Elon Musk mik vir Mars

Musk se maatskappye het net op tegnologiese meriete alleen al die wêreld verander – in so ''n mate dat elektriese motors ''n kommersiële werklikheid geword het, grootliks danksy Tesla.
Estelle de Bruyn
Elon Musk benewel steeds breine op planeet aarde.

Elke keer wanneer een van sy maatskappye struikel, lyk dit asof dié Suid-Afrikaans gebore entrepreneur net nóg ''n skouspelagtige idee aankondig – ''n kolonie op Mars, ruimtegegronde internet of ''n vervoerstelsel wat teen 1 288 km/h voortsnel – om aan te gryp en/of te verwar.

As medestigter van PayPal is Musk ook die uitvoerende hoof van Tesla, pionier-vervaardiger­ van elektriese motors, en SpaceX, wat vir Nasa vrag na die buitenste ruim vervoer. Hy is ook voorsitter van die direksie van SolarCity, die grootste installeerder van sonkragpanele in Amerika. Hy word bewonder, selfs aanbid, in Silicon Valley. Maar daar en elders begin sommige mense wonder of die wonderkind te veel afgebyt het.

Probeer Musk die aandag aflei van sekere kommerwekkende aspekte van sy maatskappye of is die twyfelaars maar juis net die kortsigtiges wat Musk glo ons almal weerhou van ''n fantastiese toekoms?



Die situasie

Musk se maatskappy is, gemeet aan enige maatstaf, onder druk.

In Mei vanjaar is die bestuurder van ''n Tesla-­sedan­ wat in selfbestuurmodus was, dood in ''n botsing – wat dié tegnologie onder verbruikers en wetgewers se vergrootglas geplaas het.

Tesla, wat rofweg sowat 50 000 motors in 2015 gelewer het en mik om 500 000 per jaar in 2018 te vervaardig, bou ''n reuse-­vervaardigingsaanleg vir batterye in Reno in die Amerikaanse deelstaat Nevada en werk nie net aan die Model 3-motor vir die grootmaatmark nie, maar ook aan elektriese vragmotors en busse.

Hy sukkel egter steeds om genoeg motors vinnig genoeg te produseer om aan die verwagtinge te voldoen.

Musk se oornameplanne van SolarCity het kritiek ontlok en gelei tot hofsake deur aandeelhouers en stuur af op ''n stemming deur aandeelhouers van albei maatskappye.

SpaceX se bedrywighede het op 1 Sptember ''n terugslag ervaar met die ontploffing van sy vuurpyl op die lanseerblad waarvan die oorsaak nog in geheimsinnigheid gehul is. Dit het dié maat­skappy se toekoms in onsekere waters laat beland.



Die agtergrond

Musk en sy broer Kimbal het in 1995 Zip2, ''n aanlyn-uitgewer, gestig en daarna ''n maatskappy wat met ''n mededinger saamgesmelt het om PayPal, ''n digitale betalingstelsel, te skep.

Hy het PayPal in 2002 aan EBay vir ''n allemintige US$1,5 miljard verkoop. Musk het sy aandeel in nuwe waagondernemings teruggeploeg.

Met die finansiële krisis van 2008 het Tesla en SpaceX in 2008 op die rand van bankrot­skap gestaan en is Musk gedwing om geld by vriende te leen.

Terwyl reuse soos General Motors en Chrysler as''t ware boedel oorgegee het, het hy beleggers oortuig om nog meer geld in Tesla te belê.

Daarna het hy die ruimteagentskap Nasa ''n gat in die kop gepraat om SpaceX en sy steeds wankelrige vuurpyle ''n kans te gee.

Ná nog vier jaar van slim ingenieurswerk, geluk en onwrikbare wilskrag, het Tesla en SpaceX redelike stabiele status bereik.

In 2012 het Tesla met die Model S, ''n hoëverrigting- elektriese motor, vorendag gekom wat selfs die petrolkoppe van Detroit oortuig het dat dit dalk een van die beste motors is wat nóg gebou is.

SpaceX het op sy beurt ''n ruimtetuig gelanseer wat by die internasionale ruimtestasie ''n draai gemaak het en SolarCity het op die aandelebeurs genoteer.



Die saak vir en teen

Musk se huidige probleme is veel minder van ''n kopseer as dié wat hom in 2008 in die gesig gestaar het, maar Tesla, SpaceX en SolarCity is nie meer eksperimente nie. Misluk hulle, sal dit duisende werkgeleenthede en miljarde dollar in gevaar stel.

Daarby het SpaceX nie net van kritieke belang vir die Amerikaanse ruimteprogram geword nie, maar ook vir lande en maatskappye oor die wêreld heen wat hoop om satelliete in wentelbane om die aarde te plaas.

Musk se ondersteuners sê hy het genoeg geloofwaardigheid verkry en het genoeg ster-aantrekkingskrag om met gemak genoeg geld bymekaar te maak of deur van sy vele ultra-ryk vriende wat sy drome deel, uit die verknorsing gered te word.

Musk se maatskappye het net op tegnologiese meriete alleen al die wêreld verander – in so ''n mate dat elektriese motors ''n kommersiële werklikheid geword het, grootliks danksy Tesla.

Terwyl SpaceX minder aandag trek, mag dié maatskappy en Musk se rol om die Amerikaanse ruimtevaartbedryf nuwe woema te gee, dalk sy mees treffende prestasie wees.

Maar nes dit lyk asof sy maatskappye op meer standvastige voet staan, maak Musk groter planne, beloof hy meer, wis hy die gemeenskaplike geheue uit van wat hy reeds vermag het. Die vraag is of Musk sal kan voortgaan om op die mespunt van wat moontlik is – die sleutel tot sy sukses tot dusver - te funksioneer? - Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!