Elvis Blue: Hart vir kinders, kelners en kitare

Lloyd Zandberg
Elvis Blue is gebore en getoë in Johannesburg. Hy en sy vrou, Chireze Hoogendyk, het twee dogters, Lila en Jua.

Elvis se passie vir musiek kom van kleins af.

Hy sou as kind sy ma se musiek op ’n Walkman luister tot die batterye pap was.

Op 16 het hy musiek begin maak nadat hy besef het sy loopbaan as kelner gaan nie baie aftrek kry nie. Elvis het besluit om ’n kitaar te koop en deur middel van die internet die instrument leer speel. Hy het op hoërskool oor naweke in Johannesbug se strate musiek gemaak vir ekstra geld sodat hy oorsee kon gaan toer.

Op skool het hy in verskeie musiekgroepe gespeel. Elvis het sy matriek aan Hoërskool Linden voltooi en direk daarna oorsee gegaan en onder meer in Londen en Skotland musiek gemaak.

Nadat hy teruggekeer het Suid-Afrika toe, het Elvis kontemporêre musiek aan die Allenby Campus gestudeer.

Daar het hy op klavier, kitaar, sang en lirieke gefokus. In 2001 neem Elvis sy eerste CD op en tree saam met ander baie bekende musikante soos Just Jinjer, Karen Zoid, Heinz Winkler, Tree 63, Coenie de Villiers en John Ellis op.

Deur die jare het Elvis sewe albums opgeneem. Onder sy regte naam, Jan Hoogendyk, het Elvis twee Afrikaanse CD’s opgeneem. Diep Riviere in 2006 en Ontskemer in 2009. Ontskemer is in 2010 vir ’n SAMA (South African Music Awards) benoem in die kategorie Beste Gospel-album en Diep Riviere het ‘n ATKV Lier in 2007 losgeslaan.

In 2010 neem Elvis deel aan die sesde seisoen van die gewilde Idols South Africa-kompetisie en op 2 November word hy as wenner aangekondig.

Hy het met 64% van die stemme gewen.

Elvis het geskiedenis gemaak toe hy sy prysgeld met die naaswenner, Lloyd Cele, gedeel het.

Sy weergawe van Leonard Cohen se Hallelujah, wat hy tydens die finale gesing het, was op sy debuutalbum as Elvis Blue ingesluit.

Elvis het nog altyd ’n sagte plek vir weeskinders gehad. Weens sy sukses kon hy betrokke raak by die Organisation Life Community Service (LCS) en die lewens van minderbevoorregte kinders in die Wes-Kaap en George verbeter.

Hy het ure elke week met weeskinders gesit en hulle geleer om kitaar te speel. Gevolglik is die Elvis Blue Music Academy gestig en dit is vandag nog op George aktief. In 2011 het die Elvis Blue Music Academy sy deure in die Alexandra- informele nedersetting oopgemaak met die hulp van Elvis se suster, Kona Brown.

Na watter musiek luister jy?

Ek hou van verskillende soorte musiek, maar my gunsteling is altyd dié van liedjieskrywers. Iemand soos Bruce Springsteen was nog altyd ’n gunsteling.

Waar kom die naam Elvis Blue vandaan?

Dit kom van ’n 11-jarige seuntjie af wat ek leer ken het toe my vrou in ’n Hospice in George gewerk het. Hy het uiteindelik aan HIV/Vigs gesterf, maar sy droom was om ook eendag ’n musikant te wees.

Was jy al voorheen in Namibië? Indien wel, wat van hierdie land is vir jou aanloklik?

Ek dink die grootste dinge wat my aantrek, is die spasie en die mense. Mens voel soms jy ry vir ure voor jy by die volgende dorp kom. Sulke tipe spasie het ’n spesifieke soort bekoring.

Wat was die grootste dryfkrag/inpirasie agter jou nuwe album?

Op hierdie album het ek baie geskryf oor verhoudings, iets wat nogal ’n groot rol in my lewe speel op die oomblik. Goeie verhoudings en slegte verhoudings is iets wat almal raak.

Na watter ander plaaslike en internasionale musikante luister jy? Beïnvloed dit jou musiek?

Alle musiek waarna mens luister het ’n invloed op jou. Dit is een van die redes hoekom ek na baie verskillende musiek luister.

Hou jy van lees? Indien ja, wat lees jy tans?

Ek lees The Raggamuffin Gospel. Dis my gunstelingboek en ek het hom al n paar keer gelees en geniet hom nou nog ’n keer.

As dit kom by musikale prestasies, watter een sou jy as die grooste een in jou loopbaan beskou?

Ek dink bloot om ’n loopbaan te hê is vir my ’n groot prestasie en om shows te speel waar daar actually mense is, is n groot voorreg.

As jy eendag ’n biografie moet skryf, wat sal die titel wees?

Ek het nog nooit daaraan gedink nie!

As jy musiek maak, begin jy met lirieke, ’n melodie of byvoorbeeld ’n riff?

Ek begin gewoonlik met lirieke. Ek dra ’n boekie by my en skryf idees daarin neer. En dan hoop mens maar iets gebeur wanneer jy by ’n instrument gaan sit.

Kan jy enige ander instrumente as die kitaar speel?

Klavier en ek blaas nogal op ’n bekfluitjie ook so nou en dan.

Dink jy Idols is steeds ’n goeie platform vir jong, opkomende musikante?

Ja, dit het ’n groot verskil in my lewe gemaak. Ek dink elke mens moet maar vir homself besluit wat hy dink die beste is.

Watter een van jou eie songs spreek die meeste tot jou?

Dis soos om te vra van watter een van my kinders hou ek die meeste.

Is daar iets wat ons nie van Elvis weet nie?

As jy iets van my wil weet wat niemand nog weet nie, sal jy sal iets moet vra wat niemand nog gevra het nie.

Haat jy enigiets?

Ek is nie mal oor mense wat lelik is met kelners en kelnerinne nie. Ek was self vir ’n rukkie ’n kelner.

Hoe voel jy oor klankbane?

Ek dink dit is seker maar elke persoon se keuse wat hy wil doen, maar ek dink tog dit is goed om musikante werk te kan gee. Almal is nie altyd in die posisie om dit te kan doen nie. So, each to his own.

Wat is volgende vir Elvis?

Ek klim nou van ’n vliegtuig af na my Namibië-toer wat nogal lekker was. So, volgende vir my is ’n aand by die huis ná ’n lang tyd weg.

Verkies jy dit om in Engels of in Afrikaans te sing?

Ek dink ek verkies Afrikaans, dit is my moedertaal. Dis die taal waarin ek dink en droom.

As jy ’n song met enige ander kunstenaar, plaaslik of internasionaal, kan doen, met wie sal dit wees en hoekom?

Bruce Springsteen sonder twyfel. Hy is ’n ikoon en ’n legende, en ek is die tipe fan wat hy moet hoop hy nooit sal ontmoet nie!

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!