Eksminnaars gaan lank boet

Dis 'n hartelose en egosentriese mens wat voorgee om oor haar man se dood te rou, terwyl sy geweet het sy en haar destydse kêrel het hom vermoor, sê die hof.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die verhouding tussen die drie mense was soos die aantrekking tussen 'n mot en 'n vlam.

Die gevolge was ewe rampspoedig: Nes die vlam vir die mot het sy haar man en haar minnaar onder die vaandel van liefde gebruik – die een het met sy lewe geboet en die ander moet die prys vir moord betaal.

Só het regter Christie Liebenberg gisteroggend in die Windhoek-hoërhof gesê toe hy Rachel Rittmann (49) lewenslank tronk toe gestuur het vir haar aandeel in haar man, mnr. Rudolph “Loffie” Rittmann, se moord in 2013.

Liebenberg het Rachel se ekskêrel, Rhyno du Preez (35), 30 jaar tronk toe gestuur vir sy aandeel daarin.

Dat dié grumoord op Gobabis voorafbeplan en weens gierigheid gepleeg is, het teen die ­eertydse minnaars getel, het Liebenberg gesê.

Hulle is onlangs aan die moord op Loffie, sameswering om dié moord te pleeg en regsverydeling skuldig bevind.

Rachel is ook aan die steel van haar man se selfoon skuldig bevind.

Liebenberg het gesê die feit dat Rachel en Loffie as ­getroude paartjie in 'n huishoudelike ­verhouding was, was ook ver­swarend.

Maar, het die regter gesê, die voormalige minnaars se persoonlike omstandighede het ­duidelik verskil – Rachel was die meesterbrein en Du Preez het die moord fisiek gepleeg.

Du Preez het berou getoon en die waarheid vertel, terwyl Rachel verkies het om die hof te mislei en haarself as slagoffer uit te beeld, het Liebenberg gesê.

“Die hof het egter bevind die belange van die samelewing en die manier waarop die misdaad gepleeg is, weeg veel swaarder as die persoonlike omstandighede van die beskuldigdes. ­Derhalwe moes lang tronkvonnisse opgelê word.”

Vir sameswering is elk van die twee drie jaar gevangenisstraf opgelê, terwyl Rachel vir die diefstal van haar man se foon 'n verdere een jaar opgelê is.

Die eertydse liefdesduifies het elk agt jaar vir regsverydeling gekry.

Liebenberg het gelas die vonnisse vir sameswering en diefstal moet saam met dié vir moord uitgedien word en die helfte van die straf vir regsverydeling – vier jaar – moet ook met die moordvonnis saamloop.

Luidens 'n familielid van Loffie, wat ter strafverswaring getuig het, het albei sy ouers kort ná die voorval beroertes gehad.

Hiernaas sukkel Loffie se twee kinders – 'n seun (19) en 'n dogter (12) – en die res van die familie om afsluiting te vind.

Du Preez het destyds vir Loffie met 'n mes toegetakel wat Rachel in die egpaar se kombuis gaan haal het.

Hulle het die moordtoneel opgeruim waarná Du Preez Loffie se lyk in die oorledene se bakkie vervoer het en tussen Windhoek en Gobabis met die oorskot daarin van die pad laat loop en aan die brand gesteek het.

Die eertydse paartjie is op ­Lentedag 2013, sowat agt dae ná die moord, onder die komberse in 'n huis in Otjomuise in Windhoek in hegtenis geneem.

Die moord is sonder twyfel 'n ernstige oortreding, het Liebenberg gesê.

Dat Rachel eers voorgegee het om 'n besorgde vrou te wees op soek na haar verdwene man, én in die geheim met haar minnaar ontmoet het terwyl sy geweet het hulle het haar man vermoor, dui op 'n hartelose en egosentriese mens, het Liebenberg gesê.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!