Elemotho se vurige boodskap
Die Kalahari-seun toer die wêreld vol met 'n musikale boodskap oor menslikheid.
Elemotho Gaalalekwe Ricardo Mosimane is 'n Namibiër wat musiek vir die wêreld maak.
Musiek waarvan die wêreld net nie genoeg van kan kry nie.
Maandag 4 Junie het hy gehoor sy nuutste album, Beautiful World, is gekies as nommer een in die kategorie “Best World/Global Fusion Album” vir 2017. Dít deur die Verenigde Koninkryk (VK) se internetradiostasie oneworldmusic.co.uk.
Ons onderhoud is daardie selfde oggend, en hy stap met reg propvol selfvertroue in by die koffiewinkel in Windhoek. Hy glimlag van oor tot oor, sit en beduie vir die personeel om sy espresso in 'n spesifieke koppie te gooi. Hulle ken hom.
Elemotho het die afgelope naweek by die Namibië Toerisme Ekspo in die hoofstad sy splinternuwe liedjie, “Fire Maker”, bekend gestel in 'n vuurwarm vertoning saam met medemusikant Samuel Batola.
Batola, Raymond Casinda en Fernando Paulus is deel van die groep Modern Nomads saam met wie Elemotho pas die jaar se Kalahari Invocations- Europese toer afgesluit het.
“Ek is bly om nog relevant te bly in die era van musiekvideo's op YouTube waar meer as 'n duisend liedjies daagliks opgelaai word. Ek toer nog en ek is bly om daar buite te kom,” sê hy.
Oor die heel nuutste toekenning sê Elemotho dit voel soos 'n hernuwing, om weer jonk te wees.
“Ons doen dit nie vir toekennings nie, maar dit ís 'n hupstoot. Die VK is 'n groot wêreldmusiektoneel en ek is opgewonde om daar te gaan toer,” sê hy.
Die musikant wil graag sy boodskap, wat sy ontstaan in Namibië het, na die ore van die wêreld neem. Dít kom van kleins af.
Klein vuurmaker
Elemotho praat graag oor sy kinderdae en die wortels van sy menswees wat diep in die sandveld van die Kalahari na aan Tshaka gebêre is.
Daar het hy met bok, bees en kampvuur op die plaas Panda grootgeword. Sy gunstelingherinneringe is van sit om die kampvuur saam met ouma Selo Mogotsi en na stories luister.
“Fire Maker” met sy boodskap om die vuur nie te laat uitbrand nie, is 'n liedjie ter ere van ouma Selo, sy familiestam en sy mense, sê hy.
“Skrik wakker, staan op, maak jou bed op,” is die vertaling van die Engelse woorde van die liedjie wat volgens Elemotho ook as herinnering vir almal moet dien: “Die vuur brand binne in jou, moet dit nie laat doodgaan nie!
“Vuur is 'n groot ding vir my. Die oorspronklike lig. Dit is heilig, al kom jy van waar. Ek maak vandag nog gereeld vuur. As mens vuur maak, verstaan almal dit en dit lok hulle. Dit is ook simbolies, en dit neem my terug na my jeug,” sê hy.
Elemotho se jeug was vergesel van 'n klankbaan, soms verskaf deur nomadiese San-kitaarspelers wat destyds van plaas tot plaas gestap het, en veral aangelok was deur die hoë gehalte bier wat sy ouma sou maak. Meestal was dit die radio wat 'n verskeidenheid frekwensies kon opvang en klein Elemotho aan verskillende musiek kon blootstel.
“Ek onthou een keer moes ons 'n gat grou en daar kom toe 'n San-kitaarspeler aan. Ons bied hom iets aan om te help grawe, maar hy weier en stel voor hy speel liewer vir ons terwyl ons werk. Op die ou einde het dit so vir almal beter uitgewerk,” vertel hy.
Uit die bosveld en na die hoofstad is die seun van die aarde skool toe gestuur, na Döbra waar hy by die St. Joseph Katolieke Skool godsdiens beter leer ken het.
“Vir my was dit 'n hele ander werklikheid,” onthou hy.
“In Döbra het ek 'n goeie opvoeding gekry, en dit was buite Windhoek, so ek kon die natuur besoek en boeke lees. Daar het ek Engels geleer. Voor dit het ons net Setswana gepraat,” sê hy.
Daar het hy ook ander Namibiërs leer ken. “Dit was net nadat my ma oorlede is, en met die val van apartheid het ek ander Namibiërs gesien en geleer Wamboes is nie so donker soos wat ons vertel is nie,” sê hy.
Later, by die Universiteit van Namibië (Unam), was dit mnr. Chris Mbereuia wat Elemotho behoorlik aan musiek voorgestel het. “Hy het gehou van trom slaan en het my saamgeneem na 'n oefensessie. Daar het ek saamgesing en toe die groepleier wou weet wie gesing het, was ek onder die indruk ek het hul liedjie bederf. Toe sê hy 'sing saam!' ” vertel hy.
Op universiteit het Elemotho kitaar begin leer speel, maar nie die kursus voltooi nie. “Ek was 'n rebel, maar ek het baie geleer en ek berou niks nie,” sê hy. Boonop het hy daar van sielkunde en Afrika-filosofie geleer, wat tot vandag 'n groot invloed op sy musiek het. Saam met die Unam-koor het hy ook geleer van vertonings reël, die besigheid van musiekorganisasie, en om 'n stem vir die jong Namibiese nasie te vind.
“Ek het toe besluit om musiek te maak wat stories vertel wat saakmaak,” sê hy.
'System is a joke'
In die jaar 2000 kom Elemotho na vore met sy eerste oorspronklike album, The system is a joke.
“Jou eerste album maak jou of breek jou. Ek is dankbaar vir die hele impak daarvan.” Dit lei tot 'n drie maande lange toer in Amerika wat vroeg die reisgogga laat byt, en sedertdien was daar nie 'n jaar wat Elemotho nie die wêreld met sy Namibiese boodskap ingevaar het nie.
Daardie eerste poging het die verskeidenheid temas in sy uitgesproke liedjies blootgestel. Wie kan ”Ganja from Okahandja” vergeet? Veral die liedjie “Kgala !Namib” het 'n merkwaardige bydrae tot toerisme in Namibië gelewer.
Teen 2008 reik Elemotho die album Human uit, ná 'n paar jaar in Noorweë waar hy nuwe respek vir regverdigheid, harde werk, nederigheid en die koue geleer het. Met sy terugkeer na Namibië het hy met topkunstenaars in die bedryf begin saamwerk. Saam met sanger Ermelinda Thataone, tromspeler Salex Haraseb, fluitspeler Polina Loubnina, basspeler Erwin Gaweseb, Christopher West op perkussie, saksofoonspeler Hu-De San, Emmanuel Karumazondo op mbira en die kongas, Stefanus Ndanjokora die klavierspeler en Samuel Batola het hulle die opvolg saamgestel.
Wouter de Bruyn het die klank gemeng vir Human en die vennootskap het voortgeduur met Elemotho se komende albums. Andrew Weir het die ontwerp gedoen op die versameling wat deur die ondersteuning van die Franko-Namibiese Kultuursentrum in Windhoek moontlik gemaak is.
Sy jaarlikse toerskedule het teen die tyd uitgebrei, met bestemmings soos Wene in Oostenryk en die suide van Spanje waar hy by groot musiekfeeste soos Ekspo Zaragotha gespeel het. In 2009 was dit sy kans om 'n bietjie van Afrika eerstehands te sien, met toere na plekke soos Suid-Afrika, Zanzibar en Uganda. 2010 het hy 'n kwartet gelei op 'n groter toer van Europa waarheen hy ten minste een keer per jaar terugkeer. Liedjies soos “Politics of the belly”, “Bright Sun”, “New Year” en “Sweet” is plaaslik én in die buiteland baie gespeel.
Nuwe benadering
Dit was ook die jaar toe sy vrou en bestuurder, Silvia, geboorte gegee het aan hul eerste seun, Neo, wie se aankoms die inspirasie was vir Elemotho se volgende treffer, “Ke Nako”, wat beteken 'dit is tyd'.
“Dit was tyd vir 'n verandering, 'n tyd om na 'n ander deuntjie te dans, 'n skuif in die rigting van die wind,” onthou hy. Die liedjie sou later in 2012 vir Elemotho die RFI-France Discoveries-prys besorg.
Ook op dieselfde album is die liedjies “Neo” en “La Vida” wat herkenning op Netflix se reeks Grace and Frankie geniet. Daarna het Elemotho ook 'n kontrak met ARC Music onderteken, wat gelei het tot die album My Africa, saamgestel uit liedjies van System is a joke en Human.
Sy sukses en internasionale roem is gebou op die liefdevolle verhouding met vroulief Silvia, wat hy eenvoudig beskryf as “my koningin.”
Hy sê sekere waarhede is net op jouself toepaslik. “Sy is die persoon met wie ek rol. Ons is baie op die paaie of is ons by die huis besig met kinders grootmaak.”
Neo se vierjarige broer, Pau, voltooi die huisgesin van reisigers wat gereeld by familie in Silvia se tuisland, Spanje, of buite Gobabis op Epikiro of die plaas gaan kuier.
“Bo musiek is familie, en as ek klaar gespeel het, gaan ek huis toe. Silvia en ek was lank saam voor ons getrou het. Sy wou eers nie my bestuurder wees nie, maar ons help mekaar en ons doen pragtige werk saam, dinge wat ander produksiemaatskappye 20 of 30 mense sou verg om te doen.
“Ons sê altyd ons sien die getroude lewe anders. Die ring is 'n ritueel, maar hoe mens voel, is groter as dit. Enige verhouding vat tyd, jare. Om verlief te raak, is 'n illusie, maar om lief te wees en om lief te bly, dit is die groter ding. Ons is vriende wat tyd saam deurbring. Mens moet praat, deel, en dit vars hou met respek, liefde en eenheid.”
In 2013, as deel van die RFI-prys, kon Elemotho behoorlik deur Afrika toer, met 24 lande op die skedule en wat in Parys, Frankryk, geëindig het.
Teen dié tyd het Elemotho al saam met 'n wye verskeidenheid Namibiese en internasionale musieksterre opgetree, onder wie UB40, Johnny Clegg, Ismael Lo, Vusi Mahlasela, Busi Mhlongo, Habib Koite, Salif Keita, Erica Badu, The Wailers en Yossou N'Dour.
Dit het gelei tot die album Beautiful World, wat sedert 2014 hom na groot musiekfeeste soos WOMAD in Engeland, die Windhoek Jazzfees en die New World Music Festival in Kaapstad geneem het.
Een van die liedjies op die album is “Black Man” wat hy as “sterk” beskryf: “Dit is harde liefde. Soms het mens 'n wakkerklap nodig. As 'n swart man is die liedjie ook vir my 'n verklaring, maar dit gaan ook oor die toestand van die swart man hier by die huis. Kyk na sekuriteitswagte en wat hulle verdien. Die lied het baie betekenis en kan sinspeel op verskeie vlakke, oor die swart man en oor die swart ras,” sê hy.
“Vryheid vir almal of geen vryheid nie,” is een van die reëls in “Black Man”.
Ander liedjies op die album sluit in 'n ou Setswana-begrafnisliedjie, “Sediegi”, “Coming”, sy eerste blues-tipe liedjie, en “Remember” waarin hy selfs rap- en hip hop-legende Nas as inspirasie gebruik het. Daar is ook die “Ega Lo Itse” wat gaan oor “hoe ons oordeel sonder om te weet waaroor, en hoe ons ook nie vra nie,” verduidelik Elemotho.
Namibië
“Ek is baie spesifiek oor my kuns, en ook die gesproke woord. Ek het eers as 'n digter begin, voor ek begin musiek maak het,” sê hy.
Die intense aandag aan wat gesê word, spruit uit sy standpunt dat 'n mens moet praat. “Mens moet hard praat en iets sê as mens iets sien. Moet ook nie agter onderdrukking skuil of ander blameer terwyl ons het wat ons het nie. Dit is almal se skuld,” sê hy.
“Praat, sing, skryf oor die huidige stand van die samelewing, die wêreld waarin ons lewe, die tye wat ons deurmaak. Ek glo ons kan meer doen, baie meer, om mekaar te wys ons kan beter doen, omdat ons 'n verlede het, en dit beteken verantwoordelikheid om te sorg almal is na omgesien en betrokke,” sê hy.
Wat Namibië betref, sê Elemotho die mense sien nie mekaar nie, maar kyk liewer weg.
“Namibië is 'n land wat baie dinge gesien het, en nog baie wonde probeer genees. Indien nie, sal die wonde begin vrot, en sal stink. Deur my musiek vra ek wie ons as 'n nasie is; ek soek nasionale harmonie.
“Die illusie van vrede is nie vrede nie. Hoekom in 'n land van 2,5 miljoen kan ons nie regte behuising, opvoeding en dies meer regkry nie? Ons het tyd, maar die tyd loop uit.
“Die wond raak al hoe erger soos dit vrot, en die uitbarsting sal kom, met vuur en bloed en gebreekte bene. Ons probleme is ons eie en ons moet hulle self hanteer,” sê Elemotho.
“Ons dilemma is ons hanteer nie ons eie kwessies nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie