Elke asemteug u2019n stryd
Elke asemteug u2019n stryd

Elke asemteug ’n stryd

Dis ’n geluid wat soos ’n goue draad deur die sale dreun waar Covid-pasiënte op ventilators, hoëdruksuurstof en selfs masjiene vir slaapapnee lê en vir hul lewens baklei.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Dis die konstante geluid van suurstof wat verbete asem pomp, wat bybly as jy die persoonlike beskermende toerusting (PPE’s), masker en handskoene in ’n bondel afstroop en buite in die son diep asemteue intrek. Want jy kan.

Erger as die vrees vir die virus wat families uitmekaar skeur en geliefdes steel, is dat jy iemand gaan herken in een van die beddens langs ventilators en suurstofmasjiene wat konstant raas vir elke bietjie asem.

Onder die 56 pasiënte, post-Covid ingesluit, is meer as twee hande vol wat die “wondermiddel” ivermektien gebruik het. Dit maak dit soveel moeiliker, sê een van die saalsusters, om juis hulle weer op die been te kry, want daar is soveel ander skade. Brein, lewer, hart.

In die een saal staan ’n jong man, geklee in sy toga en hoed met sy selfoon in sy hand en wys vir sy ouma wat klein voor hom lê, hoe hy virtueel graad vang. Ménse, oumas, oupas, ouers, vriende en ja, ook tieners, een 16, die ander 19. Alleen, sonder ’n ma of ’n pa se hand.

In die hospitaal wat Republikein besoek het, is die hele noodeenheid met 15 beddens omskep in ’n Covid-saal, want die pasiënte is eenvoudig te veel.

“Met die Here se genade hanteer ons hulle (noodgevalle) maar so tussendeur in een kamer en met een bed, ” sê ’n suster.

Donderdag het die betrokke hospitaal 1,8 ton suurstof gebruik, die maskers en konstante “blaas” van suurstof en ventilators die tekens van die nood waarin pasiënte verkeer.

Agt CPAP-masjiene wat gebruik word om slaapapnee te behandel deur ’n stroom suurstofryke lug deur middel van ‘n masker en ‘n buis in jou lugweë te blaas, is inderhaas aangekoop en omskep om te probeer help met die ventilators wat eenvoudig te min is.

Tans het die hospitaal 14 ventilators wat vir pasiënte gebruik word wat ernstig siek is.

Die eerste twee golwe het glad verloop, sê ‘n saalsuster, “maar nou is die ouens werklik siek en ons kry hulle nie beter nie; daar is van hulle wat weke hier lê.”

Dis nie soos ‘n gewone trauma-eenheid nie, waar jy iemand versorg en hy gaan huis toe nie, erken sy.

“Die weeklikse sterftes is erg; jy raak mos maar geheg aan die pasiënt en die personeel kry swaar. Môreoggend kom jy terug en die bed is leeg. Jy is angstig as jy werk toe kom, want jy weet nie wat deur die nag gebeur het nie.

“Die personeel werk 12 uur-skofte byvoorbeeld van Vrydag tot Sondag en is konstant op hul voete.

“Teen Sondagmiddag lyk hulle soos robotte as hulle hier rondstap.”

Ses tot sewe personeel versorg 15 pasiënte, maar ook dié verhouding is nie ’n gegewe nie.

“Jy is baie akuut betrokke, want jy moet van hulle help badkamer toe gaan. Jy moet hulle optel, want hulle is moeg, moeg moeg.”

Irma Kudumo was verlede jaar een van die hospitaal se eerste gesondheidswerkers wat positief getoets het. Sy onthou die vrees vir die onbekende en die angs om nie te weet wat om te verwag nie.

Toe was dit meestal ouer mense en dié met onderliggende mediese toestande wat geraak is, maar nou is mense erger sieker en meer sterf.

“Nou maak dit nie meer saak hoe oud jy is nie; dit raak die hele nasie.”

Soos soveel van die gesondheidswerkers hier pleit sy dat mense hulself moet laat inent. “Jou kanse om ernstig siek te raak en op ’n ventilator te beland, is net soveel minder.”

Daisy vertel: “In die lokasie volg ons die verkeerde inligting. Ek het in Damara op die radio gaan vertel ons moet die entstof vat. Al het jy die beste mediese fonds, beteken dit nie jy gaan in die beste hospitaal – of enige hospitaal – plek kry nie.”

Vir Dimitri Isaacs wat in die Covid-ICU werk, is dit hartverskeurend om “jou beste te probeer om ’n pasiënt se lewe te red, maar dis vrugteloos.”

“Jy sien op ’n daaglikse grondslag hoe mense baklei vir suurstof en sukkel om asem te haal.”

Hy is moedeloos, erken ’n dokter, oor mense wat steeds glo die antwoord lê in die gebruik van ivermektien.

“As dit gewerk het, was dit wonderlik. Ek verstaan eenvoudig net nie hoe mense dit kan glo nie. Ek het dokters in Suid-Afrika met wie ek konsulteer wat dit mag voorskryf en dit doen as families daarop aandring, maar hulle weet dit maak nie ’n verskil nie.”

Mense glo dit beskerm hulle en daar is niks anders nie.

“Dan ontplof dit en hulle eindig in die hospitaal.”

In die post-Covid-saal lê pasiënte wat nie meer aansteeklik is nie, maar steeds op suurstof en ventilators lê. Hier word dié wat kan, geleidelik gespeen, met een pasiënt wat al tot 64 dae hier deurgebring het.

“Van die pasiënte kom ná 14 dae van die huis af hierheen, want hulle word nie gesond nie. Hulle sukkel met voeding, hul niere gaan staan, hul breine swel en hulle raak deurmekaar. Dan sedeer ons hulle,” sê ’n saalsuster.

Die speen is ’n stadige proses, verduidelik sy, want die pasiënt se longe is “baie, baie siek”.

“Suurstof is ook ’n ‘drug’ en word voorgeskryf. Die speen is ’n stadige proses; dis hoekom hulle so lank hier bly.”

Sy raak baie geheg aan die pasiënte, vertel die hoof van dié eenheid.

“Elke oomblik is spesiaal. Emosioneel het die siekte ‘n geweldige impak op die pasiënte. Jy moet inkom met ‘n motivering van ‘nou gaan ons bad, nou gaan ons eet’. Daarom het ons ‘n multi-dissiplinêre span wat ‘n kliniese sielkundige, fisio- en arbeidsterapeut insluit.”

Take wat ons as normaal aanvaar, is vir dié pasiënte ’n geweldige inspanning, sê sy.

“Vir jou vat dit sekondes om jou hemp vas te knoop, vir hom vat dit tien minute. Enige aktiwiteit is geweldige inspanning. Ons bad nou en dan rus hulle vir twee ure.”

Haar werk bly haar passie. Sy weet waar haar beperkinge is en wanneer om terug te staan.

“Jy druk jouself totdat jy nie meer kan nie en dan moet jy uit die situasie klim, dan moet jy ‘nurse’ wees. Ons is ’n baie goeie span, hulle kla oor absoluut niks en ek vat alles uit hulle uit. Ons moet heeltyd ‘n stappie voor bly, want as jy nou los, is dit verby. Maar ons is almal saam in hierdie ding.”

Ook sy beaam die verwoestende en langdurige uitwerking op pasiënte wat ivermektien gebruik het.

“Die proses is soveel langer om hul beter te kry, want hul organe – brein, lewer – word beïnvloed. Jy moet nou iets opgeklaar en het dit net reg, dan is daar weer ’n ander probleem. Jy bons heeltyd ‘n balletjie.”

Sy vertel van een pasiënt wat by die dood omgedraai he. “Ons het hom deur alles gekry, alle hulpbronne gebruik” om hom soos van die enkeles “hier uit te kry”.

“En hy verkies steeds eerder om ivermektien te gebruik as om homself te laat inent. Dit maak my geweldig moedeloos.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer