Ekspat-taks: Hier is jou opsies
Ekspat-taks: Hier is jou opsies

Ekspat-taks: Hier is jou opsies

Suid-Afrikaners wat in ’n jaar meer as 183 dae in die buiteland werk, hoef nie belasting op buitelandse inkomste te betaal nie.
Francois Williams – Met die nuwe bedeling vir belasting op buitelandse inkomste van Suid-Afrikaners wat in Maart 2020 in werking tree, skarrel belastingadviseurs en emigrasiekonsultante om mense van advies te bedien.

Intussen het die nasionale tesourie belowe om administratiewe haakplekke uit te stryk voordat die nuwe bedeling in werking tree.

Wat is die huidige situasie?

Suid-Afrikaners wat in ’n tydperk van 12 maande in totaal meer as 183 dae in die buiteland werk en vir ’n aaneenlopende tydperk van 60 dae buite die landsgrense gewerk het in dié tydperk, hoef nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) belasting te betaal op die buitelandse inkomste nie.

Dit het meegebring dat mense wat in plekke soos Dubai gewerk het, géén inkomstebelasting op hul buitelandse inkomste betaal het nie.

En van Maart 2020 af?

Vanaf Maart sal hulle wel belasting moet betaal op buitelandse inkomste van meer as R1 miljoen.

Twee maniere

Lameez Arendse, ’n belastingvoldoeningskonsultant by RSM Suid-Afrika, het in ’n artikel op Fin24 verduidelik Suid-Afrikaners kan op twee maniere dié las verlig.

Eerstens kan hulle aansoek doen vir belastingverligting ingevolge ’n dubbelbelastingooreenkoms, maar dit sal slegs werk as daar wel so ’n ooreenkoms tussen Suid-Afrika en die betrokke land is waarin die persoon gewerk het.

’n Dubbelbelastingooreenkoms beteken dat jy nie in twee lande op dieselfde inkomste belas sal word nie, of dat jy net die verskil moet betaal tussen die belastingkoers in die buiteland en die koers in Suid-Afrika.

Die aansoek vir verligting ingevolge ’n dubbelbelastingooreenkoms is redelik ingewikkeld, sê Arendse, en vereis die hulp van ’n belastingkenner. Dit moet geëis word via die ITR12-belastingvorm.

Die SAID het ’n volledige lys lande en die status van dubbelbelastingooreenkomste op sy webwerf.

Tweedens, waar daar nie ’n dubbelbelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en die betrokke land bestaan nie, kan die persoon buitelandse belastingkrediete eis vir belasting wat reeds in die buiteland betaal is.

Dié proses kan tot kontantvloeiprobleme lei, want die belasting moet eers betaal word en daarna kan dit teruggeëis word, ook deur die ITR12-belastingvorm.

Belastingjare kan verskil en dit maak dit ingewikkeld om die krediete te bereken. Dit word aanbeveel dat jy ’n belastingkenner nader.

Finansiële emigrasie

Die ander opsie wat belastingkenners voorstel vir Suid-Afrikaners wat baie geld in die buiteland verdien, maar gewoond was daaraan om tot dusver min of geen belasting daarop te betaal, is om finansieel te emigreer.

Melanie Browne, spesialis in finansiële emigrasie by Tax Consulting SA, verduidelik dié proses is wanneer iemand homself amptelik as ’n nie-inwoner vir belasting- en valutabeheerdoeleindes aanteken.

Dit is ’n formele proses wat deur die SAID en die Suid-Afrikaanse Reserwebank gedoen moet word. Dit is ’n proses wat wys dat jy van plan is om permanent buite Suid-Afrika te bly.

Dit behels ’n aansoek by die SAID via ’n MP336(b)-vorm waar al jou oorblywende bates en laste in Suid-Afrika verklaar moet word. ’n “Goedgekeurde handelaar”, oftewel die bank van jou keuse, moet aangewys word. Net dié bank word dan goedgekeur om ’n lys te hou van al jou plaaslike bates en net via dié bank kan jy geld of plaaslike inkomste na die buiteland skuif.

Jy sal nie meer plaaslike krediet- of debietkaarte mag hê nie.

Mites oor die proses

Browne verduidelik dit is nie nodig dat mense wat finansieel emigreer hul Suid-Afrikaanse paspoort prysgee, al hul Suid-Afrikaanse bates moet verkoop of nie meer ’n Suid-Afrikaanse bankrekening mag hê nie.

Dit is ook nie so dat iemand wat finansieel geëmigreer het, nie meer ’n belastingopgawe by die SAID hoef in te dien nie. Die persoon sal steeds enige plaaslike inkomste, byvoorbeeld die huurinkomste uit ’n plaaslike eiendom, moet verklaar.

Eers as jy kies om wel al jou bates soos bankrekeninge, eiendomme, aandele, trusts en polisse te sluit en te gelde maak en die geld oorsee skuif, kan jy via ’n formele proses by die SAID deregistreer as ’n Suid-Afrikaanse belastingbetaler.

Browne beklemtoon finansiële emigrasie is ’n reuse-proses, maar dit beteken nie jy is dan afgesny van Suid-Afrika nie. Jy bly ’n Suid-Afrikaanse burger en kan steeds die land met jou Suid-Afrikaanse paspoort besoek en jou Suid-Afrikaanse bates behou.

Die uiteinde is bloot dat jy nie dan meer enige belasting aan die SAID sal hoef te betaal op enige van jou inkomste wat jy in die buiteland verdien nie.

Jy moet oorsee werk

Let egter daarop dat jy nie permanent in Suid-Afrika kan woon en werk én finansieel emigreer nie - dis nog ’n mite wat die ronde doen.

Vir mense wat binne vyf jaar ná finansiële emigrasie dié proses probeer omkeer, sal die SAID dit beskou as ’n mislukte emigrasie en jy sal dan belas word op die verskil tussen belasting wat jy oorsee betaal het en wat jy plaaslik sou betaal het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!