Eksamen 'nie 'n mooi prentjie'
Eksamen 'nie 'n mooi prentjie'

Eksamen 'nie 'n mooi prentjie'

Sowat N$4 miljard is nodig om die openbare gesondheidsektor op standaard te bring.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Net drie uit meer as 400 mediese studente het 'n onlangse eksamen vir internskappe geslaag.

Die betrokke eksamen word deur die Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCNA) aangebied.

Dié skoknuus is Woensdagaand tydens 'n paneelbespreking bekend gemaak waar die agteruitgang van die openbare gesondheidsektor onder die loep geneem is.

Mnr. Ben Nangombe, uitvoerende direkteur van gesondheid en maat­skaplike dienste, wat ook 'n paneellid was, het gesê dit is “nie 'n mooi prent­jie nie”, en toon iets skort.

Volgens hom word dit nou deur die ministerie en die HPCNA ondersoek.

Die registrateur van die HPCNA, mnr. Cornelius Weyulu, wou by navraag nie oor die eksamenuitslae kommentaar lewer nie.

Op 'n vraag uit die gehoor oor waarom Namibiërs “met belastinggeld” steeds vir ses jaar na lande soos China en Kuba vir mediese studies gestuur word, selfs al sou hulle met hul terugkeer nie bevoeg genoeg wees nie, het prof. Filemon Amaambo, dekaan van die Universiteit van Namibië (Unam) se mediese skool, gesê die betrokke partye het nie “reg van die begin af saam beplan nie”.

“Dit word nie goed gekoördineer nie. Ons stuur studente na lande waar die opleidingsprogram vir plaaslike toestande ontwerp is. Wanneer hulle terugkeer, moet hulle weer by Namibiese toestande aanpas. Daar is nog 'n pad om te stap om ons hulpbronne te koördineer,” het hy gesê.

Amaambo het gesê plaaslike gegradueerdes van die mediese skool moet in die openbare én private sektor diens doen.

“Dit is eties korrek en die regte manier om dit te doen.”

Volgens hom het die mediese skool private geriewe en praktyke begin betrek. Hy het gesê geen enkele hospitaal in die land is ideaal vir opleiding op alle gebiede nie, maar elkeen het verskillende sterkpunte.

Met verwysing na die mediese skool het Amaambo gesê “die talent is hier en hopelik kan ons voortdurend verbeter en 'n betekenisvolle bydrae lewer”.

Volgens hom kan die sowat 70 dokters wat die skool jaarliks oplewer 'n groot bydrae lewer om klinieke op te gradeer waar net verpleegsters aan diens is.

Hy het dit as “'n tragedie” beskou dat sommige mense goeie diens met reuserekeninge vereenselwig.

“Ons het in die openbare sektor ook uitstekende professionele lui. Die meeste van hulle het onvoldoende hulpbronne tot hul beskikking. Waartoe hulle in staat is, is nie altyd onmiddellik sigbaar nie.”

Nangombe het gesê 'n klomp geld word aan die openbare gesondheid­sektor bestee, maar dit lewer nie die nodige resultate nie.

Vervolgens is sowat N$4 miljard nodig om die sektor om te keer. Hy sê ook daar is tans sowat 17 500 geregistreerde gesondheidspraktisyns in die land, met 63% wat in die private sektor diens verrig.

“Dit laat die oorblywende persentasie oor om 80% van Namibiërs te versorg wat op die openbare gesondheidsektor staatmaak,” het hy gesê.

Met verwysing na bedrog by Psemas is 'n “ingewikkelde hervormingsproses” onderweg.

“Die koste is onvolhoubaar en daar is 'n noodkreet vir verbetering.”

Met verwysing na die voortdurende tekorte aan medikasie en toerusting het Nangombe gesê die ministerie het vir vrystelling van die ministerie van finansies gevra om aankope van meer as N$5 miljoen te kan doen sonder om die Sentrale Verkrygingsraad se toestemming eers te vra.

Die groen lig is hiervoor gegee op voorwaarde dat die ministerie aankope direk van die verskaffer af doen.

“Mense vra waarom koop ons by buitelandse verskaffers, maar daar is niemand in Namibië nie,” het hy gesê.

Hy het voorts verwys na sogenaamde skootrekenaarverspreiders wat aflewerings nie betyds doen nie, en gesê die ministerie wag soms tot 703 dae vir 'n aflewering.

Ook vra die verskaffers dikwels veel hoër pryse.

Volgens Nangombe het hy nou opdrag gegee dat 'n bestelling gekanselleer word indien dit nie binne ses maande afgelewer is nie.

Nangombe het beklemtoon “ons weet waar die probleme lê” en gesê die ministerie werk daaraan.

“Soms is ons eie stelsels ons eie ondergang.”

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer