Emosie dryf manspan na België 2022

MTC het sy rugsteun van N$900 000 vir die manspan aangekondig.
Andrew Poolman
Andrew Poolman en Jesse Kauraisa

Enige vakansieplanne vir Desember is gekanselleer en die MTC Namibiese manshokkiespelers sal alles opoffer om slaggereed te wees en die kans van ’n leeftyd by die Binnenshuise Wêreldbekertoernooi in België aan te gryp.

Die spankaptein en doelwagter, DJ Strauss, sê die Namibiese manspelers is in ekstase en kon nie glo toe die nuus Vrydagoggend breek dat Namibië genooi is om benewens sy reeds gekwalifiseerde vrouespan ook die mans na België te stuur nie.

“Op ons Whatsapp-groep het die ouens eers gedink iemand maak ’n grap met hulle, maar vandat die nuus ingesink het, het die spelers reeds die afgelope naweek met nuwe ywer op die oefenbaan byeengekom,” sê Strauss.

“Mense mag sê ons het nie deur die normale kanale gekwalifiseer nie, maar dit maak nou nie meer saak nie. Ek glo enigiemand sal so ’n kans met albei hande aangryp en glo dis briljante nuus vir Namibiese hokkie,” het die kaptein gister aan die koerant gesê.

As hoofborg van Namibiese hokkie het MTC gister by ’n nuuskonferensie aangekondig dat hy N$900 000 vir die manspan se opbou na die Binnenshuise Wêreldbeker beskikbaar stel. Dié bedrag is benewens die N$1 miljoen wat MTC reeds vir die vrouespan se voorbereiding vir die toer na België toegeken het.

Die Namibië Hokkie-unie het geen gras onder sy voete laat groei toe die uitnodiging hom voorgedoen om sy nasionale manspan ook te stuur nie. Die sport se wêreldbeheerliggaam, die FIH, het plekke vir Namibië en die VSA aangebied ná die onttrekkings van Australië en Nieu-Seeland vanweë reisregulasies wat dié lande se regerings te midde van Covid-19 ingestel het.

By die kontinentale uitduntoernooi in April vanjaar in Durban het die vrouespan die finaal teen Suid-Afrika met 2-0 gewen te danke aan doele deur Caitlin Gillies en Sunelle Ludwig. In die mans se eindstryd was Suid-Afrika egter met 4-1 baas.

Die afrigter van die Namibiese mans, Trevor Cormack, sê die groep was ontroosbaar toe hulle in Durban nie die paal gehaal het nie. Net so kon hy nie die trane van blydskap oor Vrydag se goeie nuus keer nie.

MTC se korporatiewe skakelhoof mnr. Tim Ekandjo het gesê hy het dadelik die opgewondenheid in die stem van die NHU se president, mnr. Reagon Graig, gehoor toe hulle telefonies oor die Wêreldbeker-uitnodiging gesels het.

“Dis wonderlike nuus dat die mans- en vrouespanne beide by die Wêreldbeker sal wees. Ek glo hierdie opgewondenheid moet deurgedra word na die toernooi self. MTC sal ’n ekstra N$900 000 vir die manspan toeken en ons wens hulle alle voorspoed op hul reis toe.”

Graig het gesê as ’n voormalige speler kan hy hom indink watter vreugde die spelers voel. “Vir ’n Namibiese span om by enige Wêreldbeker te wees, is wonderlik. Nou moet ons seker maak dat ons span maksimaal voorbereid is.”

“GEEN MAKLIKE OPPONENT’

Kaptein Strauss sê dis ’n groot uitdaging dat die span geloot is om op die eerste dag van die toernooi teen die wêreld se spanne nommer 2 en 3, Duitsland en Iran, te staan te kom.

“Soos ek vir die spelers ook sê, wie wil Wêreldbeker toe gaan om teen swakker spanne te gaan speel? Dit is elke speler en elke span se droom om hom teen die bestes ter wêreld te meet.”

Strauss sê die span is baie bevoorreg om die rugsteun van MTC aan sy kant te hê.

“Soos ek ’n vorige keer gesê het toe MTC as borg toegetree het: Dit was die eerste keer vandat ek vir Namibië begin speel het, dat die spelers kon gaan toer sonder dat hulle self moes skarrel om met ’n geldbedrag vir die kostes vorendag te kom.

DIE LOTING

Mans, groep A: Oostenryk, Rusland, Tsjeggië, Suid-Afrika, Argentinië.

Mans, groep B: Duitsland, Iran, Nederland, België, Namibië, VSA.

Vroue, groep A: Duitsland, Oekraïne, Tsjeggië, Kazakstan, VSA, Kanada.

Vroue, groep B: Nederland, Belarus, Oostenryk, Namibië, Suid-Afrika, België.

Die Namibiese mans se wedstrydbepalings:

2 Februarie: teen Iran 13:40; teen Duitsland 19:55.

3 Februarie: teen België 12:30; teen VSA 18:45.

4 Februarie: teen Nederland 09:00.

Die Namibiese vroue se wedstrydbepalings:

2 Februarie: teen Oostenryk 10:25, teen Belarus 17:35.

3 Februarie: teen Duitsland 10:25; teen België 19:40.

4 Februarie: teen Nederland 15:05.

NUWE SKOLE

Op die vlak van ontwikkeling fokus die Standard Bank Namibia Junior Hokkie-inisiatief vandeesweek op die bekendstelling van die sport by vier laerskole op Rehoboth (van gister tot môre) en Okahandja (Donderdag en Vrydag).

Afrigtingsklinieke word elke dag vandeesweek vir afrigters en leerders aangebied, met die mikpunt om agt nuwe afrigters en 80 skoolkinders op elk van die dorpe aan hokkie bekend te stel.

Vandat Standard Bank hierdie junior inisiatief vroeër vandeesmaand met ’n allemintige N$1.5 miljoen oor drie jaar van stapel gestuur het, is hokkie reeds by 16 afrigters en 180 leerders in die Khomasstreek (Katutura en Khomasdal) bekendgestel. Ná die besoeke aan Rehoboth en Okahandja vandeesweek sal die projek volgende na Gobabis in die Omahekestreek aanbeweeg (5-7 Oktober).

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!