‘Elke dag ’n belewenis’
Skilder, skryf, sing en kitaar speel is steeds deel van ’n eeuoue Namibiër se lewe.
Tanja Bause – “Ek is nog fiks en gesond. Ek kan nog lees, skryf en skilder. Kook kan ek ook nog, maar ek sal nou nie daaroor vuisslaan nie.”
Só sê me. Heide Baufeldt, wat haar 100ste verjaardag op 12 September gevier het.
Heide is in Duitsland gebore en het haar eerste skooljaar in Bremen, Duitsland, voltooi. Op sewejarige ouderdom het sy saam met haar ouers, broers en susters na Namibië verhuis.
“Ons het op ’n plaas naby Omaruru gaan bly. My pa het met perde en donkies geboer en ons kinders het die vullens net ná geboorte mak gemaak en ingery, want met ’n wilde donkie kan jy niks maak nie,” vertel sy.
Heide sê sy en haar nege broers en susters het elke perd en donkie ’n naam gegee.
“Ek onthou tot vandag toe nog baie van hulle, want elkeen het sy eie karakter gehad. Ons het nooit perdryklasse geneem nie; ons het eenvoudig op die dier se rug geklim en gery.”
Sy, haar broers en susters en die omliggende plase se kinders het onderrig by verskillende onderwysers op die plaas ontvang.
“Die een onderwyser het getrou en ons moes op Karibib skoolgaan. Ons het in ‘n koshuis gebly. Ons was vir ses maande daar op skool tot daar weer ’n nuwe onderwyser op die plaas was,” sê sy.
In daardie jare het Heide die mondfluitjie, blokfluit en kitaar leer speel – wat sy vandag steeds graag doen.
“Ek speel nou nog my instrumente en sing graag. Ek het oor die 1 000 liedjies in my kop.”
Op haar boekrak staan sewe handgeskrewe liedjieboeke, waarvan sy die meeste uit haar kop ken.
Plaaslewe
Heide se pa, mnr. Alfred Kulenkampff, het twee plase in die Omaruru-omgewing gekoop, en moes in 1944 terug Duitsland toe om in die Tweede Wêreldoorlog te veg.
Haar twee oudste broers was reeds in Duitsland en het ook in die oorlog geveg en later gesneuwel.
Hierná het Heide die bestuur van die twee plase oorgeneem.
Haar daaglikse take het onder meer ingesluit om drade reg te maak, paaie te herstel, kalwers te kastreer, beeste te brandmerk, skape te tel en die melkery te hanteer.
Droogte het haar genoop om met 500 beeste op soek na weiding Noorde toe te trek.
Heide het later weer met al 500 beste terug Omaruru toe getrek.
“Ek kon aan niks beter dink as om op die plaas Okongue te boer nie. Hoewel my ma soms, wanneer ek doodmoeg op die enigste kombuisstoel gaan sit het om my dikmelk te drink, vir my gesê het ek moet myself nie dood werk nie.”
Haar ma, Hedwig, het die hoenderboerdery, tuin en jonger broers en susters versorg en saam was die twee vroue ’n uitmuntende span.
Heide het ook die boekhouding van die plaas by haar pa oorgeneem en saam kon die twee vroue beide plase se skuld afbetaal.
Toe haar pa ná die oorlog terugkeer Namibië toe, was hy skuldvry.
In 1951 het Heide met mnr. Karl-Heinz Baufeldt in die huwelik getree, waaruit drie seuns en een meisie gebore is.
“My ma was ’n huisvrou en het ons kinders grootgemaak. Sy het haar geld met lapverf en skilderye verdien,” sê Heide se seun, mnr. Gerhard Baufeldt.
Kunstenaar
“Op die plaas het ons baie diere gehad en ek het hulle graag geskilder. Ek hou van diere skilder. Ek kan nie aan ’n dag dink wat ek nie geskilder het nie,” sê sy.
Op een Scherenschnitt (’n uitgeknipte silhoeët) wat geraam teen haar muur hang, is Heide baie trots.
“Kyk na die dorings, die blomme en die blare van die takke. Ek het dit alles met ’n skêr uitgeknip en ek is ontsettend trots op die fyn besonderhede – al moes ek my bril gebruik,” sê sy.
Heide skryf ook nog gereeld briewe aan al haar vriende en familie – veral dié in Duitsland.
“Ek het ’n baie lang lewe gehad en elke dag is ’n avontuur en belewenis. Ek kan nie vir jou vertel watter dag uitstaan nie, want daar is ’n 1 000 wonderlike dae.
“Hier waar ek nou is is, is die regte plek vir my,” sê sy.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie