat beleggers en spekulante na die veiligheid van staatseffekte in meestal die groot nywerheidslande en Switserland vlug en tweedens dat ontluikende lande weer eens vermy word.
Ontluikende lande word vermy weens vrees dat hulle aan die kortste ent sal trek indien die wêreldekonomie verlangsaam weens ’n handelsoorlog.
Daar word ook gevrees dat die Chinese ekonomie weens sanksies en die impak van ’n handelsoorlog flouer as verwag kan groei en dat dit die uitvoer van kommoditeite van die ontluikende lande na China kan benadeel.
Saam met baie ander ontluikende lande se geldeenhede verswak die rand tans teenoor die meeste geldeenhede van die ontwikkelde lande.
Die rand is dikwels nog baie wisselvalliger omdat die steeds goed ontwikkelde plaaslike finansiële stelsel internasionale beleggers en spekulante in staat stel om vinnig in en uit ons plaaslike finansiële markte te beweeg.
Wanneer risiko’s ontstaan, verswak die rand dikwels oormatig en versterk dit weer oormatig wanneer hierdie risiko’s verskans is.
Die verswakking van die rand is veral merkbaar teenoor die dollar, wat teenoor feitlik alle geldeenhede versterk.
As die verwagting is dat die dollar oor die volgende 12 tot 18 maande verder sal versterk vanweë stygende Amerikaanse rentekoerse, moet ons ook aanneem dat die rand in dié tydperk nóg verder teenoor die dollar kan verswak.
Rand word ondermyn
Dat die rand soms oormatig verswak, kan natuurlik meebring dat die rand van tyd tot tyd teenoor die dollar versterk om enige oormatige beweging te neutraliseer.
Ongelukkig word die rand verder ondermyn deur ondeurdagte beleidsverklarings soos grondonteiening sonder vergoeding of dat ’n nasionale gesondheidsorgversekeringsplan ingestel sal word sonder dat die finansiële implikasies daarvan eers bepaal is.
Verder benadeel die onsekere politieke klimaat ook die plaaslike finansiële markte in dié sin dat dit internasionale beleggers en spekulante afskrik om hier te kom sake doen.
Intussen bly die internasionale olieprys op hoë vlakke.
Indien die rand swak vertoon, kan die brandstofprys oor die volgende maande selfs verder styg.
Hopelik bedaar die vrese oor die dreigende handelsoorlog en die gepaardgaande negatiwiteit oor ontluikende lande mettertyd en stabiliseer die rand op sterker vlakke.
Laasgenoemde is grootliks afhanklik van groter beleidsekerheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie