Elf meer renosters in 2018 gestroop

Meer renosters en olifante is verlede jaar aan die hand van stropers gedood as in 2017.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Verlede jaar is altesaam 57 renosters en 26 olifante gestroop, met 120 verdagtes wat in verband met wildmisdaad in hegtenis geneem is.

Elf meer renosters is in 2018 gestroop teenoor die 46 in 2017, en twee meer olifante as die 24 in 2017.

Volgens mnr. Colgar Sikopo, die direkteur van nasionale parke en wildlewe in die ministerie van die omgewing en toerisme, is die meeste renosters verlede jaar op private plase rondom die Etosha Nasionale Park en die Otjozondjupa- en Kunenestreek gestroop. Hy het gesê die 26 olifante is almal in die streke Kavango en Zambezi gestroop.

"Vanjaar is tot dusver een swartrenoster gestroop en geen olifante nie," het Sikopo gesê.

Hy het dié statistieke gister tydens die ontvangs van teenstropery-toerusting ter waarde van N$6,8 miljoen van die Amerikaanse regering in Windhoek verskaf.

Die minister, mnr. Pohamba Shifeta, het gesê tydens die geheime bedrywighede van Operasie Blue Rhino is groot suksesse behaal, met 120 verdagtes wat in verband met wildmisdaad van renosters, olifante en ietermagogs in hegtenis geneem is.

"Die gekombineerde magte van die Namibiese weermag, polisie en die ministerie se teenstroperyeenheid fokus meer op die voorkoming van stropery," het Shifeta gesê.

"Die verdagtes is gevang met AK47's, jaggewere, ammunisie, pangas en byle en die meeste inhegtenisnemings volg ná wenke van die publiek," het die minister gesê.

"Ons magte is op die grond en weet wie die hanteerders is. Hulle maak winkels rondom Etosha, Opuwo, Kamanjab, Outapi en Oshikango onder valse voorwendsels en onder die dekmantel van stropery oop," sê Shifeta.

Hy sê jong, werklose mans word deur die hanteerders misbruik om die land se ikoniese spesies te stroop.

"Sommige van die 120 verdagtes is geharde misdadigers wat reeds op borgtog vrygelaat is. Hierdie geharde misdadigers verdien om agter tralies te wees."

Shifeta het 'n beroep op staatsaanklaers en landdroste gedoen om te verseker dat misdadigers wat al meer as een keer weens wildmisdaad in hegtenis geneem is, nie op borgtog vrygelaat word nie.

Hy het ook bevestig dat staatsaanklaers en landdroste van die Kavango-Zambezi-oorgrensgebied (Kaza) vandag (Dinsdag) met regsopleiding oor wildmisdaad gaan ontvang: "Ons wil nie vir regslui vertel hoe om hul werk te doen nie, maar sommige van hulle weet nie eens hoe 'n ietermagô lyk of wat die waarde daarvan is nie."

Die Amerikaanse regering het deur sy buitelandse militêre finansieringsprogram (FMFP) vir biodiversiteit teenstroperytoerusting ter waarde van N$6,8 miljoen aan die ministerie geskenk. Dit behels 65 pare laeligverkykers geskik vir skemertoestande, asook GPS-toestelle, kamptoerusting, toerusting vir die ondersoek van misdaadtonele en voertuie, wat later afgelewer sal word.

"Die Amerikaanse regering het tans projekte van meer as US$20 miljoen (sowat N$300 miljoen) wat vir natuurbewaring en die voorkoming van wildmisdaad in Namibië aangewend word," het die Amerikaanse ambassadeur, me. Lisa Johnson, gesê.

"Die Amerikaanse regering is verbind daartoe om nou saam met die Namibiese regering te werk om stropery en wildsmokkelary te stop," het Johnson gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!