Elektronika op vlugte verbied
Elektronika op vlugte verbied

Elektronika op vlugte verbied

Estelle de Bruyn
Geen elektroniese toestel groter as 'n selfoon mag aan boord van vlugte van sekere Moslemlande na

die VSA of Brittanje geneem word nie.

Dit sluit tablet- en skootrekenaars, draagbare DVD-spelers en kameras in.

Sulke toestelle moet in die vliegtuig se bagasieruim vervoer word.

Die twee lande het dié beperkings Dinsdag ingestel vir vlugte van lughawens in Moslemlande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Die maatreëls is ingestel ná berigte dat militante groepe ploftoestelle binne-in elektroniese toestelle wil insmokkel.

Hoewel Amerikaanse burgerregtegroepe meen dis moontlik nog 'n poging van pres. Donald Trump om reisigers se beweging aan bande te lê nadat sy twee pogings om 'n reisverbod in te stel op mense van sekere Moslemlande deur die hof ongeldig verklaar is, het Brittanje ook so 'n maatreël ingestel.

'n Woordvoerder van Theresa May, Britse premier, sê elektroniese toestelle wat passasiers van ses lande in die Midde-Ooste aan boord mag neem, word beperk. Die maatreëls sal môre in werking tree.

Die verbod sal vir die “afsienbare toekoms” geld en kan na ander lande en lughawens uitgebrei word, sê 'n Amerikaanse staatsamptenaar.

Die besluit het niks te doen met Trump se pogings om 'n reisverbod op mense van ses Moslemlande in te stel nie, sê Amerikaanse amptenare.

Militante groepe is bekend om innoverende bomontwerpe, soos

om bomme in rekenaars te plaas, sê hulle.

Die Amerikaanse maatreël sal ingestel word op lughawens in Kaïro, Istanboel, Koeweitstad, Doha, Katar; Casablanca, Marokko; Amman, Jordanië; Riaad en Djedda in Saoedi-Arabië, en Dubai en Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate.

Die Britse beperking geld vir vlugte van Turkye, Libanon, Jordanië, Egipte, Tunisië en Saoedi-Arabië.

'n Bom wat in 'n skootrekenaar versteek was, het verlede jaar 'n gat in 'n vliegtuig in Somalië geskiet, maar die vliegtuig het nie neergestort nie.

Sommige kundiges bevraagteken die sukses van die verbod en wys op besorgdheid dat litiumbatterye in talle elektroniese toestelle in die bagasieruim aan die brand kan raak. 

- Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer