Ekstra brandstofheffing kan maande lank geld
Die Suid-Afrikaanse departement van energie verseker verbruikers hy is nié doelbewus besig om hulle te melk nie.
Hanlie Stadler en Francois Williams – Die balansheffing (Slate levy) op die diesel- en petrolprys wat in November inskop, gaan na verwagting ’n hele paar maande geld.
Die departement van energie verseker verbruikers egter hy is nié doelbewus besig om hulle te melk nie.
In November kom die heffing daarop neer dat die petrolprys onveranderd bly pleks van daal, terwyl die dieselprys met sowat 50c per liter styg.
Mashudu Sinthumule, adjunkdirekteur van die brandstofprysmeganisme by die departement, sê die balansheffing was nog altyd deel van die formule waarvolgens brandstofpryse bereken word. Dis nie ’n nuwe ding nie.
Die heffing was egter die afgelope jare 0c per liter omdat die maandelikse oor- en onderverhalings op die brandstofpryse die kumulatiewe balansrekening (Slate-rekening) gesond gehou het.
Die balansheffing moet egter in November ingestel word weens die skerp stygings in brandstofpryse sedert Maart vanjaar – pryse het sewe maande in ’n ry onverpoos gestyg.
Sinthumule sê die heffing word nié net ingestel omdat die volle onderverhaling van die petrolprys nie in September aan verbruikers deurgegee is nie – dit is sewe maande se probleem wat nou nie meer uitgestel kan word nie.
Wat is die balansheffing?
Brandstofpryse word in Suid-Afrika een keer per maand vasgestel, maar brandstofmaatskappye voer daagliks brandstof in teen wisselende pryse.
As hulle oor die loop van die maand in die ope mark méér vir brandstof moet betaal as wat hulle plaaslik verdien, kan hulle aan die einde van die maand ’n eis teen die balansrekening instel om hulle hiervoor te vergoed.
In September het Jeff Radebe, minister van energie, aangekondig die petrolprys styg met net 5c per liter pleks van die onderverhaling van 28c per liter.
Die verskil is tydelik deur brandstofmaatskappye as ’n soort subsidie gedra. Die volle waarde van die subsidie was volgens Radebe sowat R400 miljoen.
Brandstofmaatskappye is reeds vir September terugbetaal, het Avhapfani Tshifularo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfsvereniging (Sapia), onlangs gesê.
Die balansrekening is egter R2,2 miljard in die rooi weens die stygings in brandstofpryse die afgelope jaar. Die heffing moet eintlik van krag word wanneer die balansrekening minstens R250 miljoen in die skuld is.
Die Sentrale Energiefonds het Maandag bekend gemaak die petrolprys vir November bly onveranderd – ondanks ’n oorverhaling van 23c per liter op die petrolprys in die oorsigmaand vir November.
’n Balansheffing van 21,92c per liter beteken die prys daal nié vir die eerste keer in agt maande soos verwag is op grond van die onderverhaling nie.
Die groothandelprys van diesel styg met onderskeidelik 48c of 51c per liter vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% en 0,005%. Dit behels die onderverhaling plus die balansheffing.
Gas word 61c per kilogram goedkoper. Paraffien word 37c per liter duurder. Dié twee brandstowwe is nie aan die balansheffing onderhewig nie.
Hoe lank gaan die heffing geld?
Volgens Netwerk24 se berekeninge gaan dit minstens vier tot vyf maande duur voordat die balansrekening weer tot R250 miljoen in die skuld verminder word.
Die som lyk só:
· Nagenoeg 1,94 miljard liter petrol en diesel word elke maand in Suid-Afrika verkoop, volgens die departement van energie se syfers.
· Dit beteken die balansheffing van 21,92c per liter gaan nagenoeg R417 miljoen per maand invorder.
· Dit sal dus tot 4,6 maande duur voordat die R2,2 miljard waarmee die balansrekening in die skuld is tot R250 miljoen gekrimp het. Omdat die departement van energie net een keer per maand pryse aanpas, sal hierdie heffing straks minstens vyf maande geld.
· Dit is tensy daar nie verdere skerp stygings in brandstofpryse kom nie.
Sinthumule wou hom nie uitlaat oor hoe lank die heffing sal geld nie omdat daar soveel onvoorspelbare faktore is – veral die rand-dollar-wisselkoers en internasionale oliepryse.
Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en bestuurswetenskappe, sê groter deursigtigheid met brandstofpryse is dringend noodsaaklik om aan verbruikers groter sekerheid te gee.
Netwerk24 verneem die Automobiel-Assosiasie (AA) is ontstoke omdat hy nie in kennis gestel is dat ’n balansheffing ingestel gaan word nie en verbruikers ingelig het oor ’n potensiële daling van 16c per liter op die petrolprys.
Netwerk24 doen sedert September navraag oor die balansheffing, maar die departement van energie wou niks bevestig nie. Op 26 Oktober het ons verbruikers wel gewaarsku: “Ontleders vrees die staat se balansrekening is byna uitgeput en sal aangevul móét word. As dit in November gedoen word, is dit neusie verby met ’n daling in die petrolprys.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie